Mary Louise "Meryl" Streep (gebore 22 Junie 1949) is 'n Amerikaanse aktrise. Sy word beskou as een van die veelsydigste akteurs van haar tydperk en is bekend vir haar tegniese presisie, praat in verskillende dialekte en professionele langlewendheid. Streep het 'n BA in lettere en wysbegeerte en 'n MA-graad in beeldende kuns.
Haar artistieke proses behels dikwels die verfyning van haar karakers se dialoog sodat hulle motiverings 'n sielkundige diepte besit wat bo dié van tradisionele argetipes uitstyg. Benewens haar kreatiewe werk is sy 'n prominente kampvegter vir gendergelykheid, arbeidsbeskerming en 'n teenstander van die invloed van die male gaze, mans wat vroue in rolprente as seksvoorwerpe beskou.
Streep het haar professionele verhoogloopbaan in 1975 begin in Trelawny of the Wells en is die volgende jaar vir 'n Tony benoem vir 27 Wagons Full of Cotton. Sy het in 1977 in haar eerste rolprent, Julia verskyn. In 1978 is sy vir 'n Oscar benoem vir haar rol in The Deer Hunter. Sy het die volgende jaar haar eerste Oscar gewen vir Kramer vs. Kramer. Sy het in die 1980's 'n vooraanstaande aktrise geword met rolle in The French Lieutenant's Woman (1981), Sophie's Choice (1982), Out of Africa (1985) en A Cry in the Dark (1988), waarvoor sy die Cannes-prys vir beste aktrise ontvang het.
Nadat Streep in die 1990's haar rolle uitgebrei het, het sy in die 2000's 'n nuwe vlak van kommersiële sukses behaal met rolle in prente soos The Devil Wears Prada (2006) en 'n sangrol in die blyspel Mamma Mia! (2008). Sy het terselfdertyd groot lof ingepalm vir haar dramatiese vertolkings in rolprente soos Doubt (2008) en The Iron Lady (2011), waarvoor sy haar derde Oscar gewen het.
Die pryse wat sy gewen het, sluit in drie Oscars, agt Golden Globes, twee Baftas, vier Emmys en twee Screen Actors Guild Awards. Sy is 'n ontvanger van die Kennedysentrum-eerbewys, die Cecil B. DeMille-prys en 'n ere-César van Frankryk. In 2014 het sy die Presidensiële Vryheidsmedalje gewen. Sy is meer as enige ander akteur vir 'n Oscar en Golden Globe benoem, onderskeidelik 21 en 34 keer. Sy het oor die jare in meer as 60 rolprente en 18 televisieprojekte verskyn.
Jong lewe thumb|links|180px|Streep as 'n rasieleier op hoërskool (1966). Streep is in Summit, New Jersey, gebore. Haar ma was 'n kunstenaar en haar pa 'n apteker. Streep was op skool in die Cedar Hill- en die Oak Street-skool in New Jersey. Op hoërskool het sy in die toneelstuk The Family Upstairs gespeel. In 1963 het die gesin na Bernardsville, New Jersey, verhuis, waar sy die Hoërskool Bernards bygewoon het. As ’n “lomp kind met ’n bril en kroeserige hare” het sy daarvan gehou om van kleins af in familietuisflieks voor die kamera te pronk.
Op 12-jarige ouderdom is Streep gekies om by ’n skooluitvoering te sing, wat daartoe gelei het dat sy operalesse ontvang het. Ondanks haar talent het sy later opgemerk: “Ek het iets gesing wat ek nie gevoel of verstaan het nie. Dit was ’n belangrike les – om dit nie te doen nie en die ding te vind wat ek werklik kan voel.” Sy het ná vier jaar opgehou. Streep was ’n hoërskoolrasieleier en is in haar matriekjaar as die homecoming queen gekies.
Hoewel sy op skool in verskeie toneelstukke te sien was, het sy nie drama ernstig as loopbaan oorweeg nie, totdat sy in 1969 op universiteit in die toneelstuk Miss Julie gespeel het.
Mary Louise het 'n BA-graad in lettere en wysbegeerte en later 'n MA-graad in beeldende kuns verwerf. Sy was verloof aan die akteur John Cazale, maar hy is in 1978 oorlede ná 'n stryd met kanker. Sy is ses maande later met die beeldhouer Donald Gummer getroud en het vier kinders by hom.
Loopbaan 1970's: Vroeë werk en deurbraak Van Streep se eerste professionele werke in 1975 was by die Eugene O'Neill-teatersentrum se National Playwrights Conference, waar sy oor ses weke in vyf toneelstukke opgetree het. Sy het in 1975 na New York verhuis en is deur Joseph Papp gekies vir ’n produksie van Trelawny of the Wells in die Vivian Beaumont-teater saam met Mandy Patinkin en John Lithgow. In haar eerste jaar in New York het sy nog vyf rolle vertolk, onder meer in Papp se New York Shakespeare Festival-produksies Hendrik V, Die Feeks Word Getem saam met Raul Julia, en Maat vir Maat saam met Sam Waterston en John Cazale.- Sy het in dié tyd ’n verhouding met Cazale aangeknoop en saam met hom gewoon tot met sy dood drie jaar later. Sy het die hoofrol vertolk in die musiekblyspel Happy End op Broadway en ’n Obie gewen vir haar vertolking in die Off-Broadway-toneelstuk Alice at the Palace.
thumb|links|180px|Streep het haar loopbaan in verskeie produksies in The Public Theater begin. Hoewel Streep nie daarna gestreef het om ’n rolprentaktrise te word nie, het Robert de Niro se vertolking in Taxi Driver (1976) ’n diep indruk op haar gemaak; sy het vir haarself gesê: “Dis die soort akteur wat ek wil wees wanneer ek groot is.” Streep het begin oudisies doen vir rolprentrolle. Sy het voortgegaan om op Broadway te werk en het in 1976 verskyn in ’n dubbelprogram van Tennessee Williams se 27 Wagons Full of Cotton en Arthur Miller se A Memory of Two Mondays. Sy is benoem vir 'n Tony vir beste vroulike byspeler in ’n toneelstuk. Streep se ander Broadway-rolle was onder meer in Anton Tsjechof se Die Kersieboord en die Bertolt Brecht-Kurt Weill-musiekblyspel Happy End, waarin sy oorspronklik Off-Broadway verskyn het. Sy is vir albei produksies vir 'n Drama Desk Award benoem.
Streep se eerste rol in ’n rolprent was saam met Jane Fonda in die 1977-fliek Julia, waarin sy ’n klein rol in ’n terugflitstoneel gehad het. Die meeste van haar tonele is egter uitgesny, en die kort tyd op die skerm het die aktrise ontstel: “Ek het ’n slegte pruik gehad en hulle het die woorde uit die toneel wat ek saam met Jane geskiet het, geneem en dit in my mond geplaas in ’n ander toneel. Ek het gedink: Ek het ’n verskriklike fout gemaak – geen rolprente meer nie. Ek haat dié bedryf.” In 2015 het Streep egter gesê Fonda het ’n blywende invloed op haar as aktrise gehad.
thumb|190px|Streep in 1978. De Niro, wat Streep in haar verhoogproduksie van Die Kersieboord gesien het, het voorgestel sy vertolk die rol van sy vriendin in die oorlogsfilm The Deer Hunter (1978). Cazale, by wie longkanker gediagnoseer is, was ook in die prent, en Streep het die rol van ’n “vae, stereotiepe vriendin” aanvaar om gedurende die verfilming by hom te kan bly. Die resensent Pauline Kael het gesê sy is ’n “ware skoonheid” wat baie varsheid na die prent bring met haar vertolking. Die film se sukses het Streep aan ’n wyer gehoor bekend gestel en haar ’n benoeming vir die Oscar vir beste vroulike byspeler besorg.
In die 1978-minireeks Holocaust het Streep die hoofrol gespeel van ’n Duitse vrou wat getroud is met ’n Joodse kunstenaar, vertolk deur James Woods, in die Duitsland van die Nazi-tydperk. Sy het na Duitsland en Oostenryk gereis vir die verfilming terwyl Cazale in New York gebly het. Met haar terugkeer het sy ontdek Cazale se siekte het vererger, en sy het hom verpleeg tot met sy dood op 12 Maart 1978. Met ’n geraamde gehoor van 109 miljoen het Holocaust Streep aan ’n steeds groter publiek bekend gestel, en sy het haarself “op die rand van nasionale bekendheid” bevind. Sy het die Emmy vir beste aktrise in 'n minireeks of rolprent vir haar vertolking gewen. Ten spyte van haar sukses was Streep nog nie geesdrifig oor haar rolprentloopbaan nie en het sy verhoogspel verkies.
Sy het die byrol van Leilah vertolk in Wendy Wasserstein se Uncommon Women and Others in ’n televisieprent van Mei 1978 vir PBS se Great Performances. Sy het Glenn Close vervang, wat die rol in die Off-Broadway-produksie vertolk het. In 'n poging om haar aandag van Cazale se dood af te lei, het Streep ’n rol aanvaar in The Seduction of Joe Tynan (1979) as die opgewekte liefdesbelangstelling van Alan Alda.
Sy het ook die rol van Katherine in Die Feeks Word Getem vir Shakespeare in the Park vertolk.
thumb|links|200px|Streep in 1977. In dieselfde jaar het sy die byrol vertolk van ’n voormalige vriendin wat ’n lesbiese karakter word in Manhattan (1979) vir Woody Allen. Streep het later gesê dat Allen nie vir haar ’n volledige draaiboek gegee het nie, maar net die ses bladsye van haar eie tonele, en dat hy haar nie toegelaat het om ’n woord van haar dialoog te improviseer nie. Vincent Canby van The New York Times het haar vertolking as “pragtig gespeel” beskryf.
In die drama Kramer vs. Kramer saam met Dustin Hoffman is Streep 'n ongelukkig getroude vrou wat haar man en kind verlaat. Streep het gevoel die draaiboek beeld die vroulike karakter as “te boos” uit en het daarop aangedring dat dit nie verteenwoordigend is van werklike vroue wat 'n huweliksbreuk en toesigstryd oor kinders ervaar nie. Die vervaardigers het met haar saamgestem en die draaiboek is hersien. Ter voorbereiding vir die rol het Streep met haar eie ma oor haar lewe as werkende vrou en eggenote gepraat en tyd deurgebring in die Upper East Side, waar die film afspeel en waar sy die interaksies tussen ouers en kinders dopgehou het. Die regisseur Robert Benton het Streep toegelaat om haar eie dialoog in twee belangrike tonele te skryf, ondanks besware van Hoffman, wat haar aanvanklik “gehaat” het.
Die prent was omstrede onder feministe, maar die resensent Stephen Farber het geglo die rol toon Streep se “eie emosionele intensiteit”. Hy het geskryf sy is een van die “skaars vertolkers wat selfs die mees alledaagse oomblikke met ’n sweem van misterie kan vul”. Vir die prent het Streep beide die Golden Globe en Oscar vir beste vroulike byspeler gewen. Sy het ook verskeie ander pryse gewen. Beide The Deer Hunter en Kramer vs. Kramer was groot kommersiële suksesse en opeenvolgende wenners van die Oscar vir beste rolprent.
1980's: Opkoms en roem In 1979 het Streep begin om Alice in Concert, ’n musikale weergawe van Alice se avonture in Wonderland, saam met die skrywer en komponis Elizabeth Swados en regisseur Joseph Papp te ontwikkel; die vertoning is van Desember 1980 af in New York se Public Theater aangebied. Frank Rich van The New York Times het na Streep verwys as die produksie se “een wonder”. Teen 1980 het Streep tot hoofrolle in rolprente gevorder. Sy het op die voorblad van die tydskrif Newsweek verskyn met die opskrif “A Star for the 80s”; Jack Kroll het opgemerk: “Daar is ’n gevoel van misterie in haar spel; sy boots nie eenvoudig na nie (hoewel sy in privaatheid ’n uitstekende nabootser is). Sy dra ’n gevoel van gevaar oor, ’n primitiewe onrus wat net onder die oppervlak van normale gedrag lê.”
Streep het haar vurige mediablootstelling destyds as 'n “oormatige ophef” veroordeel. Die drama van 'n verhaal binne ’n verhaal The French Lieutenant's Woman (1981) was haar eerste hoofrol. Sy en Jeremy Irons was daarin hedendaagse akteurs wat hulle moderne verhaal vertel sowel as die drama uit die Victoriaanse tydperk wat hulle opvoer. In ’n artikel in die tydskrif New York is opgemerk Streep is ’n "verkleurmannetjie" wat bereid is om enige soort rol te vertolk, anders as ander aktrises wat vir hulleself een identiteit skep. Streep het ’n Bafta vir beste aktrise vir haar rol ontvang.
Die volgende jaar het sy weer saam met Robert Benton gewerk aan die sielkundige rillerStill of the Night (1982), waarin sy saam met Roy Scheider en Jessica Tandy verskyn. Vincent Canby van The New York Times het geskryf die rolprent is ’n huldeblyk aan die werke van Alfred Hitchcock, maar dat een van sy grootste swakhede ’n gebrek aan chemie tussen Streep en Scheider is; hy het afgesluit dat Streep “verbluffend is, maar dat sy nie naastenby lank genoeg op die skerm verskyn nie”.