Hierdie artikel handel oor die Italiaanse nasionale mansrugbyspan. Vir die artikel oor die nasionale vrouerugbyspan, sien Italiaanse nasionale vrouerugbyspan.
Die Italiaanse nasionale rugbyspan (Italiaans: Nazionale di rugby a 15 dell’Italia) is die nasionale rugbyspan wat Italië in internasionale wedstryde (toetswedstryde) verteenwoordig. Hulle staan ook bekend as gli Azzurri (Italiaans vir: “die Hemelbloues”). Savoiblou is die gewone kleur van die nasionale spanne wat Italië verteenwoordig, aangesien dit die tradisionele kleur van die Huis van Savoje was wat van 1860 tot 1946 oor die Koninkryk Italië regeer het. Rugby word in Italië deur die Italiaanse Rugbyfederasie (Federazione Italiana Rugby, FIR) geadministreer. Italië neem aan die jaarlikse Sesnasies-toernooi deel, saam met Engeland, Frankryk, Ierland, Skotland en Wallis.
Italië het sy eerste toetswedstryd in 1929 teen Spanje gespeel. Italië was net soos Roemenië oor dekades heen een van die sterkste Europese spanne buite die destydse Vyfnasies. Hulle het tydens die Europese Nasiesbeker een titel ingepalm, nege keer as naaswenner en agt keer in die derde plek geëindig. Gedurende die 1990’s het die Italiaanse rugby ’n opswaai beleef, wat tot die aansluiting by die destydse Vyfnasies en hul uitbreiding tot die Sesnasies gelei het. Hulle het die een of ander prestasie behaal, maar nooit beter as die vierde plek gevaar nie.
Italië se belangrikste internasionale verskyning is tydens die vierjaarlikse rugbywêreldbekertoernooi wat sedert 1987 beslis word. Sedert die eerste Rugbywêreldbeker 1987 het die span aan al nege toernooie deelgeneem, maar nog nie die uitklopfase gehaal nie. Die Italiaanse nasionale span het tot ’n konstante deelnemer ontwikkel. Sedert 2003 het Italië tydens elke toernooi twee oorwinnings en twee nederlae aangeteken, genoeg om regstreeks vir die daaropvolgende toernooi te kwalifiseer.
Italiaanse spelers dra tradisioneel blou truie, wit broeke en blou sokkies. Hul alternatiewe kleure bestaan uit ’n wit trui met blou broeke en wit sokkies. Italië se internasionale wedstryde word op verskeie plekke dwarsdeur die land gespeel; die Stadio Olimpico in Rome word tydens die Sesnasies-toernooi gebruik. Die beheerliggaam Wêreldrugby beskou Italië as ’n vlak-een rugbyland. Twee voormalige Italiaanse rugbyspelers is in Wêreldrugby se Heldesaal opgeneem. Die Italiaanse rugbyspan is tans (Maart 2026) tiende op Wêreldrugby se wêreldranglys gelys.
Beheerliggaam
duimnael|Die Povlakte in Noord-Italië word algemeen as die hartland van Italiaanse rugby beskou Die beheerliggaam vir rugby in Italië is die Italiaanse Rugbyfederasie (Federazione Italiana Rugby, FIR). Die FIR het in 1928 uit die “Propagandakomitee” ontstaan en in 1987 ’n volle lid van die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) geword. Daarbenewens was die Italiaanse Rugbyfederasie in 1934 ’n stigterslid van die vastelandse beheerliggaam Fédération internationale de rugby amateur (FIRA; nou Rugby Europa, RE). Die hoogste rugbyliga in Italië is die Campionato di Eccellenza, waaraan twaalf spanne deelneem. Van die spanne is veral uit die twee rugbyvestings Lombardye en Veneto afkomstig.
Bo die nasionale kampioenskap word die internasionale liga Verenigde Rugbykampioenskap beslis, saam met spanne uit Ierland, Skotland, Suid-Afrika en Wallis, waaraan twee Italiaanse spanne (Benetton Rugby Treviso uit Treviso en Zebre uit Parma) deelneem. Bo die Verenigde Rugbykampioenskap word jaarliks saam met klubs uit Engeland, Frankryk, Ierland, Ierland en Wallis die Europese Rugbykampioenskapbeker en die Europese Rugbyuitdagingsbeker beslis.
Naas die amptelike nasionale span roep die FIR ook ander keurspanne byeen. Italia Emergenti (“Opkomende Italië”) is die tweede nasionale span van Italië. Net soos ander rugbylande beskik Italië oor ’n o/20-nasionale span wat aan die o/20-Sesnasies-toernooi en die Wêreldrugby o/20-kampioenskap deelneem. Kinders en jongmense word reeds op skool aan rugby bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hulle met hul afrigting.
Geskiedenis Invoering van rugby in Italië duimnael|’n Romeinse muurskildery wat die antieke spel Harpastum toon duimnael|’n Calcio fiorentino-spel op die Piazza Santa Croce te Florence in 1688 Die oorspronklik uit Griekeland afkomstige en in die hele Romeinse Ryk beoefende spel Harpastum kan as ’n ver verwante, antieke voorloper van rugby beskou word. In berigte van historici en skrywers soos Athenaeus van Naucratis, Clemens van Alexandrië, Iulius Pollux en Claudius Galenus word dit beskryf as ’n volkontaksport tussen twee spanne bestaande uit vyf tot twaalf spelers met die doel om op ’n reghoekige veld ’n bal agter die teenstander se doellyn te beweeg. Gedurende die Middeleeue het in Italië verskeie balsporte ontwikkel, wat nader verwant was aan rugby as aan sokker, aangesien die balspel met die hande ’n sentrale kenmerk was. Die bekendste voorbeeld is die Calcio storico fiorentino wat uit die vroeë 16de eeu dateer en steeds in Florence gespeel word.
Britse seemanne, wat by die Genuese hawe aangedoen het, het rondom 1890 die in die Verenigde Koninkryk reeds gevestigde rugby aan Italië bekendgestel. Maar van die begin af is dit deur sokker oorskadu en was ’n nissport. Daar word vermoed dat die Britte aanvanklik veral onder mekaar verkeer het. Die eerste amptelike rugbywedstryd op Italiaanse bodem is op 2 April 1910 in Turyn tussen twee buitelandse klubs, die Paryse SCUF en die Geneefse RC Servette, beslis. Twee weke later is die eerste Italiaanse rugbyklub, RC Torino, gestig, maar hulle het ná slegs een wedstryd teen die sokkerklub FC Pro Vercelli hulself weer ontbind. ’n Jaar later het Stefano Bellandi, die bestuurder van die Teatro alla Scala in Milaan, die beslissende impuls vir rugby se vestiging in Italië gelewer. Hy het, nadat hy ’n aantal jare in Frankryk deurgebring en die rugbysport leer ken het, na Italië teruggekeer en sy militêre diens gedoen. Saam met die hulp van ’n Franse vriend het hy ’n rugby-afdeling by die sportklub US Milanese gestig. Dit het op 2 April 1911 op die Arena Civica teen ’n span uit Voiron sy eerste wedstryd gespeel. Volgens La Gazzetta dello Sport was die toeskouers ten spyte van die 0–15-nederlaag opgewonde, waarna nog wedstryde gereël is.
Die Eerste Wêreldoorlog het hierdie ontwikkeling stopgesit. Ná die einde van die oorlog het Bellandi hom vir ’n herlewing van die Italiaanse rugbysport beywer en by die Milaanse Sport Club Italia ’n nuwe span saamgestel. Gevolglik is nog klubs gestig en middelgroot nywerheidsstede in die Povlakte soos Brescia, Parma, Rovigo en Treviso het in Italië se rugbyvestings ontwikkel (later het ook Rome, Napels en L’Aquila gevolg). Op 26 Julie 1927 het Bellandi ’n “Propagandakomitee” gestig en die Franse joernalis Henri Desgrange, stigter van die Tour de France, om ondersteuning gevra. Hy het gehelp om ’n aantal wedstryde van ’n nieamptelike Italiaanse keurspan teen verskeie Franse klubs te reël. Enkele verteenwoordigers van die fascistiese Italiaanse regime het die propagandistiese waardes van die gewild wordende rugbysport raakgesien. Augusto Turati, sekretaris-generaal van die Partito Nazionale Fascista (PNF), het op 13 Mei 1928 die eerste wedstryd in die hoofstad gereël en die Stadio Nazionale del PNF beskikbaar gestel. Enkele maande later, op 26 September, is uit die destydse Propagandakomitee die Italiaanse Rugbyfederasie (Federazione Italiana Rugby, FIR) gestig, wat vervolgens die eerste nasionale kampioenskap aangebied het.
Die nasionale span se eerste jare duimnael|Die Italiaanse nasionale rugbyspan in 1933 duimnael|Die Italiaanse nasionale rugbyspan in 1942 Die FIR het ook ’n amptelike nasionale span van stapel gestuur. Hul eerste toetswedstryd is op 29 Mei 1929 in Barcelona teen die eweneens debuterende Spanje gehou. Voor ’n skare van 62 000 op die Montjuicstadion en in teenwoordigheid van die Spaanse koning Alfons XIII is hulle met 9–0 verslaan; die Spaanse span het uitsluitlik uit Katalane bestaan. ’n Jaar later het Italië wraak geneem en in Milaan hul eerste tuiswedstryd met 3–0 gewen. Op 19 Oktober 1929 het die Olimpiese beheerliggaam Comitato Olimpico Nazionale Italiano (CONI) die FIR ná net een jaar se werk ontbind en die bestuur van die nasionale kampioenskap oorgeneem. Die presiese rede is nie bekend nie, maar daar word vermoed dat die fascistiese regime die kulturele verskynsel rugby toenemend met misnoë bekyk het, aangesien dit van ’n Britse oorsprong was. Die onderdrukking van rugby het gepaard gegaan met pogings om ’n nuwe balsport, Volata genoem, af te dwing, wat volgens bewerings ’n nasaat van die Romeinse Harpastum was. Volata het nie gewildheid verwerf nie, waarvolgens CONI die rugbybeheerligaam in Oktober 1932 herstig het, aanvanklik onder die Italiaaniseerde naam Federazione Italiana della Palla Ovale (“Italiaanse Ovaalbalbeheerliggaam”). In die daaropvolgende jaar het die beheerliggaam onder die amper oorspronklike naam Federazione Italiana Rugbi verkeer (van 1946 af is rugby weer met ’n y geskryf).
As gevolg van beheerliggaamsgeskille het die nasionale span drie jaar lank onaktief gebly, maar van 1933 af teen die destydse sterkste spanne van die vastelandse Europa te staan gekom. Die lede van die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) het egter oorwegend onder mekaar verkeer. Die Franse nasionale rugbyspan was tot in 1983 die enigste wêreldklasspan buite die IRVR en tot in 1988 die enigste van die destydse Vyfnasies wat amptelike toetswedstryde teen Italië gespeel het. Tydens die Europese Nasiesbeker is op 17 Oktober 1937 in Parys die eerste wedstryd tussen albei spanne gereël en het in ’n 5–43-nederlaag vir die Italianers geëindig. Die Fédération internationale de rugby amateur (FIRA; nou Rugby Europa, RE) was verantwoordelik vir die reël van die Europese Nasiesbeker. Dié alternatiewe internasionale beheerliggaam is in 1934 op inisiatief van Frankryk gestig, nadat hulle uit die Vyfnasies geskop is. Die FIR was een van die stigterslede.
Aan die begin van die Tweede Wêreldoorlog is die spelbedryf in Italië amper sonder inperkings voortgesit. Die nasionale kampioenskap is tot in 1943 beslis, terwyl die nasionale span tussen 1940 en 1942 twee toetswedstryde teen Roemenië en een teen Nazi-Duitsland gespeel het. Die Fasciste, wat die rugbysport weens sy Britse herkoms aanvanklik verwerp en wou verdring het, het dit nou heeltemal ondersteun en as ’n voorbeeld van kameraadskap en veggees bevorder. Die PNF se partysekretaris Achille Starace het rugby beskryf as ’n “vegkuns wat deur die fascistiese jeug beoefen en wyd versprei moet word”. Die verdere verspreiding se belemmering ná die Tweede Wêreldoorlog word aan hierdie politisering toegeskryf. Vir ’n tyd lank is rugby as ’n “fascistiese sportsoort” beskou. Die teenwoordigheid van die Geallieerdes wat van 1943 af rugbywedstryde teen mekaar gereël het, kon hierdie siening slegs ’n bietjie verander.
Stagnasie en tydelike agteruitgang duimnael|Frankryk teen Italië in Rome, 1954 duimnael|Die Italiaanse nasionale rugbyspan voor hul Suid-Afrikaanse toer in 1973