Die Maloti-Drakensbergpark is 'n oorgrenspark en 'n Wêrelderfenisgebied wat bestaan uit die uKhahlamba-Drakensberg Nasionale Park in Suid-Afrika en die Sehlathebe Nasionale Park in Lesotho en word gesamentlik deur die twee lande bestuur. Die park het uitsonderlike natuurskoon met basaltiese en sandsteen kranse, boë, grotte en pilare. Daar is 'n verskeidenheid van habitatte met 'n biodiversiteit wat endemiese plante en diere insluit, soos die baardaasvoël (Gypaetus barbatus) en die bedreigde kransaasvoël (Gyps coprotheres). Lesotho se Sehlabathebe Nasionale Park huisves ook die Maloti-rooivlerkie (Pseudobarbus quathlambae), ’n krities bedreigde visspesie wat slegs in hierdie park voorkom. Hierdie gebied het grotte en bakkranse met die grootste en mees gekonsentreerde versameling rotskuns in Afrika suid van die Sahara, met duisende beelde geskilder deur die San, wat vroeërjare hier gewoon het.

Geskiedenis Die park het op 11 Junie 2001 tot stand gekom deur die Sehlabathebe Nasionale Park in die Koninkryk van Lesotho en die uKhahlamba Drakensbergpark in KwaZulu-Natal, Suid-Afrika, te verbind. Die Drakensberge is die hoogste gebied in die substreek met berg- en sub-Alpynse ekosisteme. Die hoogste piek is Thabana Ntlenyana, wat 3 482 meter hoog is.

Daar is in 2008 voorgestel dat die Golden Gate-hoogland- Nasionale Park, Sterkfonteindam Natuurreservaat en Royal Natal- Nasionale Park (KwaZulu-Natal) in Suid-Afrika; en die Bokong Natuurreservaat en Ts'ehlanyane Nasionale Park in Lesotho tot die Maloti-Drakensberg-oorgrenspark gevoeg word. 

Die Maloti-Drakensberg Oorgrensbewarings- en Ontwikkelingsgebied is as 'n Vredespark bedoel en beslaan ongeveer 8 113 km², waarvan 5 170 km² (64%) in Lesotho is en 2 943 km² (36%) in KwaZulu-Natal.

Galery

Verwysings

Eksterne skakels KwaZulu-Natal Provinsiale Regering se tuisblad (geargiveer) Ezemvelo KZN Wildlife (voorheen bekend as Natalse Parkeraad) Vredesparke Webwerf van die Maloti-Drakensberg-oorgrensbewaringsgebied (geargiveer)

Kategorie:Bewaringsgebiede in Suid-Afrika Kategorie:Wêrelderfenisgebiede in Suid-Afrika