Hooggotiek was 'n tydperk in die Gotiese argitektuur in die 13de eeu, van omstreeks 1200 tot 1280, waarin 'n reeks verfynde en ryklik versierde katedrale van buitengewone hoogte en grootte gebou is. Dit het die prominentste in Frankryk voorgekom, grootliks danksy die steun van koning Lodewyk IX (regeer 1226-1270), ook bekend as Sint Lodewyk."High Gothic", Encyclopaedia Britannica aanlyn (intekening vereis), besoek in Februarie 2024 Die doel van die Hooggotiese argitekte was om soveel lig as moontlik deur die gebrandskilderde vensters in te laat en om die kerkgangers met oordadige versiering te beïndruk. Hooggotiek word dikwels as die hoogtepunt van die Gotiese styl beskryf.
Hooggotiek was eerder 'n tydperk as 'n spesifieke styl; gedurende die Hooggotiese tydperk was die Rayonnant-styl oorheersend. Noemenswaardige Hooggotiese katedrale in die Rayonnant-styl sluit die Reims-katedraal, die Amiens-katedraal, die Bourges-katedraal, die Chartres-katedraal en die Beauvais-katedraal in."The High Gothic years (c. 1250-1300), heralded by Chartres Cathedral, were dominated by France, especially with the development of the Rayonnant style." Encyclopedia Britannica aanlyn (intekening vereis), "High Gothic"
Die vernuwings van die Hooggotiese tydperk het ingesluit dat die vlakke van die skip se binneruimte van vier na drie verminder is deur die Gotiese triforium en ligbeuk saam te voeg. Dit het veel groter gebrandskilderde vensters moontlik gemaak, wat die katedrale met lig gevul het. Die bykomende lig binne het om ryker binneversiering gevra, wat verskaf is deur patrone in klipmaaswerk op die mure aan te bring.
Die tydperk het ook die gebruik van realistiese beeldhouwerk gesien om sowel die binne- as die buitekant te versier, veral bo die kerkportale. Dit is beïnvloed deur antieke Romeinse beeldhouwerk wat kort tevore in Italië ontdek is."High Gothic sculpture", Encyclopaedia Britannica aanlyn, besoek in Februarie 2024 (intekening vereis)
Britse en Amerikaanse historici verdeel die Gotiese era in drie tydperke: Vroeggotiese argitektuur; Hooggotiek, insluitende die Rayonnant-styl; en Laatgotiek, insluitende die Flamboyant-styl. Franse historici verdeel die era in vier soortgelyke fases: Primêre Gotiek, Gothique classique of Klassieke Gotiek, Rayonnant-Gotiek en Laatgotiek, of Flamboyant.
Geskiedenis Vroeë voorbeelde van die Rayonnant-Hooggotiek het in die Reims-katedraal verskyn, waar vroeë staafmaaswerk tussen 1215 en 1220 aangebring is. Hooggotiese elemente het ook in die Amiens-katedraal verskyn, in die koor en ligbeuk wat na 1236 herbou is, en in die Basiliek van Saint-Denis, toe die dwarsskepe en skip na 1231 herbou is.Encyclopaedia Britannica aanlyn (intekening vereis), "High Gothic" Die dwarsskip van die Chartres-katedraal is na 'n brand tot 1225 in die nuwe styl herbou.
Die koninklike beskerming van katedrale en ander Gotiese argitektuur is deur Lodewyk VIII van Frankryk en veral Lodewyk IX van Frankryk, of Sint Lodewyk, uitgebrei. Hy het die Rayonnant-roosvensters in die dwarsskepe van die Notre-Dame in die 1250's gefinansier en die Sainte-Chapelle as sy koninklike kapel gebou, wat in 1248 ingewy is. Die Hooggotiek is na ander dele van Europa uitgevoer. Die bekendste voorbeeld van die Duitse Hooggotiek, of Hochgotik, is die Keulen-katedraal, waarmee in 1248 begin is.
Franse Hooggotiek
Die Reims-katedraal was die tradisionele plek van die kroning van die Capetingers en het om dié rede besondere grootsheid en belang gekry. 'n Brand in 1210 het 'n groot deel van die ou katedraal verwoes, wat die geleentheid gebied het om 'n ambisieuser gebou op te rig. Die werk het in 1211 begin, maar is in 1233 deur 'n plaaslike opstand onderbreek en eers in 1236 hervat. Die koor was teen 1241 voltooi, maar die werk aan die fasade het eers in 1252 begin en is eers in die 15de eeu, met die voltooiing van die kloktorings, afgehandel.
Anders as die katedrale van die Vroeggotiek is Reims met net drie vlakke in plaas van vier gebou, wat meer ruimte vir vensters bo gelaat het. Dit het ook die meer gevorderde vierdelige ribgewelf gebruik, wat groter hoogte en meer harmonie in die skip en koor toegelaat het. In plaas van afwisselende kolomme en pylers is die gewelwe deur ronde pylers ondersteun, elk omring deur 'n groep van vier aangehegte kolomme wat die gewig van die gewelwe opgevang het. Benewens die groot roosvenster in die weste is kleiner roosvensters in die dwarsskepe en bo die portale van die wesfasade aangebring, in die plek van die tradisionele timpaan. Nog 'n nuwe dekoratiewe kenmerk, maaswerk in die vorm van blinde arkades, is op sowel die binnemure as die fasade aangebring. Selfs die lugboë het uitgebreide versiering gekry; hulle is bekroon met klein tabernakels met beelde van heiliges, met pinakels bo-op. Meer as 2 300 beelde het sowel die voor- as die agterkant van die fasade bedek.
Amiens-katedraal (1220-1266)
Die Amiens-katedraal is in 1220 begin met die ambisie van die bouers om die grootste katedraal in Frankryk op te rig, en hulle het daarin geslaag. Dit is 145 m lank, 70 m breed by die dwarsskip en het 'n oppervlakte van 7 700 m2. Die skip is teen 1240 voltooi en die koor is tussen 1241 en 1269 gebou. Ongewoon genoeg is die name van die argitekte bekend: Robert de Luzarches, en Thomas en Renaud Cormont. Hul name en afbeeldings word in die labirint in die skip aangetref.
Die enorme grootte van die katedraal het fondamente van 9 m diep vereis. Die skip het drie dele en ses traveë, terwyl die koor dubbele sybeuke het en in 'n halfronde kooromgang met sewe straalkapelle eindig. Die drievlakkige opstand van Amiens, soos dié van Reims, het op dié van die Chartres-katedraal gevolg, maar het merkbaar verskil. Die groot arkades het 'n hoogte van agtien meter, gelyk aan die gesamentlike hoogte van die triforium en die hoë vensters daarbo. Die triforium was ingewikkelder as dié van Chartres en het drievoudige traveë met driepasvensters gehad, saamgestel uit twee slanke spits lansetvensters met 'n klawerblaaragtige roosvenster bo-op. Die hoë vensters het ook 'n opvallend ingewikkelde ontwerp gehad; in die skip het elkeen uit vier hoë lansetvensters bestaan, bekroon met drie klein rose, terwyl die bovensters in die dwarsskip tot agt afsonderlike lansette het.
Die gewelwe het die uitsonderlike hoogte van 42,4 m. Hulle word ondersteun deur massiewe pylers wat uit vier kolomme bestaan en die skip 'n treffende gevoel van vertikaliteit gee. Die hoogte van die mure, veral in die koorsluiting, is moontlik gemaak deur die hoë lugboë, wat met die steun van 'n elegante stelsel van boë in twee spronge na die muur oorspan.
Aan die buitekant is die merkwaardigste Hooggotiese kenmerk die kwaliteit van die beeldhouwerk van die drie portale, wat altesaam met twee-en-vyftig beelde in hul oorspronklike toestand versier is. Die beroemdste is op die sentrale portaal in die weste, wat aan die Laaste Oordeel gewy is en oorheers word deur die beeld van Christus wat 'n seën uitspreek en die middelste pos van die deuropening vorm. Tydens die grondige skoonmaak van die katedraal in 1992 is spore van verf ontdek wat aandui dat al die beeldhouwerk aan die buitekant oorspronklik in helder kleure geskilder was. Dit word nou soms nageboots deur snags gekleurde lig op die katedraal te projekteer.
Beauvais-katedraal (begin 1225)
Die Beauvais-katedraal in Pikardië is in sy hoofstrukture 'n voorbeeld van die Rayonnant-Gotiek. Dit was die ambisieuste en ongelukkigste van die Hooggotiese projekte. Die ambisie was om die hoogste van alle katedrale te word. Die koor is met 'n hoogte van 48,5 m gebou. Waarskynlik weens ontoereikende fondamente en ondersteuning het die koorgewelwe egter in 1284 ineengestort. Die koor is gewysig en herbou, die veelhoekige apsis en Flamboyant-dwarsskepe is voltooi, en in 1569 is 'n nuwe sentrale toring van 153 m hoog bygevoeg, wat Beauvais 'n tyd lank die hoogste bouwerk ter wêreld gemaak het. In 1573 het die sentrale toring egter ineengestort. Sommige dele is gewysig of herbou, maar die toring is nooit weer opgerig en die skip nooit voltooi nie. Vandag is daar steunstrukture in plek om die dwarsskip te stabiliseer. Beauvais bly 'n majestueuse maar onvoltooide stuk Hooggotiese argitektuur.
Duitse Hooggotiek
Keulen-katedraal (koor 1248-1322, westelike dele 1880)
Die bou van die Gotiese katedraal van Keulen is in 1248 begin deur dieselfde aartsbiskop Konrad von Hochstaden wat die verkiesing van Willem van Holland as heerser van die Heilige Romeinse Ryk bevorder het om sodoende die bewind van die Hohenstaufen-dinastie te beëindig. Die ooreenkoms met die Amiens-katedraal is tot die koor beperk. Die torings is tot 'n groot hoogte ontwerp, terwyl die torings in Amiens net effens hoër as die dak van die skip is. Die koor is in 1322 voltooi en die versiering van die kooromgang in 1360, maar in 1528 is die bouwerk gestaak tot 1823, en die westelike dele van die katedraal is eers in 1880 voltooi.
Domkerk van Utrecht (1295)
Die bisdom Utrecht was 'n suffragaan van Keulen. In 1254 het biskop Hendrik I van Vianden, wat 'n kapittelheer (proos van die kapittel) van die Keulen-katedraal was, die eerste steen vir die Domkerk van Utrecht gelê. Die kooromgang is in 1295 voltooi. Die Gotiese vervanging van die ou Romaanse skip het eers in 1467 begin, en die Laatgotiese skip is in 1674 deur 'n storm verwoes.
Kenmerke Grondplanne Die grondplanne van die Hooggotiese katedrale was baie eenders. Hulle was uiters lank en breed, met 'n minimale dwarsskip en maksimale binneruimte. Dit het veel groter seremonies moontlik gemaak, asook die vermoë om groter getalle pelgrims te ontvang. Een eienaardigheid van die grondplan van die Chartres-katedraal was die vloer, wat effens skuins geloop het. Dit is gedoen om die skoonmaak van die katedraal te vergemaklik nadat die pelgrims wat binne die kerk geslaap het, vertrek het.
Opstande Grootliks danksy die doeltreffendheid van die lugboog en vierdelige ribgewelwe het al die groot Hooggotiese katedrale behalwe Bourges die drievlakkige opstand gebruik, wat die tribunes weggelaat en die groot galery op grondvlak, die triforium en die ligbeuk, oftewel die hoë vensters, behou het. Veral die bovensters het in grootte toegeneem om byna die hele bomuur te beslaan. Die arkades het ook hoër geword en die helfte van die muur beslaan, sodat die triforium net 'n smal band was. Die bovensters is dikwels van deurskynende grisaille-glas gemaak, wat meer lig as gekleurde gebrandskilderde glas deurgelaat het.
Gewelwe, pylers en pilare Al die Hooggotiese katedrale behalwe die Bourges-katedraal het die nuwer vierdelige ribgewelf gebruik, wat 'n gelyker verspreiding van die gewig na die pylers en kolomme in die skip toegelaat het.
Vroeggotiese kerke het afwisselende pylers en kolomme gebruik om die wisselende gewig van die sesdelige gewelwe te dra. 'n Nuwe variasie van die ribgewelf het gedurende die Hooggotiese tydperk verskyn: die vierdelige ribgewelf, wat in die Chartres-katedraal, die Amiens-katedraal en die Reims-katedraal gebruik is. Die ribbe van dié gewelf het die gewig gelyker na die vier ondersteunende pylers daaronder verdeel en 'n nouer verband geskep tussen die skip en die onderste dele van die kerkmure, en tussen die arkades onder en die vensters bo. Dit het groter hoogte en dunner mure toegelaat en bygedra tot die sterk indruk van vertikaliteit wat die nuwer katedrale gegee het.
Die 11de-eeuse Durham-katedraal (1093-1135), met die vroeëre sesdelige ribgewelwe, is 22 m hoog. Die 12de-eeuse skip van die Notre-Dame de Paris, ook met sesdelige ribgewelwe, is 35 m hoog. Die latere Amiens-katedraal (gebou 1220-1266), met die nuwe vierdelige ribgewelwe, het 'n skip wat 42,3 m hoog is.