Kyk ook: Smutshuis Die Groothuis (Engels: ), of Smutshuis, is 'n historiese huis in Irene, Gauteng, wat deur die Suid-Afrikaanse staatsman Jan Smuts en sy gesin bewoon is. Vandag is die huis deel van die Smutshuismuseum.

Geskiedenis Die eiendom waarop die huis tans staan was voorheen in die besit van Michiel Christiaan Erasmus, seun van Voortrekker Daniël Elardus Erasmus, wat sy plaas onder sy drie seuns verdeel het. In 1908 is dit deur Jan Smuts vir £900 aangekoop. Twaalf plakkergesinne was toe nog aanwesig en het vir enkele jare aangebly.

Smuts het die hout-en-ystergebou teen £300 in Middelburg by 'n uitverkoping van militêre eiendom deur die Imperiale Regering aangeskaf, ten einde dit as sy gesinswoning aan te wend. Blykbaar is die voorafvervaardigde gebou uit Brittanje na Indië en later na Suid-Afrika verskeep, waar dit by Lord Kitchener se hoofkwartier in Middelburg as 'n offisiersmenasie gedien het. Dit is in 1909 by die huidige ligging opgeslaan, en Mev Smuts het dit op 10 Julie met haar gesin betrek terwyl Generaal Smuts ter see was.

Alhoewel dit aanvanklik vir tydelike okkupasie bestem was, het die gesin eindelik in die Groothuis aangebly, en etlike toevoegings is aangebring. Die Smutse het hier sewe kinders grootgemaak.

Die huis is aan Kitty Smuts, Jan Smuts se skoondogter en weduwee van Japie Smuts, nagelaat. Sy het dit moeilik gevind om te onderhou, en dit dan sonder gevolg aan verskillende organisasies te koop aangebied. In Julie 1960 is die huis en omliggende 25 morge ten bedrae van £7000 deur die oudsoldaat en prokureur van Adams & Adams, Guy Braithwaite, aangeskaf. Dit het verhoed dat dit in 'n sanatorium omskep word, en het die weg gebaan om as gedenkwaardigheid bewaar te word.

Museum Die Groothuis is op 31 Oktober 1969 in die Staatskoerant as 'n nasionale gedenkwaardigheid verklaar. Dit is sedert 1961 in die besit van die Generaal Smutsstigting, wat tot 1994 as die General Smuts War Veterans' Foundation bekend was. Die huis weerspieël Smuts se beskeie leefstyl.

Tans is die huis deel van die Smutshuismuseum wat deur die Generaal Smutsstigting bedryf word, en is geheel aan die nalatenskap van Jan Smuts toegewy. Die museum het ook 'n teetuin vir ligte verversings. 'n Kort entjie oos van die huis is Smutskoppie, waar die as van Jan Smuts en sy vrou Isie gestrooi is.

Galery

Verwysings

Eksterne skakels

The Smuts House Museum Smuts House Museum – Gautengse Toerismegesag

Kategorie:Huise in Gauteng Kategorie:Jan Smuts Kategorie:Isie Smuts Kategorie:Monumente en gedenkwaardighede in Suid-Afrika Kategorie:Museums in Gauteng