duimnael|La Motte Die wynplaas La Motte bekend om sy geboue met ou Kaapse gewels buite Franschhoek in die Boland is die eiendom van Hanneli Rupert.

Ligging Die nedersetting en landgoed is by nagenoeg 33° 53′ suid, 19° 4′ oos en langs die R45-pad en Robertsvleiweg. Deur die gebied loop die Franschhoekrivier en die Kastaiingrivier. Op die plaas is die spoorweghalte La Motte.

Geskiedenis Baie laat in die 17de eeu het die VOC drie plase toegeken wat deur hul eienaars La Motte (Frans vir “die koppie”) gedoop is. Jean Jourdan kry in 1690 sy La Motte in die huidige Simondium. Op sy beurt kry Jacques Malan sy La Motte in 1694 wat vandag deel vorm van die dorp Franschhoek. Hans Heinrich (Hendrik) Hattingh kry in 1695 sy La Motte 5 km wes van die dorp. Op hierdie plaas van 75 ha is die huidige wingerdplaas. Agtereenvolgens word Gabriel du Toit in 1752, Gideon Jacobus Joubert in 1815, later nog die staatsdepartement betrokke by die denneplantasies en in 1970 Anton Rupert die eienaars. Joubert versier in 1836 ‘n gewel met die letters GJJBT wat na homself verwys.

Begraafplaas Die plaaskerkhof, waaromheen verskeie legendes geweef is, is op die westelike oewer van die Kastaiingrivier en dateer uit ongeveer 1760. Grafstene met ouer datums is waarskynlik van elders in die kontrei hierheen gebring. Sommige vroeë afstammelinge van die Hugenote lê hier begrawe. Die dodeakker is in 1951 tot gedenkwaardigheid verklaar.

Lees ook Lys van wynkelders in Suid-Afrika

Bronnelys Fransen, Hans: A guide to the old buildings of the Cape. A survey of extant architecture from before c1910 in the area of Cape Town, Calvinia, Colesberg, Uitenhage. Kaapstad: Jonathan Ball, 2004. ISBN 1-86842-191-0 Oberholster, J.J.: Die historiese monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Kultuurstigting Rembrandt van Rijn vir die Raad vir Nasionale Gedenkwaardighede, 1972 Slingsby, Peter: Cape Winelands, the map. Muizenberg: Baardskeerder, 2010. ISBN 978-1-920377-05-2

Eksterne skakels https://capreo.com/en/wine-estates/top-wine-estates-franschhoek/la-motte/ https://la-motte.com/

Kategorie:Wynbou in Suid-Afrika Kategorie:Monumente en gedenkwaardighede in Suid-Afrika Kategorie:Wes-Kaap