Die Kudiakampan in die noorde van Botswana is veral bekend om die Baines’ Baobabs.

Ligging Hierdie laagte is noordwes van die Makgadigadi-panne in die noordelike deel van die Kalahari. ‘n Reeks sandduine begroei met gevestigde gras skei dit van die Makarikaripan. Dit vorm saam met ander panne in die direkte omgewing ‘n groot nasionale park in die noorde van die land.

Ontstaan Aanvanklik was hierdie pan ‘n beduidende binnelandse meer en deel van ‘n dreineringstelsel wat uitgemond het in die Makarikaripan. Deur verskuiwende sandduine en die gevolglike blokkering en verandering van die vloeirigting van die waterstrome het die vloedwaters van die Zambezirivier, Choberivier, Kunenerivier, Linyantirivier, Kwandorivier, Dekarivier en ander riviere in die omgewing nie meer die pan bereik nie. In die winter is dit nou ‘n dooie soutpan en in die somer slegs ‘n vlak binnelandse meer.

Flora en fauna Dit is die tuiste van olifante, kameelperde, zebras en wildebeeste. Die pan is egter bekend om ‘n klompie kremetartbome wat op ‘n effens hoër punt aan die oostelike rant van die pan staan by die koördinate 20° 7′ 21″ suid en 24° 45′ 45″ oos. Hulle is bekend as die Baines’ Baobabs omdat John Thomas Baines hulle in Mei 1862 geskilder het toe hy onderweg was na die Victoria-waterval. Die grootste van hierdie bome wat hy gesien het, het omgeval, maar uit die stam het vroeg in die 21ste eeu nog vars blaartjies gespruit. Daar is ook nog ander jonger kremetartbome. Hulle kan slegs wanneer die pan in die winter droog is, bereik word.

Lees ook Kalahari-besproeiingskema Kalahari-pannestreek

Bibliografie http://www.botswana-travel-guide.com/bradt_guide.asp?bradt=780 https://www.nicholasbratton.com/the-atlas/2020/2/1/kudiakam https://rogergosden.com/2024/04/05/baines-baobabs-in-botswana/

Kategorie:Botswana