The Last Czars is 'n kort historiese TV-reeks van ses episodes in Engels wat op 3 Julie 2019 op Netflix begin wys het. Dit gaan oor die bewind van Nikolaas II, die laaste keiser van Rusland se Romanof-dinastie: van sy troonbestyging in 1894 tot met sy en sy gesin se teregstelling in 1918.
Rolverdeling Robert Jack as tsaar Nikolaas II Susanna Herbert as tsarina Aleksandra Fjodorowna Ben Cartwright as Grigori Raspoetin Oliver Dimsdale as Pierre Gilliard Bernice Stegers as goothertogin Maria Fjodorowna Gerard Miller as prins Joesoepof Steffan Boje as dr. Schmidt Indre Patkauskaite as Ana Anderson Elsie Bennett as groothertogin Ella Fjodorowna Jurga Seduikyte as Militsa Duncan Pow as Joerofski Karina Stungyte as groothertogin Stana Nikolajewna Milda Noreikaite as groothertogin Militza Nikolajewna Michelle Bonnard as Praskowija Gavin Mitchell as groothertog Sergei Aleksandrowitsj van Rusland Karolina Elzbieta Mikolajunaite as groothertogin Olga Nikolajewna Aina Norgilaite as groothertogin Tatjana Nikolajewna Gabija Pazusyte as groothertogin Anastasia Nikolajewna Digna Kulionyte as goothertogin Maria Nikolajewna Oskar Mowdy as Aleksei, tsarjewitsj van Rusland Milda Noreikaite as Sjoera
Storielyn
1 "The Chosen One" Aleksander III van Rusland sterf in 1849 onverwags op 49-jarige ouderdom en laat die troon na aan sy seun van 26, Nikolaas II. Dié onderneem om dieselfde outokratiese beheer as sy pa oor Rusland toe te pas, maar sy kroning word in die wiele gery deur talle sterftes weens die feesverrigtinge. Hy en sy vrou probeer naarstig ’n seun kry wat hom kan opvolg.
In Siberiẽ begin Grigori Raspoetin ’n pelgrimstog en beïndruk hy ’n gesin kleinboere deur ’n ou man te genees. Raspoetin is na bewering lid van ’n sekte, die Chlisti.
In 1925, sewe jaar ná die dood van die Romanofgesin, besoek hulle voormalige onderwyser Pierre Gilliard ’n inrigting in Berlyn, waar ’n vrou aangehou word wat beweer sy is Anastasia. Hy vermoed daar is ’n slang in die gras oor hoe sy die gesin se teregstelling oorleef het.
2 "The Boy" Nikolaas voer die Russe aan in hulle oorlog teen Japan, al waarsku sy politieke raadgewers hom daarteen. Op 30 Julie 1904 skenk Alix die lewe aan hulle seun, Aleksei, maar hulle vind weldra uit hy ly aan hemofilie, ’n feit wat hulle van die publiek weerhou.
Bloedige Sondag gebeur in Januarie 1905. In Februarie 1905 word Nikolaas se oom, groothertog Sergei Aleksandrowitsj deur Iwan Kaljajef tydens die Russiese Rewolusie van 1905 tereggestel. Terwyl Nikolaas reuseverliese in die oorlog teen Japan lei, en met onrus tuis, vind hy en sy gesin 'n toevlug buite Sint Petersburg. Een van sy raadgewers beveel aan hy stig ’n doema as toegewing tot die volk, en hy doen dit ondanks sy bedenkinge. Raspoetin kom in die stad aan en beindruk die “swart prinsesse” met sy begrip van en simpatie met ’n vrou wat rou. Hoewel Nikolaas aanvanklik huiwerig is oor Raspoetin se vermoĕns, bel hy hom om na sy seun te kom kyk.
3 "Anarchy" Teen 1925 het Gilliard afgelei die vrou wat in Berlyn beweer het sy is Anastasia, is ’n bedrieër.
Met Raspoetin se invloed wat toeneem, begin hy ’n sekskultus en word daar beweer hy het verhoudings met talle vroue en verlei baie van hulle. Die eerste minister, Pjotr Stolipin, is persoonlik getuie van Raspoetin se ongewone taktiek en laat die polisie inligting oor Raspoetin insamel. Nikolaas word egter nie daardeur beïnvloed nie en noem die bewerings teen Raspoetin leuens. Stolipin en die tsaar bots ook oor verdere toegewings aan die volk. Stolipin waarsku Raspoetin persoonlik en sê hy sal in hegtenis geneem word as hy nie vertrek nie. Die kerk se pogings om Raspoetin se invloed te beperk, misluk ook. In September 1911 word Stolipin vermoor. Biskop Germogen lek Raspoetin se privaat briewe aan die publiek en veroorsaak ’n opskudding. Nikolaas stuur Raspoetin terug na Siberiẽ. In September 1912 keer hy kortliks terug nadat Aleksei homself beseer het en begin bloei.
4 "War" Gilliard se vrou kom help hom in Berlyn met die vrou wat beweer sy is Anastasia. Sy gee vir haar juweliersware wat die tsarina vir haar gegee het en kyk uit vir ’n swelsel aan haar voet.
Aartshertog Frans Ferdinand van Oostenryk sterf in Junie 1914 in ’n sluipmoordaanval en die land, ondersteun deur Duitsland, verklaar oorlog teen Serwië. Groothertog Nikolaas Nkolajewitsj raai die tsaar aan om oolog teen Duitsland te verklaar, terwyl sy Duitse vrou en Raspoetin hom afraai. Eindelik verklaar hy oorlog en stel Nikolajewitsj aan as bevelvoerder.
Tuis in Pokrofskoje, Tjoemen-oblast, is daar ’n sluipmoordaanval op Raspoetin deur Tjionja Goesewa wat hy net-net oorleef. In dié tyd word hy ’n belangrike figuur in die gemeenskap. Teen 1915 het Nikolaas beheer oorgeneem as bevelverder van die oorlog en hy vertrek na die front; hy plaas Alix en Raspoetin in Sint Petersburg in beheer. Terwyl hy in ’n kroeg drink, spog Raspoetin oor sy invloed op Alix, en dit lei tot gerugte in die openbaar dat hulle ’n seksuele verhouding het. Raspoetin word onder beide politici en die publiek ongewilder, terwyl Nikolaas na die skinderstories moet luister, maar ook na sy vrou, wat Raspoetin wil behou.
In Desember 1916 nooi Feliks Joesoepof vir Raspoetin vir ’n geselsie oor ’n ernstige saak, en Raspoetin word dronk. Joesoepof skiet hom, maar Raspoetin word skielik wakker en ontsnap na buite, waar Joesoepf hom weer skiet en hy bly lê.
5 "Revolution" In 1925 roep Gilliard die hulp van die kinders se tante, Olga, in om die vrou te besoek wat beweer sy is Anastasia.
In 1916, na die dood van Raspoetin, besluit Nikolaas om na die oosfront te vertrek en plaas hy sy vrou, Aleksandra, tydelik in beheer van die land. Kort na sy vertrek breek stakings in Petrograd uit wat uitbrei tot massaaprotesoptogte. Later sluit simpatieke soldate by die stakers aan en hulle marsjeer na die paleis. Aan die oorlog se frontlinie dros soldate en sluit by die Russiese Revolusie aan. Nikolaas is bekommerd oor sy gesin en haas terug huis toe. Op pad besef hy hy het beheer oor die land verloor en hy abdikeer. Aleksander Kerenski word in beheer van ’n voorlopige regering geplaas en hy skuif die gesin om hulle teen ekstreme groepe te beveilig. Sy bewind word egter na ’n paar maande omvergewerp, en dit baan die weg vir Wladimir Lenin en die Bolsjewiste. In 1918 word Jakof Joerofski in beheer geplaas van die veilige verskuiwing van die gesin binne Bolsjewistiese gebied.
6 "The House of Special Purpose"
Die Romanofs word na die Ipatijef-huis in Jekaterinburg geskuif en moet by ‘n streng roetine hou. Intussen kry die Wit Leër die oorhand in die Russiese Burgeroorlog en vorder vinnig na Jekaterinburg. Joerofski word persoonlik in beheer van die huis se veiligheid geplaas. Terwyl die Wit Leër al hoe nader kom, kry Joerofski opdrag om die gesin te verskuif, maar in werklikheid word hulle teregstelling beplan. Hulle word na die kelder geneem, waar hy hulle ter dood veroordeel en ’n vuurpeloton hulle doodskiet.
In 1925 onthul Gilliard bewyse dat Anna Anderson die vrou is wat beweer het sy is Anastasia. Anderson sou baie dekades lank volhou sy is Anastasia. In 1979 is die gesin se oorskot opgegrawe en drie jaar later bevestig. In 1998 het president Boris Jeltsin gelas dat hulle herbegrawe word, hoewel twee liggawe nog weg was. Dit was dié van Aleksei en Maria, wat in 2007 ontdek is.
Ontvangs Op Rotten Tomatoes was 60% van resensies positief, met ’n gemiddelde telling van 6/10 op grond van 10 resensies.
Die reeks is deur The Guardian beskryf as "'n surrealistiese Wikipedia-inskrywing wat lewe gekry het", in 'n resensie wat produksiefoute uitwys, soos 'n bottel waarop die woord “wodka” in Cyrillies verkeerd gespel is, asook 'n toneel van Rooiplein, wat veronderstel is om in 1905 af te speel, waarin Lenin se Mausoleum verskyn, hoewel dit eers in 1924 gebou is.
Verwysings
Kategorie:Nikolaas II van Rusland Kategorie:Russiese keisers Kategorie:Russe in die Eerste Wêreldoorlog Kategorie:Amerikaanse televisiereekse