Die plaas Holkrans was op 6 Mei 1902 die toneel van ‘n geveg tussen die Boere en die Zoeloes tydens die Tweede Vryheidsoorlog.
Ligging Die terrein is by 27° 35′ 16″ suid, 30° 46′ 1″ oos, noord van Vryheid en suid van Paulpietersburg.
Geskiedenis In die gebied het hoofman Sikhobobe en sy Qulusi-stam gewoon. Tydens die guerrilla-fase van die oorlog is hulle aanhoudend deur groepe Boere op soek na voedselvoorrade beroof. Veral een klein kommando onder veldkornet Jan Potgieter het die Zoeloes baie geïrriteer. In weerwraak kom in die nag van 5 op 6 Mei ‘n Zoeloe-mag van ‘n 1000 man in die geheim byeen. Hulle trek op na Holkrans waar hulle weet Potgieter en sy mag van 72 man in ‘n veekraal oornag. In die verrassingsaanval sneuwel 200 impi’s, maar hulle wis byna die hele Boere-mag uit. 56 Boere sterf op die plek, ander is gewond, enkeles ontsnap en drie is gevange geneem. Juis op daardie tydstip was die onderhandelinge wat gelei het tot die Vrede van Vereeniging aan die gang. Hierdie geveg het dus op ‘n baie ongeleë tydstip gekom en ernstige versetgevoelens by die burgers van die ZAR en die Oranje-Vrystaat gewek.
Monumente Op 20 Januarie 1905 is die stoflike oorskot van die gesneuwelde burgers voor die N.G. kerk op Vryheid onder ‘n gedenksteen herbegrawe. ‘n Gedenknaald is op 6 Mei 1944 op die gevegsterrein opgerig.
Lees ook Historiese slagveldroete van KwaZulu-Natal
Bibliografie https://www.angloboerwar.com/forum/8-events/177-the-battle-of-holkrans https://www.battlefieldsroute.co.za/place/holkrans-battlefield/ https://battlefieldwanderers.net/africa/holkrans/ https://kznpr.co.za/kzn-photo-record-blog/the-battle-of-holkrans-6-may-1902/ https://samilitaryhistory.org/jnl2/vol194rs.html https://samilitaryhistory.org/memorial/holkrans.html https://www.tracesofwar.com/sights/95740/Memorial-Holkrans-Massacre.htm
Kategorie:Tweede Vryheidsoorlog Kategorie:KwaZulu-Natal Kategorie:Monumente en gedenkwaardighede in Suid-Afrika