Die Hemelskyf van Nebra (Duits: Himmelsscheibe von Nebra) is ’n bronsskyf met ’n deursnee van ongeveer 30 cm en ’n massa van 2,2 kg wat in 1999 begrawe gevind is op die heuwel Mittelberg naby die dorp Nebra (60 km van Leipzig) in Duitsland. Dit is blougroen met ingelegde goudsimbole, en word verbind met die Unetice-kultuur van die vroeë Bronstydperk. Die simbole word oor die algemeen vertolk as die Son of volmaan, ’n sekelmaan en sterre, insluitend ’n groep van sewe sterre wat waarskynlik die Plejades voorstel.

Twee goue boë aan die kante (waarvan een nou ontbreek) word beskou as merkers van die hoek tussen die sonstilstande. ’n Ander boog onderaan met interne parallelle lyne word gewoonlik vertolk as ’n sonskip met talle roeispane, hoewel sommige skrywers ook voorgestel het dit kan ’n reënboog, die Aurora Borealis, ’n komeet of ’n sekel voorstel.

Argeoloë dateer die skyf tot omstreeks 1800-1600 v.C., tydens die vroeë Bronstydperk in Europa. Verskeie wetenskaplike ontledings van die skyf, die voorwerpe wat daarmee saam ontdek is en die vindplek het die datering tot die vroeë Bronstydperk bevestig.

Die Hemelskyf van Nebra bevat sover bekend die oudste konkrete uitbeelding van sterrekundige verskynsels in die wêreld. In Junie 2013 is dit deur Unesco in sy Register van Aandenkings aan die Wêreld Internasionaal opgeneem en beskryf as "een van die belangrikste argeologiese vondste van die 20ste eeu."

Ontdekking

Die skyf is in 1999 saam met twee bronsswaarde, twee stelle oorblyfsels van byle, ’n beitel en fragmente van spiraalvormige armbande deur Henry Westphal en Mario Renner ontdek terwyl hulle met ’n metaalverklikker na skatte gesoek het. Die twee mans het nie 'n lisensie gehad nie en het geweet hulle bedrywighede is onwettig en behels plundery. Argeologiese artefakte is die eiendom van die staat in Sakse-Anhalt. Hulle het die skyf met hulle graaf beskadig en dele van die vindplek vernietig. Die volgende dag het Westphal en Renner hulle vonds aan ’n handelaar in Keulen verkoop. Dit het binne die volgende twee jaar, waarskynlik verskeie kere, binne Duitsland van eienaar verwissel en is vir tot ’n miljoen Duitse mark (DM) verkoop. Teen 2001 was kennis van die bestaan daarvan algemeen bekend.

In Februarie 2002 het die staatsargeoloog Harald Meller die skyf in ’n polisiegeleide lokvaloperasie in Basel bekom van ’n egpaar wat dit vir 700 000 DM op die swartmark aangebied het. Die oorspronklike ontdekkers is eindelik opgespoor en hulle het die polisie en argeoloë na die ontdekkingsplek gelei. Argeoloë het ’n uitgrawing by die terrein begin en bewyse ontdek wat die plunderaars se bewerings ondersteun het. Daar was spore van bronsartefakte in die grond, en die grond by die terrein het ooreengestem met grondmonsters wat aan die artefakte vasgekleef het. Die skyf en sy gepaardgaande vondste word nou in die Staatsmuseum vir die Voorgeskiedenis in Halle, Sakse-Anhalt, bewaar.

Die twee plunderaars is in September 2003 vonnisse van vier maande en tien maande opgelê. Hulle het geappelleer, maar die Appèlhof het hulle vonnisse tot onderskeidelik ses en twaalf maande verhoog.

Die prehistoriese vindplek is in ’n omheining aan die bopunt van ’n hoogte van 252 m in die Ziegelrodawoud bekend as die Mittelberg. Dit is bekend dat die omliggende gebied in die Neolitikum bewoon is, en die woud bevat ongeveer 1 000 grafheuwels. By die omheining lyk dit asof die son elke somersonstilstand agter die Brocken, die hoogste piek van die Harzberge sowat 80 km noordwes daarvan, ondergaan.

Datum en oorsprong Die byle en swaarde wat saam met die skyf begrawe gevind is, is tipologies tot ongeveer 1700-1500 v.C. gedateer. Oorblyfsels van berkebas wat in die swaarde se handvatsels gevind is, is met radiokoolstofdatering tot 1600-1560 v.C. gedateer, wat eersgenoemde datering bevestig. Dit stem ooreen met die datum waarop die artefakte begrawe is, toe die skyf waarskynlik reeds verskeie geslagte lank bestaan het. Ontledings van die metaal se radioaktiwiteit en die korrosielaag op die skyf ondersteun verder die datering tot die vroeë Bronstydperk.

Volgens ’n aanvanklike ontleding van spoorelemente deur middel van X-straalfluoressensie was die koper in die skyf uit Bischofshofen in Oostenryk afkomstig, terwyl daar gedink is die goud kom uit die Karpate. ’n Meer onlangse ontleding het bevind die goud wat in die eerste ontwikkelingsfase gebruik is (sien hieronder), was afkomstig uit die suide van Cornwallis in Engeland. Die tin wat in die brons teenwoordig is, was ook van Korniese oorsprong.

Geskiedenis Dit lyk of die skyf in vier fases ontwikkel is: Aanvanklik het die skyf 32 klein ronde goue sirkels, ’n groot sirkelvormige plaat en ’n groot halfmaanvormige plaat gehad wat daaraan vasgeheg was. Die sirkelvormige plaat word beskou as óf die Son óf die volmaan, die halfmaanvorm as die sekelmaan (of óf die Son óf die Maan tydens ’n verduistering), en die kolletjies as sterre, met die groep van sewe kolletjies wat waarskynlik ’n sterreswerm voorstel. Daar word geglo dié sterreswerm is die Plejades, of anders is dit die algemene simbool van ’n sterreswerm. Op ’n later stadium is twee boë (wat van goud van verskillende oorspronge gemaak is, soos deur hulle chemiese onsuiwerhede aangetoon word) aan teenoorgestelde kante van die skyf bygevoeg. Om ruimte vir hierdie boë te maak, is een klein sirkel van die linkerkant na die middel van die skyf verskuif en twee van die sirkels aan die regterkant is bedek, sodat 30 sigbaar gebly het. Die twee boë strek oor ’n hoek van 82°, wat korrek die hoek aandui tussen die posisies van sonsondergange tydens die somer- en wintersonstilstand by die breedtegraad van die Mittelberg (51°N). Die boë hou verband met die sonnebaan. Aangesien antieke sterrekundiges die planete en baie sterre geken het wat die sonnebaan aandui, kon hulle sien hoe dit in ’n enkele winternag binne die boë oor die horison beweeg, nie slegs met sonsopkoms en sonsondergang oor ’n hele jaar nie. Die boë is dus versoenbaar met uitsluitlik nagtelike gebruik. Die laaste toevoeging was nog ’n boog onderaan, geïdentifiseer as ’n sonskip. Dit is ook van goud gemaak, maar dié goud kom van ’n ander bron af. Teen die tyd dat die skyf begrawe is, het dit ook 38 tot 40 gate gehad wat rondom sy rand uitgeslaan is, elk ongeveer 3 mm in deursnee. Die presiese getal word deur skade aan die rand van die skyf verbloem.

Betekenis thumb|'n Video wat verduidelik hoe belangrik die hemelskyf is.

Die Hemelskyf van Nebra kon 'n praktiese sterrekundige en/of 'n godsdienstige betekenis gehad het.

Die vonds bekragtig die kennis dat mense van die vroeë Europese Bronstydperk die jaarlikse gang van die Son nou waargeneem het, asook die hoek tussen sy opkoms- en ondergangspunte met die twee sonstilstande. Terwyl ouer aardwerk- en megalitiese sterrekundekomplekse soos die Goseck-sirkel (omstreeks 4900 v.C.) en Stonehenge (omstreeks 2500 v.C.) reeds gebruik is om die sonstilstande aan te dui, verteenwoordig die skyf dié kennis in die vorm van 'n draagbare voorwerp.

Ronde strukture van hout met sterrekundige oplynings is reeds sedert omstreeks 2300-1900 v.C. deur die Unetice-kultuur by Pömmelte en Schönebeck in Duitsland gebou. Volgens uitgrawings op die Pömmelte-terrein dui sterk ooreenkomste met die uitleg van Stonehenge daarop dat dié monumente deur dieselfde kultuur gebou is: die sogenaamde Klokbekerkultuur, die voorgangers van die Unetice-kultuur. Die ooreenkoms tussen Pömmelte en vroeëre omheinings soos die Goseck-sirkel dui dalk op 'n voortsetting van tradisies wat uit die Europa van die vroeë Neolitikum kom.

Gemeenskap Die argeoloog Euan MacKie stel voor die Hemelskyf van Nebra en ander artefakte uit Brittanje lewer bewys vir die bestaan van ’n "klas sterrekundige priesters" in die vroeë Bronstydperk, wat moontlik reeds in die Neolitikum bestaan het en verantwoordelik was vir die skepping van monumente soos Stonehenge.

Volgens die Franse Musée d'Archaeologie Nationale roep die skyf ’n "komplekse samelewing op, ongetwyfeld streng hiërargies, met gevorderde tegniese en sterrekundige kennis, georganiseer rondom werk op die lande".

Kalenderreël Die uitbeelding van die Plejades op die skyf saam met ’n sekelmaan word beskou as ’n kalenderreël vir die sinchronisering van son- en maankalenders, wat die skepping van ’n maansonkalender moontlik gemaak het. Dié reël is bekend uit ’n versameling tekste uit die antieke Babiloniese tydperk met die titel MUL.APIN, wat uit ongeveer 700 v.C. dateer.

thumb|250px|Goue stroke aan die kant van die skyf dui die somer- en wintersonstilstande aan, en die bokant verteenwoordig die horison en noord. Dit is die teenoorgestelde van moderne sterrekaarte, wat bedoel is om omhoog gehou en van onder af beskou te word.

Volgens een van die sewe reëls in die handboek moet ’n skrikkelmaand bygevoeg word wanneer die Plejades in die lente langs ’n sekelmaan van ’n paar dae oud verskyn, soos op die skyf uitgebeeld word. Dit vind ongeveer elke drie jaar plaas.

Die Duitse argeoloog Harald Meller stel voor dat kennis van hierdie reël deur langafstandhandel en kontakte van Babilonië na Sentraal-Europa kon gekom het. Baltiese amberkrale is ontdek in ’n fondamentneerslag onder die groot ziggoerat van Assur in Irak wat uit omstreeks 1800-1750 v.C. dateer, wat daarop dui dat ’n verbinding tussen die twee streke bestaan het toe die Hemelskyf van Nebra geskep is. Sommige Assirioloë en sterrekundiges het egter die vergelyking van die skyf met MUL.APIN verwerp.

Die getal sterre wat op die skyf uitgebeeld word (32) word ook as betekenisvol beskou, moontlik omdat dit die kalenderreël numeries kodeer. Eerstens vind die verbinding van die sekelmaan en die Pleiades wat op die skyf uitgebeeld word, plaas ná 32 dae ná die laaste "nuwe lig" (die eerste sigbare sekelmaan van die maand), en nie vroeër nie. Tweedens, omdat ’n maanjaar (354 dae) elf dae korter as ’n sonjaar (365 dae) is, is 32 sonjare gelyk in lengte aan 33 maanjare (met ’n fout van slegs twee dae). Dit wil sê, 32 x 365 = 11 680 dae, en 33 x 354 = 11 682 dae. Hierdie 32-sonjaarsiklus kan op die skyf voorgestel word deur 32 sterre plus die son (of volmaan), wat saam 33 gee.

Die Hemelskyf van Nebra is al vergelyk met ’n gedeelte uit die Griekse digter Hesiodus se werk wat omstreeks 700 v.C. geskryf is en die rol van die Plejades in die organisering van die landboujaar beskryf: "Wanneer die Plejades, dogters van Atlas, opkom, begin jou oes, en jou ploegwerk wanneer hulle besig is om onder te gaan. Veertig nagte en dae is hulle verborge, en hulle verskyn weer wanneer die jaar draai, wanneer jy vir die eerste keer jou sekel slyp. Dit is die wet van die vlaktes, en van dié wat naby die see woon, en wat die vrugbare land, die valleie en laagtes ver van die onstuimige see bewoon – wees gereed om te saai en gereed om te ploeg en gereed om te oes as jy al Demeter se vrugte op die regte tyd wil insamel en elke soort op sy regte tyd wil laat groei."

Uitbeeldings van die Plejades is ook bekend uit sommige rotsgravures wat uit die vroeë Bronstydperk dateer, soos dié by Mont Bégo in die suidelike Alpe. Die skyf toon ook sekere ooreenkomste met petrogliewe uit die Nordiese Bronstydperk, waarvan sommige vermoedelik ’n kalenderbetekenis het.

Mitologie Die Hemelskyf van Nebra is al beskryf as "die oudste bewys van ’n komplekse mitiese wêreldbeeld in Europa." Volgens die argeoloog Miranda Aldhouse-Green kombineer die skyf simbole van ’n godsdienstige en mitologiese aard wat deel was van ’n "komplekse Europese geloofstelsel".

Verbintenisse met Griekeland thumb|220px|'n Goue seëlring uit Micene met dieselfde soort hemelse afbeeldings as op die Hemelskyf van Nebra, 15de eeu v.C.