A Star Is Born is 'n Amerikaanse musiek- en romantiese dramarolprent van 2018 wat deur Bradley Cooper geregisseer en vervaardig is in sy debuut as regisseur. Die draaiboek is deur Cooper, Eric Roth en Will Fetters geskryf. Die hoofrolle word deur Cooper en Lady Gaga vertolk, met Dave Chappelle, Andrew Dice Clay en Sam Elliott as byspelers. Dit gaan oor 'n alkoholistiese musikant (Cooper) wat 'n jong sangeres (Gaga) ontdek en op haar verlief raak. Dit is die derde herverwerking van die oorspronklike A Star Is Born van 1937 ná dié in 1954 en 1976, laasgenoemde met Kris Kristofferson en Barbra Streisand.
thumb|120px|Alec Badwin Die première was op 31 Augustus 2018 op die Venesiese Internasioale Rolprentfees en die prent is op 5 Oktober 2018 deur Warner Bros. Pictures in Amerika uitgereik. Dit was 'n groot sukses wat wêreldwyd meer as $436 miljoen verdien het. Dit het ook groot lof ingepalm vir Cooper, Gaga en Elliott se toneelspel en Cooper se regie, sowel as vir die draaiboek, kinematografie en musiek.
Die prent het talle pryse en benoemings ontvang, insluitend agt benoemings vir Oscars (onder meer beste prent, beste akteur, beste aktrise en vir Elliot as beste manlike byspeler). Dit het die Oscar vir beste oorspronklike liedjie gewen vir "Shallow". Dit het ook vyf benoemings vir Golden Globes gekry en het die prys vir beste oorspronklike liedjie gewen vir "Shallow".
Die prent se klankbaan het 'n Bafta gewen vir beste musiek en vier Grammys uit sewe benoemings. Vir haar toneelspel en bydraes tot die klankbaan was Gaga die eerste vrou in die geskiedenis wat in een jaar 'n Oscar, Bafta, Golden Globe en Grammy gewen het. Cooper was die eerste mens in Bafta se geskiedenis wat in een jaar benoemings ontvang het vir vervaardiging, regie, skryfwerk, toneelspel en komponeerwerk.
Akteurs
Bradley Cooper as Jackson "Jack" Maine, 'n gevestigde sanger en liedjieskrywer, en akoholis Lady Gaga as Ally Maine, 'n sangeres en liedjieskrywer wat deur Jack ontdek word Andrew Dice Clay as Ally se pa Dave Chappelle as George "Noodles" Stone, 'n afgetrede musikant en Jack se beste vriend Sam Elliott as Bobby Maine, Jack se ouer halfbroer en bestuurder Rafi Gavron as Rez Gavron, 'n musiekvervaardiger en Ally se bestuurder Anthony Ramos as Ramon, Ally se vriend Drena de Niro as Paulette Stone, Noodles se vrou Greg Grunberg as Phil, Jack se drywer
Daarbenewens vertolk Shangela die rol van die fopdosser-seremoniemeester, Willam Belli die rol van die fopdosser Emerald en Ron Rifkin dié van Jackson se rehabilitasieterapeut, Carl. Barry Shabaka Henley is Little Feet, Rebecca Field is Gail en Michael Harney is Wolfie, 'n vriend van Lorenzo. Lukas Nelson & Promise of the Real vertolk die rolle van Jackson se musiekgroep. Eddie Griffin is 'n plaaslike prediker en Luenell is 'n kassier. Marlon Williams, Brandi Carlile, Alec Baldwin, Halsey en Don Roy King vertolk kameerolle as hulleself. Cooper se eie hond, Charlie, is die hond wat deur Ally en Jackson aangeneem word.
Storielyn
Die 43-jarige Jackson "Jack" Maine, ’n country-rocksanger wat in die geheim teen alkohol- en dwelmverslawing worstel, tree by ’n konsert op. Sy vernaamste ondersteuning is Bobby, sy bestuurder en ouer halfbroer. Ná ’n vertoning gaan Jack uit vir drankies en besoek hy ’n fopdosserkroeg.
Daar sien Jack ’n huldigingsoptrede aan Édith Piaf deur die 31-jarige Ally, wat as ’n kelnerin en sanger-liedjieskrywer werk. Hy is verstom deur haar optrede, en hulle bestee die nag om te gesels. Ally bespreek haar onsuksesvolle pogings om ’n professionele musiekloopbaan na te streef. Sy deel lirieke wat sy geskryf het, en hy sê vir haar sy is ’n talentvolle liedjieskrywer en behoort haar eie materiaal op te voer. Jack nooi Ally na sy volgende vertoning. Ten spyte van haar aanvanklike weiering, woon sy dit by en sing, met Jack se aanmoediging, die liedjie "Shallow" saam met hom op die verhoog. Jack nooi Ally om op toer te gaan, en hulle raak romanties by mekaar betrokke.
In Arizona besoek Ally en Jack die plaas waar Jack grootgeword het en waar sy pa begrawe is. Hulle ontdek egter Bobby het die grond verkoop en dit is in ’n windplaas omskep. Jack, kwaad oor die verraad, val Bobby aan, waarna Bobby as sy bestuurder bedank. Voordat hy dit doen, onthul Bobby dat hy vir Jack van die verkoop vertel het, maar Jack was te dronk om dit te onthou.
Terwyl hulle op toer is, ontmoet Ally vir Rez, ’n platevervaardiger wat haar ’n kontrak aanbied. Hoewel hy duidelik gepla is, ondersteun Jack steeds haar besluit om by Rez te teken. Rez verskuif Ally se fokus weg van country na popmusiek. Jack loop een van Ally se optredes mis nadat hy in die openbaar dronk geword het. Jack herstel aan huis van sy beste vriend, George "Noodles" Stone, en maak later weer vrede met Ally. Hy vra haar om te trou met ’n geïmproviseerde ring wat van ’n lus van ’n kitaarsnaar gemaak is. Hulle trou dieselfde dag in ’n kerk waar ’n familielid van Noodles die diens lei.
Tydens Ally se optrede op Saturday Night Live raak Bobby en Jack versoen. Later baklei Ally en ’n dronk Jack oor haar groeiende artistieke sukses. Jack kritiseer Ally se nuwe beeld en musiek, aangesien haar sukses sy afnemende gewildheid oortref. By die Grammys, waar Ally in drie kategorieë benoem is, lewer ’n sigbaar dronk Jack ’n huldeblyk aan Roy Orbison. Later die aand wen sy die Grammy vir beste nuwe kunstenaar. Terwyl Ally haar aanvaardingstoespraak lewer, strompel die steeds besope Jack na haar toe, maak hom in die openbaar nat en sak bewusteloos neer. Ally se pa, Lorenzo, skel op ’n halfbewuste Jack terwyl Ally probeer om hom nugter te kry.
Jack sluit kort daarna by ’n rehabilitasieprogram aan. Hy vertel aan sy berader dat hy op die ouderdom van 12 probeer het om selfmoord te pleeg en onthul sy toenemend erger wordende tinnitus (gesuis in die ore). Jack vra Ally huilend verskoning vir sy gedrag. Terwyl hy huis toe terugkeer, erken Jack aan Bobby dat dit hy was, en nie hulle pa nie, wat hy verafgod het. Ally vra Rez om Jack saam op haar Europese toer te neem, maar Rez weier, wat Ally aanspoor om die res van die toer te kanselleer om na Jack om te sien.
Rez konfronteer Jack en beskuldig hom daarvan dat hy Ally se loopbaan byna verwoes het, en sê Jack sal beslis weer van die waterkar afval. Hy sê dit is "verleentheidswekkend" dat sy met hom getroud is. Daardie aand lieg Ally vir Jack en sê haar platemaatskappy het haar toer gekanselleer sodat sy op haar tweede album kan fokus. Jack belowe hy sal daardie aand na haar konsert kom, maar nadat Ally vertrek het, hang hy homself in hulle motorhuis op.
Die slottonele onthul ’n terugflits van Jack wat aan ’n liedjie werk oor sy liefde vir Ally wat hy nooit voltooi het nie. Ally voer dit as ’n huldeblyk aan Jack op en stel haarself vir die eerste keer bekend as Ally Maine.
Vervaardiging Voorproduksie Vorige herverwerkings van die oorspronklike rolprent van 1937 sluit in die een van 1954 met Judy Garland en die een van 1976 met Barbra Streisand en Kris Kristofferson in die hoofrolle. Die Bollywood-fliek Aashiqui 2 (2013) is ook deur A Star Is Born geïnspireer, maar was nie 'n herverwerking nie. Die idee van 'n nuwe herverwerking dateer reeds van die 1990's. In 2000 was daar gerugte dat Jamie Foxx en Oliver Stone ernstig in 'n herverwerking geïnteresseerd is. Foxx het reeds met die sangeres Aaliyah en die akteur Paul Walker gesels vir die hoofrolle.
Van 2011 af het verskeie mense soos Clint Eastwood planne gemaak om die prent te verfilm. Sangeresse wat oorweeg is, sluit in Beyoncé, Jennifer Lopez, Rihanna, Shakira, Janelle Monáe, Selena Gomez en Demi Lovato. Van die mans wat oorweeg is, is Christian Bale, Leonardo DiCaprio, Tom Cruise, Johnny Depp en Will Smith.
Op 24 Maart 2015 het Warner Bros. Pictures aangekondig Cooper is in finale onderhandelings betrokke om sy debuut as regisseur met die prent te maak. Ondanks waarskuwings deur mense na aan hom en met die wete dat dit 'n risiko was om nog 'n herverwerking van A Star Is Born te maak, het die projek iets in hom aangevuur. Cooper wou sedert sy kinderjare 'n prent regisseer, en op 40 het hy gevoel dis nou die tyd.
Rolverdeling thumb|180px|links|Lady Gaga sing "La vie en rose" in 2015 op 'n konsert. Haar vertoning het Cooper laat besluit om haar 'n rol aan te bied.
Cooper het die manlike hoofrolspeler geword te midde van sy samesprekings om sy regisseursdebuut einde Maart 2016 te maak. Volgens Cooper wou hy aanvanklik net die prent regisseer en nie daarin speel nie. Sy eerste keuse vir die manlike hoofrol was die musikant Jack White, maar die ateljee het die idee verwerp. Cooper het toe ingestem om self die rol te vertolk.
Op 16 Augustus 2016 is aangekondig die vroulike hoofrol is Lady Gaga s'n. Die vervaardiging sou vroeg in 2017 begin. Cooper het besluit om die rol vir Gaga te gee nadat hy haar "La Vie en rose" op 'n welsynkonsert sien sing het.
Hulle het dadelik begin saamwerk, sing en materiaal informeel beproef, wat bygedra het tot die dinamika tussen hulle op die skerm. Gaga het maande voordat die verfilming begin het, haar hare gekleur en grimering verwyder om haar van haar openbare beeld te distansieer en beter by Ally se karakter aan te pas
Op 17 Maart 2017 het Sam Elliott by die span aangesluit in die rol van Jack se halfbroer en bestuurder. In dieselfde maand het Andrew Dice Clay met samesprekings begin vir die rol van Lorenzo, Ally se pa, wat 'n komiese sy sou verskaf.
Om die egtheid van die prent te vergroot het Cooper 'n paar fopdossers in klein rolle geplaas, onder andere 'n paar wat hy van Philadelphia geken het, asook Gaga se dansers, choreograaf en grimeerkunstenaars.
Regie en verfilming Cooper het klem gelê op emosionele egtheid in sy regie en gesê die prent se persoonlike besonderhede sal die storie getrouer laat voel. Gedurende emosioneel moeilike tonele het hy verkies om fisiek na aan die akteurs te bly eerder as om van videomonitors af te regisseer; hy het geglo nabyheid aan die akteurs sou hulle gewilliger maak om waagstukke te neem. Gaga het gesê dié sin van vertroue het haar tonele van konfrontasie met Cooper gevorm: Wanneer sy teenoor hom gespeel het, was sy bang vir hom en is terselfdertyd deur hom ondersteun. Vir Jackson se dronkste tonele, insluitend die Grammy-toneel, het Cooper deels in karakter gebly terwyl hy regisseer. Elliott onhou ná Jackson se belydenistoneel teenoor Bobby het Cooper die toneel klaargemaak, 'n monitor opgetel en sy regie hervat; Elliott beskryf die oomblik as dat hy Bradley die akteur sien verander het in Bradley die regisseur.
thumb|180px|Cooper afgeneem tydens 'n vertoning by die Glastonbury-fees van 2017 vir die prent se openingstoneel. Die hoofverfilming vir A Star Is Born het op 17 April 2017 begin. Die egtheid van die prent is verhoog deur konserttonele op werklike musiekfeeste met regte toeskouers te verfilm. Die sleuteloptredes is op die Stagecoach-fees in Indio, Kalifornië, tussen optredes deur Jamey Johnson en Willie Nelson verfilm. Die filmspan het net agt minute gehad om die kameras op te stel en 'n toneel te skiet.
Bykomende tonele is op die Coachella- en die Glastonbury-fees geskiet. Lady Gaga het op Coachella opgetree terwyl sy tussendeur tonele vir die fliek geskiet het, en dit het die span uitgebreide toegang tot die hele feesterrein gegee. Glastonbury-tonele is voor 'n skare van sowat 80 000 verfilm, met Kris Kristofferson wat die span 'n kort tydjie van vier minute gegee het om 'n toneel op die verhoog op te neem.