Die herneutermes (soms hernutermes en hernuitermes) is ‘n ouderwetse, lang, skerp jagmes wat meestal in ‘n holster aan die lyfband gedra is. So ‘n mes was vir baie jagters en die Voortrekkers nie slegs ‘n wapen nie, maar ‘n onmisbare stuk gereedskap.
Die Duitse sendelinge in Suid-Afrika se doel was om nie slegs hul volgelinge tot die Christendom te bekeer nie. Hul wou hul gemeentelede ook in ‘n verskeidenheid ambagte oplei. Op Genadendal het die sendelinge afkomstig van Herrnhut, dus die Herrnhuter-sendelinge (ook bekend as die Morawiese broeders), hul Khoikhoi-lidmate onder andere onderrig in die maak van messe.
In Maart 1797 is ‘n smedery en hoogoond by die sendingpos opgerig. Kort daarna begin sendeling Johann Christian Kühnel (*Oberseifersdorf, Silesië, 10 Junie 1762 - †Genadendal, 20 April 1813), wat voorheen self ‘n mesmaker was, sy volgelinge oplei in die gebruik van die smidswinkel vir die maak van messe. Die gevolg was dat Genadendal in die Kaapkolonie beroemd geword het as ‘n produsent van messe van gehalte. Later is sulke messe waarskynlik ook gemaak by Elim en ander stasies van die Morawiese kerk.
In die volksmond het die messe bekend geraak as die herneutermesse, na aanleiding van die moeilike naam Herrnhutermesse.
Bibliografie Liebenberg, Helena: Stories oor die herkoms en betekenis van Afrikaanse idiome, segswyses en woorde. https://www.taaloord.co.za/Idiome_A-Z-lys_Helena_Liebenberg.pdf taaloord.co.za
Kategorie:Duitse sendelinge Kategorie:Christelike sendings