Die Gorachouqua was een van die Khoikhoi-stamme wat in die middel van die 17de eeu in die Kaapse Skiereiland gewoon het. Hulle was betrokke by die eerste oorlog tussen blank en nie-blank in Suid-Afrika.
Stamme Met die aankoms van Jan van Riebeeck tref hy vier groepe mense aan die Kaap aan, naamlik die Goringhaikona (die Strandlopers of Watermanne) onder Autshomao, die Gorachouqua (die Tabakdiewe) onder Choro, die Goringhaiqua (die Kaapmans) en ‘n vierdie groep gelei deur Ankoisa. Laasgenoemde drie groepe het aanspraak gemaak op die hele gebied rondom die Kaap.
Nomadies Die Gorachouqua-groep van hoofmanne Choro en Gogosoa het in 1657 uit meer as 3000 mense bestaan. Hulle het ‘n 15000 beeste en 9000 skape besit. Die stam is telkens in ‘n ander omgewing aangetref: noordoos van die Tygerberg, in 1657 in die vallei van die Bergrivier, by Klapmuts in 1660 en weer langs die Liesbeek. Hulle was onwillig om vee met die koloniste te ruil en boonop ontevrede oor die vervreemding van hul weiveld en waterbronne en die diefstal van hull beeste deur die Vryburgers. Op hul beurt was die koloniste weer ontevrede oor die voortdurende diefstalle van hul vee en gereedskap en vernieling van hul akkers deur die Khoikhoi.
Oorloë In 1659 het van die Khoikhoi-stamme saamgestaan en in die Eerste VOC-Khoikhoi-oorlog (1659-1660) die blanke nedersetting aangeval.. Die lae-intensiteit-oorlog het skaakmat bereik toe die Strandlopers die VOC-bewind om vrede kom vra en die Goringhaiqua en die Gorachouqua na Saldanhabaai uitwyk. Laasgenoemde sluit op op 5 Mei 1660 met Jan van Riebeeck vrede en kom die oorlog tot ‘n onbesliste einde. Tussen 1673 en 1677 was daar ‘n Tweede VOC-Khoikhoi-oorlog. Om hul stamlewe te kon voortsit, het lede van die Gorachouqua-groep en die Goringhaicona-groep omstreeks 1680 noordwaarts begin verhuis. Gaandeweg sou hierdie verhuising momentum kry en het die groepe hul bekende voorouderlike weivelde verlaat. Verskeie van hierdie mense kon op die tydstip al goed Nederlands praat. Hulle vestig mettertyd rondom die huidige Upington en veral op die eilande in die Oranjerivier. Geslagte later het hulle as die Korana bekend geword.
Bronnelys De Wet, Con en Leon Hattingh en Jan Visagie (reds.): Die VOC aan die Kaap, 1652 – 1795. Pretoria: Protea, 2016. ISBN 978-1-4853-0019-9
Verwysings
Kategorie:Etniese groepe in Suid-Afrika Kategorie:Khoikhoi