Prometheus is 'n wetenskapsfiksierolprent van 2012 wat deur Ridley Scott geregisseer en deur Jon Spaihts en Damon Lindelof geskryf is. Dit is die vyfde aflewering van die Alien-rolprentreeks en die akteurs sluit in Noomi Rapace, Michael Fassbender, Guy Pearce, Idris Elba, Logan Marshall-Green en Charlize Theron. Dit speel laat in die 21ste eeu af en gaan oor die bemanning van die ruimteskip Prometheus. Hulle volg 'n sterkaart wat tussen die artefakte van verskeie beskawings op Aarde gevind is en gaan soek na die oorsprong van die mensdom. Hulle kom op 'n verafgeleë wêreld aan en ontdek 'n bedreiging wat die mens kan uitwis.

Scott en die regisseur James Cameron het idees ontwikkel vir 'n voorprent vir Scott se gruprent Alien van 1979. In 2002 het die ontwkkeling van Alien vs. Predator (2004) voorrang geniet en die projek is laat vaar tot in 2009, toe Scott weer belangstelling daarin getoon het. Spaihts het 'n draaiboek vir 'n voorprent geskryf, maar Fox het van plan verander.

Laat in 2010 het Lindelof by die span aangesluit en Spaihts se draaiboek oorgeskryf as 'n storie wat nie direk met die oorspronklike reeks verband hou nie. Die prent is in Engeland, Ysland, Skotland, Jordanië en Spanje verfilm.

Dit is op 1 Junie 2012 in Brittanje uitgereik en op 8 Junie in Noord-Amerika. Dit het oor die algemeen gunstige resensies gekry; veral die ontwerpe, produksiewaardes en toneelspel is geloof. 'n Opvolg, Alien: Covenant, is in Mei 2017 uitgereik.

Rolverdeling

Noomi Rapace as Elizabeth Shaw, 'n argeoloog Michael Fassbender as David, 'n robot Charlize Theron as Meredith Vickers, wat saamgestuur word om toesig oor die operasie te hou Idris Elba as Janek, die kapten van die skip Guy Pearce as Peter Weyland, die miljardêr-stigter en hoof- uitvoerende beampte van Weyland Corp Logan Marshall-Green as Charlie Holloway, 'n argeoloog en Shaw se minnaar Sean Harris as Fifield, 'n geoloog Rafe Spall as Millburn, 'n bioloog Kate Dickie as Ford, 'n mediese ordonnans Emun Elliott as Chance, 'n vlieënier Benedict Wong as Ravel, 'n vlieënier Patrick Wilson as Shaw se pa

Storielyn

Terwyl 'n ruimtetuig van 'n planeet af vertrek, drink 'n lang, buiteaardse humanoïed 'n swart vloeistof, wat meebring dat sy liggaam oplos. Sy oorblyfsels val in 'n waterval en die wese se DNS val uiteen en begin weer saamsmelt.

thumb|270px|Prometheus se sterkaart is geïnspireer deur Joseph Wright se skildery A Philosopher Lecturing on the Orrery. (Orrery is 'n meganiese model van die Sonnestelsel.) In 2089 ontdek die argeoloë Elizabeth Shaw en Charlie Holloway 'n sterkaart in Skotland wat ooreenstem met baie ander van verskeie onverbonde antieke kulture. Hulle vertolk dit as 'n uitnodiging van die mens se voorlopers, die "Ingenieurs". Peter Weyland, die bejaarde hoof- uitvoerende beampte van Weyland Corporation, befonds 'n ekspedisie aan boord van die ruimteskip Prometheus om die kaart te volg na die verafgeleë maan LV-223. Gedurende die vlug monitor die robot David hulle reis.

Die Prometheus land op die maan se barre, bergagtige oppervlak naby 'n groot kunsmatige struktuur. Die span verken die binnekant en ontdek steensilinders, 'n monolitiese standbeeld van 'n humanoïede kop en die onthoofde lyf van 'n groot buiteaardse wese. Shaw stel vas die liggaam is dié van 'n Ingenieur en besluit om sy kop terug te neem na die Prometheus. Die bemanning ontdek ook ander liggame, wat hulle laat aanneem dié spesie het uitgesterf. Die bemanningslede Millburn en Fifield word ongemaklik oor die vondste en probeer na die Prometheus terugkeer, maar verdwaal in die struktuur. Die ekspedisie word kortgeknip toe 'n storm die bemanning dwing om terug te keer na die ruimtetuig. David neem in die geheim 'n silindriese vaas saam met hom, terwyl 'n swart vloeistof uit die meeste sypel. In die ruimteskip se laboratorium word ontdek die Ingenieur se DNS stem ooreen met dié van 'n mens. David ondersoek die inhoud van die silinder. Hy besmet met opset 'n drankie daarmee en gee dit aan die niksvermoedende Holloway, wat dit drink. Kort daarna het hy en Shaw seks.

In die struktuur maak 'n slangagtige wese Millburn dood en besproei Fifield se helm, wat dit laat smelt. Fifield val met sy gesig in 'n poel. Toe die bemanning terugkeer, kom hulle op Millburn se lyk af. David ontdek op sy eie 'n beheerkamer met 'n oorlewende Ingenieur en 'n holografiese sterkaart met die koördinate van die Aarde beklemtoon. Intussen word Holloway vinnig al hoe sieker. Die ander jaag met hom teurg na die Prometheus, maar die sendingleier, Meredith Vickers, weier dat hy aan boord kom. Op sy aandrang brand sy hom met 'n vlamwerper dood. Later toon 'n skandering Shaw, wat voorheen onvrugbaar was, is nou ver swanger. Omdat sy die ergste vrees, gebruik Shaw 'n outomatiese operasietafel om 'n inkvisgatige wese uit haar onderlyf te trek. Daarna vind sy uit Weyland, Vickers se pa, is aan bood van die Prometheus. Hy verduidelik hy wil die Ingenieurs vra hoe om nie van ouderdom te sterf nie.

'n Monsteragtige, gemuteerde Fifield keer na die ruimteskip terug en maak verskeie bemanningslede dood voordat die skip se kaptein, Janek, hom doodmaak. Hy spekuleer teenoor Shaw die struktuur is eintlik 'n militêre basis van die Ingenieurs en dat hulle beheer oor 'n kragtige biologiese wapen verloor het. In die struktuur is ook 'n ruimtetuig. Weyland en die span keer saam met Shaw na die struktuur terug. David maak die Ingenieur uit sy halfbewustelose toestand wakker en praat met hom in 'n Proto-Indo-Europese taal. Hy probeer aan hom verduidelik wat Weyland wil hê. Die Ingenieur reageer deur Weyland en sy span dood te maak en David te onthoof voordat hy die ruimtetuig reaktiveer. Shaw vlug desperaat en waarsku Janek dat die Ingenieur na die Aarde wil vlieg en alle lewensvorme uitwis. Janek en die oorblywende bemanningslede offer hulle lewe op deur met die Prometheus in die buiteaardse tuig vas te vlieg. 'n Reddingsboot word vrygestel. Vickers ontsnap, maar die buiteaardse tuig, wat ná die ongeluk buite beheer is, ry bo-oor haar.

Shaw keer na die reddingsboot terug en ontdek haar buiteaardse "kind" lewe nog en is nou so groot soos 'n reus. Die Ingenieur forseer die reddingsboot se deur oop en val Shaw aan, maar sy laat haar buiteaardse "kind" op hom los. Dit druk 'n lang eierboor in die Ingenieur se keel af en stel hom so buite aksie. Shaw kry David se oorblyfsels en beplan om saam met hom na die Ingenieurs se tuisplaneet te gaan soek om uit te vind hoekom hulle die mens wil vernietig. Met David se hulp vertrek sy in 'n ander ruimtetuig van die Ingenieurs van LV-223.

In die reddingsboot wat op die maan agtergelaat is, bars 'n woeste buiteaardse wese uit die Ingenieur se bors.

Temas Die sentrale tema in Prometheus is die Titaniese god Prometeus van die Griekse mitologie wat die gode trotseer en aan die mensdom die gawe van vuur gee, waarvoor hy aan ewige straf onderwerp word. Die gode wil die mense se skeppings beperk ingeval hulle probeer om die gode te onttroon. Die rolprent handel oor die mensdom se verhouding met die gode – hulle skeppers – en die gevolge daarvan om hulle te trotseer. ’n Menslike ekspedisie beoog om hulle te vind en kennis oor geloof, onsterflikheid en die dood te ontvang. Hulle vind verhewe wesens wat in vergelyking met die mensdom goddelik voorkom, en die bemanning van die Prometheus ly gevolge vir hulle soeke. Shaw is regstreeks verantwoordelik vir die gebeure van die intrige omdat sy haar godsdienstige oortuigings bevestig wil hê en glo sy is geregtig op antwoorde van haar god; haar vrae bly onbeantwoord en sy word vir haar aanmatiging gestraf. Die rolprent verskaf stukke inligting, maar laat die verbande en gevolgtrekkings aan die gehoor oor, wat moontlik die vraag onbeantwoord laat. Verdere godsdienstige illusies word geïmpliseer deur die Ingenieurs se besluit om die mensdom 2 000 jaar voor die gebeure van die rolprent met vernietiging te straf. Scott het voorgestel ’n Ingenieur is na die Aarde gestuur om die mensdom se toenemende aggressie stop te sit, maar is gekruisig, wat impliseer dat dit Jesus Christus was. Scott het egter gevoel dat ’n uitdruklike verband in die rolprent “’n bietjie te voor die hand liggend” sou wees.

Kunsmatige intelligensie, ’n verenigende tema deur Scott se loopbaan as regisseur, is besonder duidelik in Prometheus, hoofsaaklik deur die robot David. David is soos mense, maar wil nie soos hulle wees nie en vermy ’n algemene tema in “robotiese vertellings” soos in Blade Runner. David word na die beeld van die mensdom geskep, en terwyl die menslike bemanning van die tuig Prometheus na hulle skeppers soek in die verwagting dat hulle antwoorde sal kry, bestaan David tussen sy menslike skeppers maar is nie beïndruk nie; hy bevraagteken sy skeppers oor waarom hulle hulle eie skeppers soek. Lindelof het die skip as ’n gevangenis vir David beskryf. Aan die einde van die rolprent is David se skepper (Weyland) dood en sy fundamentele programmering sal eindig sonder iemand om te dien. Lindelof het verduidelik David se programmering word onduidelik en dat hy moontlik deur Shaw of deur sy eie nuuskierigheid geprogrammeer kan word. Ná Weyland se dood word David saam met Shaw agtergelaat, en hy is opreg geïnteresseerd daarin om haar te volg, deels uit oorlewing en deels uit nuuskierigheid.

200px|thumb|Die Dettifosswaterval in Ysland is in die prent se openingstoneel gebruik om te wys hoe 'n Ingenieur lewe skep. Nog ’n tema is skepping en die vraag: “Wie is ek? Wie het my geskep? Waarom het U my verlaat?”. Die ontwikkeling van die mitologie binne die fiktiewe heelal het die Joods-Christelike skepping van die mensdom ondersoek, maar Scott was geïnteresseerd in Grieks-Romeinse en Asteekse skeppingsmites oor gode wat mense na hulle eie beeld skep deur ’n deel van hulleself op te offer. Hierdie skepping word in die openingsgedeelte van die rolprent getoon waarin ’n Ingenieur homself opoffer nadat hy die donker vloeistof ingeneem het, en as ’n “tuinier in die ruimte” optree om lewe na ’n wêreld te bring. Een van hulle ekspedisies skep die mensdom, wat weer kunsmatige lewe (David) na hulle eie beeld skep. David stel dan die donker vloeistof aan Holloway bekend, wat ’n onvrugbare Shaw bevrug. Die gevolglike kind bevrug daarna ’n Ingenieur, wat die kind van al drie geslagte skep. Scott het die Ingenieurs vergelyk met die gevalle engele van John Milton se Paradise Lost en gesê die mensdom was hulle nageslag en nie God s’n nie.

Shaw is die enigste godsdienstige gelowige in die bemanning en vertoon openlik haar geloof met ’n hangertjie van ’n Christelike kruis. Lindelof het gesê haar oortuigings, gegewe haar wetenskaplike kennis, het teen 2093 verouderd gevoel. Shaw is opgewonde toe sy uitvind sy is deur die Ingenieurs geskep is en nie deur ’n bonatuurlike godheid nie, maar eerder as om haar geloof te verloor, word dit versterk. Lindelof het gesê die stel van vrae en die soeke na betekenis is die kern daarvan om te leef, en daarom word die gehoor gelaat om te wonder of Shaw deur God beskerm is vanweë haar geloof. Scott wou hê die rolprent moes eindig met Shaw se verklaring dat sy steeds na definitiewe antwoorde soek. Benewens die godsdienstige temas het Lindelof gesê Prometheus is ten gunste van die wetenskap en stel ondersoek in na of wetenskaplike kennis en geloof in God saam kan bestaan.

Die prent put verskeie invloede uit Paradise Lost, maar die tydskrif The Atlantic se Govindini Murty merk verdere invloede op en skryf “die treffende beelde wat Ridley Scott vir Prometheus uitgedink het, verwys na alles van Stanley Kubrick se 2001: A Space Odyssey tot Leonardo da Vinci se Vitruviaanse Man en Mario Bava se rolprent Planet of the Vampires. Scott brei ook die oorspronklike Alien-heelal uit deur ’n duidelik Engelse mitologie te skep wat beïnvloed is deur Milton se Paradise Lost en die simboliese tekeninge van William Blake.”

Produksie en uitreiking thumb|links|160px|Ridley Scott is die regisseur van Prometheus.