Johan du Plessis (Johannes Christiaan Marthinus Daniël du Plessis; 25 November 1940 – 8 April 2026) was ’n Suid-Afrikaanse leksikograaf en akademikus wat veral bekend was vir sy werk aan die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT). Hy het as eindredakteur van die WAT gedien en was ook vir ’n lang tydperk redakteur van die internasionale vaktydskrif Lexikos. Hy was ’n erelid van die African Association for Lexicography (AFRILEX). African Association for Lexicography (AFRILEX). 2026. Huldeblyk aan dr. Johan du Plessis. Gepubliseer op AFRILEX se amptelike platform.
Lewe en loopbaan Du Plessis is op 25 November 1940 op die plaas Bulhoek in die Steynsburg-distrik in die Oos-Kaap gebore. Hy het sy skoolopleiding aan die Laerskool Karel Theron en Hoërskool Middelburg (Oos-Kaap) ontvang.Persoonlike mededeling: Jeanette du Plessis. Hy studeer aan die Universiteit van Stellenbosch, waar hy in 1961 ’n B.A.-graad behaal met Afrikaans en Nederlands en Frans as hoofvakke, en in 1962 ’n honneursgraad in Afrikaans en Nederlands voltooi.Studierekords, Universiteit Stellenbosch. In 1965 verwerf hy ’n M.A.-graad onder leiding van D.J. Opperman met die verhandeling Tradisie en Vernuwing in die Afrikaanse Verhalende Prosa. Hy begin sy loopbaan by die WAT op 1 Julie 1963 as tegniese assistent en word in 1965 tot mederedakteur bevorder. In 1981 word hy senior mederedakteur. Hy voltooi in 1985 ’n D.Litt.-graad aan die Universiteit van Stellenbosch onder leiding van Merwe Scholtz met die proefskrif Die nie-pikareske pikaro: ’n strukturalistiese ondersoek na die pikareske elemente in Van Bruggen se Ampietrilogie. Du Plessis word in 1985 as assistenthoofredakteur van die WAT aangestel en in 1987 permanent bevestig. Ná ’n herstrukturering van die organisasie in 1990 word hy die eerste eindredakteur van die WAT. In hierdie hoedanigheid was hy verantwoordelik vir die funksionele beplanning en redaksionele bestuur van die woordeboek. Onder sy leiding verskyn dele IX, X en XI van die WAT.Ongepubliseerde dokumente van die Beheerraad van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal.
Publikasies en bydraes In 1997 neem Du Plessis die redakteurskap oor van Lexikos, die vaktydskrif van AFRILEX, wat internasionaal erken word as ’n belangrike publikasie in die veld van leksikografie.Alberts, M. 2022. "Lexikos and AFRILEX — A Perfect Lexicographic Liaison". Lexikos 32. Hy dien as redakteur tot 2010 en word later beskryf as een van die langsdienende redakteurs van die tydskrif. Hy was ook die redakteur van Die leksikograaf as eksegeet (1995), ’n bundel oor die lewe en werk van F.J. Snijman, voormalige hoofredakteur van die WAT. Na sy aftrede as eindredakteur van die WAT in 2000 en as redakteur van Lexikos in 2010, het hy steeds aktief gebly in navorsing. Sy latere werk sluit ’n studie oor C. Louis Leipoldt se rol in die materiaalversameling van J.J. Smith se Afrikaanse standaardwoordeboek in.
Afsterwe en nalatenskap Du Plessis is op 8 April 2026 op die ouderdom van 85 jaar oorlede.Buro van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal. 2026. Kennisgewing van die afsterwe van dr. J.C.M.D. du Plessis. Volgens die Buro van die WAT was hy tot kort voor sy afsterwe steeds betrokke by die Buro.
Hy word beskou as een van die sentrale figure in die ontwikkeling van Afrikaanse leksikografie in die laat 20ste eeu, veral deur sy rol in die voortsetting en redaksionele bestuur van die WAT en sy bydrae tot die internasionale profiel van Lexikos.
Verwysings
Kategorie:Leksikografie Kategorie:Suid-Afrikaanse taalkundiges Kategorie:Alumni van die Universiteit Stellenbosch Kategorie:Geboortes in 1940 Kategorie:Sterftes in 2026