duimnael|regs|300px|Uitsig op Fort Pearson op die heuwelkruin aan die suidgrens van Zoeloeland, ca. 1880 Fort Pearson was ‘n Britse fort aan die Tugelarivier wat ‘n rol gespeel het in die Anglo-Zoeloe-oorlog van 1879.

Ligging Die fort lê op ‘n 100 m hoë krans op die suidelike oewer van die rivier en digby die rivierbrug van die N2-hoofweg. Hier is ook die Harold Johnson-natuurreservaat, die Ultimatumboom en suikerrietlande. Die punt bied ‘n uitsig oor die rivier, strand, see en ’n groot deel van die historiese Zululand. Voorheen was hier ‘n hotel by ‘n drif in die rivier.

Reeks forte Die bou van die forte langs die rivier dagteken uit die periode van onrus wat daar in Zoeloeland geheers het na 1854 toe Cetshwayo se stryd met sy broers begin het. Na die Slag van Ndondakusuka op 2 Desember 1856 waarin Cetshwayo sy broer Mbulazi verslaan en gedood het, is daar in die streek ‘n reeks forte gebou om die Natalse grens te beskerm: Fort Scott in 1857, Fort Buckingham in 1861 (wat in 1879 met Fort Cherry vervang is) en Fort Williamson ook in 1861 by die ou wadrif naby die rivier se mond. Laasgenoemde is in 1878 vervang deur Fort Pearson. Tydens die Anglo-Zoeloeoorlog van 1879 is Fort Tenedos regoor Fort Pearson gebou. In 1861 is Fort Cross gebou langs die destydse hoofpad so halfpad tussen Kranskop en Mapumulo.

Hierdie fort duimnael|regs|240px|Kolonel Charles Knight Pearson het Zoeloeland in 1879 met meer as 1000 manskappe van die fort af binnegeval, en dan 'n twee maande lange beleg te Eshowe getrotseer. Die fort bestaande uit grondwalle is in November 1878 op bevel van kommandant F.W. Sullivan deur matrose van die H.M.S. Tenedos en die H.M.S. Active opgerig onder leiding van kol. Charles Knight Pearson, die bevelhebber van lord Chelmsford se suidelike kolonne. Die fort moes die pont bewaak, dien as voorraaddepot en hospitaal. Daar is twee kanonne van die skepe na die fort oorgeplaas. Verder was daar ‘n begraafplaas, ‘n hoenderwerf en ‘n groentetuin.

Monument Die oorblywende murasie en kanonne is op 25 Augustus 1950 tot gedenkwaardigheid verklaar en die oorlogsbegraafplaas is in 1981 opgeknap. Toegang (liefs vergesel van ‘n gids) kan via die Harold Johnson-natuurreservaat verkry word.

Lees ook Historiese slagveldroete van KwaZulu-Natal

Bibliografie Bulpin, T.V.: Natal and the Zulu Country. Kaapstad: Books of Africa, 1966 https://www.battlefieldsroute.co.za/place/fort-pearson-and-ultimatum-tree/ Oberholster, J.J.: Die historiese monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Kultuurstigting Rembrandt van Rijn vir die Raad vir Nasionale Gedenkwaardighede, 1972

Kategorie:Forte in Suid-Afrika Kategorie:Monumente en gedenkwaardighede in Suid-Afrika