Clark Oderth Olofsson (later bekend as Daniel Demuynck; 1 Februarie 1947 - 24 Junie 2025) was 'n Sweedse misdadiger. Hy is gevonnis vir bankrooftogte, aanranding, handel in dwelms en poging tot moord. Hy het meer as die helfte van sy lewe in die tronk deurgebring. Olofsson is dikwels Swede se eerste "sterrampokker" genoem.

Olofsson het 'n onstuimige kinderlewe gehad te midde van alkoholprobleme. Sy pa het die gesin verlaat en sy ma het toe siek geword, waarna Clark en sy twee susters in pleegsorg geplaas is. Vasbeslote om uit 'n ongelukkige pleegsituasie te ontsnap, het Olofsson op 14-jarige ouderdom by 'n matroosskool aangesluit deur sy ma se handtekening te vervals. Hy het op die skip Ballade om die wêreld gevaar. Terug by die huis is hy op 15 met sy ma herenig nadat sy weer stabiliteit in haar lewe gekry het. Die gesin het in Gotenburg gaan woon, waar Olofsson sy misdaadloopbaan begin het.

In die 1960's is hy skuldig bevind aan verskeie misdade en het hy berug geword vir sy aandeel in die moord op 'n polisieman tydens 'n rooftog. Hy het verskeie kere uit die tronk ontsnap. Een van die misdade waarby hy betrokke was, is die Norrmalmstorg-rooftog, wat aanleiding gegee het tot die term "Stockholmsindroom".

Deur die 1970's en '80's het Olofsson 'n patroon gevolg van ontsnappings, misdade en inhegtenisnemings. Hy is in die tronk getroud. Ondanks sy onstuimige misdaadlewe het hy joernalistiek studeer terwyl hy in die tronk was. Hy is in 1983 vrygelaat en het saam met sy vrou na België verhuis. Hy het egter sy misdaadloopbaan voortgesit en is in 1999 vir dwelmsmokkelary gevonnis. In die daaropvolgende dekades was hy steeds by verskeie misdade betrokke. Sy lewensverhaal, vol ontsnappings, skuldigbevindings en regsgevegte, het die onderwerp geword van rolprente, dokumentêre en 'n TV-dramareeks deur Netflix in 2022.

Biografie Vroeë jare Olofsson is op 1 Februarie 1947 in Trollhättan, Swede, gebore in 'n gesin met groot probleme. Hy het twee jonger susters gehad. Sy ma was 'n kassier en sy pa 'n padteerwerker. Toe Clark 11 jaar oud was, het sy pa die gesin versaak en sy ma het kort daarna siek geword. Sy is in 'n sielsiekehospitaal opgeneem. Haar probleme het daartoe gelei dat die drie kinders in pleegsorg geplaas is.

Olofsson was ongelukkig in sy pleeggesin en om daaruit te kom het hy sy ma se handtekening vervals en by 'n matroosskool ingeskryf. Die 14-jarige Clark het in die boot Ballade om die wêreld geseil, insluitende tussen Japan en Suid-Amerika. Op 15 het hy terug na sy ma se huis getrek nadat sy weer beheer oor haar lewe gekry en in 'n winkel begin werk het. Hulle het daarna na Gotenburg verhuis en later na Köldgatan in Biskopsgården.

1960's-1980's Die 16-jarige Clark is in 1963 vir verskeie klein oortredings in 'n instelling vir jong oortreders geplaas. Hy en twee ander seuns het in Augustus 1965 uit die instelling ontsnap en op Harpsund, die landgoed van die eerste minister, Tage Erlander, afgekom waar hulle druiwe, komkommers en tamaties uit die kweekhuis gesteel het. Hulle het gevlug toe die tuinier hulle betrap. Drie maande later het Olofsson twee polisiemanne aangeval. Op 4 Februarie 1966 is hy tot drie jaar tronkstraf gevonnis; dit was sy eerste skuldigbevinding as 'n volwassene en eerste regte tronkstaf. In 1966 het hy die eerste keer uit die tronk by Tidaholm ontsnap.

thumb|280px|links|'n Reklameveldtog in Stockholm vir Netflix se TV-minireeks Clark. Regs op die plakkaat agter is Bill Skarsgård in die naamrol. Op 29 Julie 1966 het die polisiemanne Ragnar Sandahl en Lennart Mathiasson gereageer op die aanmelding van 'n inbraak in 'n fietswinkel in Skjutsaregatan, Nyköping. Sandahl is deur Gunnar Norgren doodgeskiet. Die ander inbreker was Olofsson, wat 'n nasionaal bekende misdadiger geword het.

Norgren is op 16 Augustus daardie jaar in 'n woonstel in Gotenburg in hegtenis geneem en het later skuld aan die moord beken. Die woonstel het behoort aan 'n kêrel van Olofsson se suster. Hy het ontsnap net voordat die polisie opgedaag het. Hy is eindelik op 25 Augustus in Grimmaredsskogen in Västra Frölunda in hegtenis geneem. Olofsson is eers tot 10 jaar tronkstraf gevonnis, maar 'n appèlhof het die vonnis tot agt jaar versag. Norgren is gevonnis tot 12 jaar, die langste tronkstraf wat 'n Sweedse hof toe kon oplê.

Op 4 Februarie 1969 het Olofsson uit die Kumlagevangenis ontsnap en na die Kanariese Eilande gevlug. Van daar is hy met 'n vals paspoort na Frankfort in Wes-Duitsland, waar hy gewoon het totdat die Duitse polisie hom vasgetrek het. Hy is na die Kumlagevangenis teruggeneem.

Twee maande voordat hy vrygelaat sou word, het hy weer ontsnap, dié keer uit die Lingatangevangenis in Bohuslän. Op 2 Februarie 1973 is hy in hegtenis geneem in die eetsaal van die Kurhotel in Ulricehamn. Die polisie het gereageer op die wenk van 'n skoonmaakster wat 'n wapen in sy hotelkamer gesien het. Met sy inhegtenisneming was hy sewe maande lank aan die vlug en in dié tyd het hy 'n bank in Gotenburg beroof. In Mei 1973 is hy tot ses jaar tronkstraf gevonnis en terug na die Kumlagevangenis geneem.

Norrmalmstorg

Laat in 1973 was Olofsson in die Norrköpinggevangenis in aanhouding toe die rower Jan-Erik Olsson mense in die Kreditbanken op die Norrmalmstorg-plein, Stockholm, gyselaar neem. Olsson het geëis dat Olofsson toegelaat word om na die bank te kom. Olofsson is na die bank geneem, waar hy die volgende ses dae saam met die gyselaars deurgebring het. Die gyselaar Kristin Enmark het die Sweedse eerste minister, Olof Palme, gebel en hom gevra om die rowers en gyselaars te laat vertrek. Sy het nà die voorval gesê sy het veilig by Olsson en Olofsson gevoel, maar gevrees die polisie sou die situasie vererger deur gewelddadige metodes te gebruik. Sy en Olofsson het mekaar daarna verskeie kere ontmoet en hulle families het bevriend geraak. Dié voorval het eindelik gelei tot die skepping van die term "Stockholmsindroom".

Olsson en Olofsson het die binneste hoofkluis versper waarin hulle die gyselaars aangehou het. Onderhandelaars het ingestem dat hulle ’n motor kon kry om te ontsnap, maar sou hulle nie toelaat om gyselaars saam te neem as hulle probeer vertrek nie.

Olofsson is in die distrikshof gevonnis, maar 'n appèlhof het hom later vrygespreek. Self het hy gesê hy het die gyselaars beskerm en het die ongeskrewe toestemming van die polisie gehad. Hy moes egter die oorblywende deel van sy vorige vonnis uitdien.

Vlugteling, nuwe vonnis en troue Olofsson het op 20 Maart 1975 uit die Norrköpinggevangenis ontsnap. In April daardie jaar het hy ’n bank in Kopenhagen met ’n geweer in elke hand binnegegaan, ’n waarskuwingskoot afgevuur en die bank van 194 000 Sweedse kroon beroof. 'n Maand ná die ontsnapping was Olofsson in Marseille aan die Franse Riviera. Saam met ’n metgesel het hy die seilboot Saga vir 50 000 frank gekoop, en hulle het drie maande lank op die Middellandse See rondgeseil. In Augustus het hulle deur die Straat van Gibraltar gevaar, uit na die Atlantiese Oseaan verby die Asore.

Op pad huis toe van die Karibiese eilande af het Olofsson met die hulp van Inger en Mikael von Heijne van Djursholm op die regte koers gekom en uiteindelik Ierland bereik. Van daar het hulle na Denemarke gegaan waar die Deense polisie hulle teëgekom het. Olofsson het ontsnap en dit was eers in Januarie 1976 dat die polisie hom ingehaal en daarin geslaag het om hom by ’n kruispad buite Brussel op te spoor. Hy het homself losgeskiet; op ’n trein in Duitsland tydens hierdie ontsnapping het hy die 19-jarige Marijke Demuynck ontmoet.

Op 24 Maart 1976 het Olofsson die Handelsbanken in Östra Hamngatan 27, Gotenburg, van 930 000 kroon beroof – dit was destyds die grootste roof in die Sweedse misdaadgeskiedenis. Terselfdertyd het hy twee mense as gyselaars geneem. Hy is om 22:30, nege uur ná die roof, by Hotel Gyllene Kärven in Herrljunga in hegtenis geneem.Net 230 000 kroon is tydens Olofsson se inhegtenisneming teruggekry; die res is nooit gevind nie. Vir dié rekordroof is hy tot agt jaar tronkstraf gevonnis, maar drie weke ná die uitspraak, in Julie 1976, het hy weer ontsnap, dié keer deur met ’n vragmotor deur drie tronkhekke by die Norrköpinggevangenis te ry. Saam met ’n aantal medegevangenes het hy in ’n wagtende vlugmotor ontsnap. Op 31 Julie 1976 is hy in Halmstad in hegtenis geneem. Op 12 Augustus 1976 het Olofsson met die Belgiese burger Marijke Demuynck in die Kumlagevangenis getrou.

In 1979, terwyl hy steeds in die tronk was, het Olofsson joernalistiek aan die Universiteit van Stockholm begin studeer. Hy het ’n internskap by die koerant Arbetaren gedoen. Tydens ’n verlof op Midsomernag in 1980 het Olofsson in ’n geveg met die visserman Leif Sundin betrokke geraak. Die vonnis was twee en ’n half jaar vir aanranding. Sy studies is deur die uitspraak onderbreek, maar hy het uiteindelik in 1983 gegradueer.

Olofsson is in 1983 vrygelaat; hy het Swede saam met sy vrou verlaat en hom in haar tuisland, België, gevestig. In November 1984 is hy in die hawestad Blankenberge in België in hegtenis geneem en daarvan aangekla dat hy probeer het om 25 kg amfetamien saam met die sogenaamde “Televerket-bende” na Swede te smokkel. Hy is tot tien jaar tronkstraf gevonnis vir medepligtigheid aan ’n dwelmmisdaad met verswarende omstandighede.

1990-2010's Verandering van naam en land; vonnis vir dwelmhandel Op 10 Oktober 1991 is Olofsson vrygelaat. Hy het sy naam na Daniel Demuynck verander en na die Belgiese platteland, 80 km buite Brussel, verhuis. In Julie 1996 is hy buite ’n bank in Oslo in hegtenis geneem toe die polisie gedink het hy berei ’n roof voor. Hy is ná 24 uur vrygelaat. Op ’n stormagtige Novembernag is hy deur ’n seereddingshelikopter van die kus van Halland gered nadat sy houtboot teen die rotse verpletter is. ’n Paar weke later is hy in aanhouding geneem vir dronkbestuur in Stockholm. Op 15 April 1998 is hy in Tenerife in hegtenis geneem as die leier van 'n dwelmsmokkelary nadat hy etlike maande lank internasionaal deur Interpol gesoek is. Hy is aan Denemarke uitgelewer en ná ’n hoëprofielverhoor in Frederikssund in 1999 tot 14 jaar tronkstraf gevonnis vir die smokkel van 49 kg amfetamien na Denemarke. Dit was toe die swaarste straf vir 'n dwelmoortreding wat nog in die Deense regsgeskiedenis opgelê is.

Terwyl hy in Denemarke was, is hy in die isolasieafdeling van die Vestregevangenis in Kopenhagen aangehou. Hy is op 9 Mei 2005 op parool vrygelaat.

Nuwe skuldigbevinding aan dwelmsmokkelary en deportasie Op die aand van 19 Julie 2008 is Olofsson en drie ander mense langs Apelviken se kampeerterrein in Varberg, Swede, in hegtenis geneem. Die polisie het hom agt maande lank dopgehou en hy is daarvan verdink dat hy die leier van ’n groot dwelmoperasie was. Terselfdertyd het die polisie op ’n dwelmvervoerdery in Stockholm toegeslaan. Altesaam ses mense is in Stockholm en Varberg in hegtenis geneem op vermeende dwelmoortredings. Olofsson is aan die einde van 2008 daarvan aangekla dat hy probeer het om 100 kg amfetamien en 76 kg dagga uit Nederland in te smokkel. Die polisie van Östergötland het die dwelmsmokkelaars sedert 2007 deur middel van verkenningsvideo’s en telefoonafluisterings opgespoor. Die verhoor het op 2 Junie 2009 begin en Olofsson is op 31 Julie 2009 tot 14 jaar tronkstraf gevonnis, gevolg deur lewenslange deportasie, vir ’n dwelmmisdaad en 'n poging tot 'n dwelmmisdaad, albei met verswarende omstandighede. Hy is tot nege jaar tronkstraf gevonnis vir dwelmhandel en moes nog vyf jaar uitdien omdat hy sy misdaad voortgesit het ná ’n vorige skuldigbevinding. Dus was Olofsson se vonnis in praktyk 14 jaar. Op 7 Desember 2009 is die tronkstraf deur 'n appèlhof bekragtig.