Die Norrmalmstorg-rooftog was 'n bankroof en gyselaarsdrama in Augustus 1973 op die Norrmalmstorg-plein in Stockholm, Swede, en die eerste misdaad in Swede wat deur regstreekse televisie gedek is. Dit is die bekendste as die oorsprong van die term "Stockholmsindroom".

Jan-Erik Olsson was 'n veroordeelde misdadiger wat verdwyn het terwyl hy op verlof van die gevangenis was. Hy het toe die bank Kreditbanken beroof en in die proses vier gyselaars geneem. Tydens die samesprekings wat gevolg het, het die Sweedse minister van justisie, Lennart Geijer, toegelaat dat Olsson se voormalige selmaat en vriend Clark Olofsson uit die tronk na die bank gebring word. Hoewel Olofsson 'n loopbaanmisdadiger was, is dit as onwaarskynlik geag dat hulle kop in een mus was.

In die gewilde weergawe het die gyselaars toe 'n band met hulle gevangenemers gesluit en geweier om met die polisie saam te werk. Sommige mense het egter gereken hulle het die polisie gewantrou omdat hulle bereid was om die gyselaars se lewe op die spel te plaas. Die polisie het eindelik ná vyf dae 'n traangasaanval op die bank gedoen en die rowers het oorgegee.

Olsson is vir die rooftog tot 10 jaar tronkstraf gevonnis en Olofsson is eindelik vrygespreek. Die reaksie van die gyselaars het 'n groot belangstelling onder die publiek en akademici ontketen en het onder meer gelei tot 'n Sweedse TV-prent van 2003 met die titel Norrmalmstorg, 'n Kanadese rolprent in 2018 met die titel Stockholm en 'n Netflix-minireeks in 2022 met die naam Clark.

Gebeure Jan-Erik Olsson was met verlof uit die tronk toe hy Kreditbanken op die Norrmalmstorg-plein in Stockholm op 23 Augustus 1973 binnegaan en probeer beroof. Die Sweedse polisie is in kennis gestel en het op die toneel opgedaag. Een polisieman, Ingemar Warpefeldt, het beserings aan sy hand opgedoen nadat Olsson losgebrand het, terwyl ’n ander een aangesê is om op ’n stoel te sit en ’n lied te sing. Olsson het toe vier bankwerknemers as gyselaars geneem: Birgitta Lundblad, Elisabeth Oldgren, Kristin Enmark en Sven Säfström. Hy het geëis dat sy vriend Clark Olofsson daarheen gebring word, saam met drie miljoen Sweedse kroon, twee gewere, koeëlvaste baadjies, helms en ’n Ford Mustang.Serena, Katie. Stockholm Syndrome And The Strange Bank Robbery Behind It All That’s Interesting, 19 February 2018, updated 1 May 2019.

Olofsson het gereeld gewapende rooftogte en gewelddadige dade gepleeg, die eerste toe hy 16 jaar oud was. Die regering het toestemming gegee dat hy gebring word as ’n kommunikasieskakel met die polisie-onderhandelaars. Die gyselaar Kristin Enmark het gesê sy het veilig by Olsson en Olofsson gevoel, maar gevrees die polisie sou die situasie vererger deur gewelddadige metodes te gebruik. Olsson en Olofsson het die binneste hoofkluis versper waarin hulle die gyselaars aangehou het. Onderhandelaars het ingestem dat hulle ’n motor kon kry om te ontsnap, maar sou hulle nie toelaat om gyselaars saam te neem as hulle probeer vertrek nie.

Olsson het die Sweedse eerste minister, Olof Palme, gebel en gesê hy sou die gyselaars doodmaak, en het sy dreigement geïllustreer deur een van hulle in ’n wurggreep te gryp. Sy het hoorbaar geskree toe hy ophang. Die volgende dag het die gyselaar Kristin Enmark Palme gebel en gesê sy is baie ontevrede met sy houding en hom gevra om die rowers en gyselaars te laat vertrek.

Olofsson het in die kluis rondgeloop en Roberta Flack se "Killing Me Softly" gesing. Op 26 Augustus het die polisie ’n gat in die hoofkluis uit die woonstel daarbo geboor en ’n wydverspreide foto van die gyselaars saam met Olofsson geneem. Olsson het sy wapen by twee geleenthede in die gat afgevuur en ’n polisiebeampte in die hand en gesig gewond.

Olsson het sy wapen afgevuur en gedreig om die gyselaars dood te maak in geval van 'n gasaanval. Nietemin het die polisie op 28 Augustus traangas gebruik, en Olsson en Olofsson het ná ’n uur oorgegee. Geen van die gyselaars het permanente beserings opgedoen nie.

Nadraai Beide Olsson en Olofsson is skuldig bevind, en Olofsson is tot ’n verlengde tronkstraf vir die roof gevonnis. Sy verweer was dat hy Olsson nie gehelp het nie, maar slegs probeer het om die gyselaars te red deur die situasie kalm te hou. Hy is later vrygespreek en het slegs die oorblywende deel van sy vorige vonnis uitgedien. Hy het daarna die gyselaar Kristin Enmark verskeie kere ontmoet, en hulle families het bevriend geraak. Hy het ook nog verskeie misdade gepleeg.

Olsson is tot 10 jaar gevangenisstraf gevonnis. Hy het baie bewonderende briewe ontvang van vroue wat gedink het hy is aantreklik. Hy het later verloof geraak aan ’n vrou wat nie, ten spyte van wat sommige beweer, een van die voormalige gyselaars was nie. Ná sy vrylating is beweer hy het nog misdade gepleeg. Nadat hy 10 jaar lank aan die vlug was van die Sweedse owerhede vir beweerde finansiële misdade, het hy homself in 2006 aan die polisie oorgegee, net om meegedeel te word die aanklagte word nie meer aktief vervolg nie.

Die gyselaars het met hul ontvoerders gesimpatiseer, wat tot akademiese belangstelling in die saak gelei het. Die Sweedse term "Norrmalmstorgssyndromet" (Norrmalmstorg-sindroom”), later bekend as Stockholmsindroom, is geskep deur die kriminoloog Nils Bejerot. Die gyselaars, hoewel hulle deur Olsson gedreig is, het nooit gewelddadig teenoor iemand opgetree nie.

In 1996 het Olsson saam met sy vrou en seun na Noordoos-Thailand verhuis. Hy het in 2013 na Swede teruggekeer. Sy outobiografie, Stockholmssyndromet, is in 2009 in Swede gepubliseer.

Verwysings

Skakels

Kategorie:Misdaad