Die Frewin-trofee word in Suid-Afrika toegeken met die doel om die standaard van die tipografie in koerante te verhoog.
Hierdie prestigeprys kan aan ‘n dagblad toegeken word wat die beste presteer wat betref voorkoms, uitleg, gehalte van die drukwerk, fotografie en ander illustrasies en die aanbieding van die advertensies. ‘n Silwer wisselbeker kan jaarliks deur ‘n koerant met ‘n daaglikse oplaag van 50 000 of meer gewen word.
Die Burger het die beker al die meeste kere verower. Ander dagblaaie wat dit al meer as eenkeer gewen het, is die Argus, Rand Daily Mail, The Star en die Cape Times.
Oscar Henry Frewin het in 1903 die Middelburg Observer, ‘n tweetalige weekblad, gestig en later was hy ook die eienaar van die Witbank News. Mettertyd word hy voorsitter van die afdeling plattelandse koerante van die Nuusblad-Persunie. Hierdie trofee gedenk Frewin se toewyding aan hoë tipografiese standaarde.
Kategorie:Suid-Afrikaanse koerante