The Laundromat is 'n Amerikaanse komdediedrama van 2019 wat deur Steven Soderbergh geregisseer is. Die draaiboek deur Scott Z. Burns is geskoei op die boek Secrecy World oor die Panama-dokumentskandaal deur die joernalis Jake Bernstein. Die hoofkarakters word vertolk deur Meryl Streep, Gary Oldman, Antonio Banderas, Robert Patrick, Jeffrey Wright, David Schwimmer, Matthias Schoenaerts, James Cromwell en Sharon Stone.
Die wêreldpremière was op 1 September 2019 op die Venesiese Internasionale Rolprentfees, waarna dit op 27 September 2019 in die VSA uitgereik is. Netflix het dit op 18 Oktober 2019 begin stroom. Die prent het gemengde resensies gekry.
Rolverdeling Van die akteurs in die rolprent is: Meryl Streep as Ellen Martin / Elena / haarself Gary Oldman as Jürgen Mossack Antonio Banderas as Ramón Fonseca Sharon Stone as Hannah David Schwimmer as Matthew Quirk Matthias Schoenaerts as Maywood Jeffrey Wright as Malchus Irvin Boncamper James Cromwell as Joseph David "Joe" Martin Melissa Rauch as Melanie Martin Larry Wilmore as Jeff Robert Patrick as kaptein Richard Paris Rosalind Chao as Gu Kailai Nikki Amuka-Bird as Miranda Nonso Anozie as Charles Jessica Allain]as Simone Amy Pemberton as Fetching
Storielyn
Die prokureurs Jürgen Mossack en Ramón Fonseca stel hulleself bekend, saam met die konsep van geld en krediet. Die twee dien as vertellers vir drie verhale van mense regoor die wêreld wat nadelig geraak word deur die werksaamhede van hulle maatskappy, Mossack Fonseca. Hoewel die verhaal ietwat gefiksionaliseer is, is die name van die prokureursmaatskappy in die middel van die skandaal,"Panama grants bail to Mossack Fonseca founders in Brazil corruption case" Reuters 2017-04-22 sowel as dié van sy stigters, nie verander nie.
Ellen Martin en haar man, Joe, is op ’n plesierboot toe dit omslaan, en Joe en baie ander verdrink. Toe Ellen probeer om vergoeding van die bootmaatskappy vir Joe se dood te kry, kan sy nie, want die herversekeringsmaatskappy waarvan die bootmaatskappy se eienaar en sy seun, Matthew, hulle polis gekoop het, is aan ’n ander maatskappy verkoop wat in Nevis gebaseer is. Die maatskappy in Nevis is in werklikheid ’n trust van een van Mossack se dopmaatskappye, wat deur die belastingsdiens vir bedrog ondersoek word.
Toe haar pogings om Mossack en die Nevisgebaseerde maatskappy te kontak onsuksesvol is, reis Ellen daarheen om Malchus Boncamper, die bestuurder van die trust, te konfronteer. Toe Ellen hom raakloop sonder om te weet wie hy is, vra sy vrae oor sy maatskappy se ligging. Malchus jok en loop weg. Toe hy later na Miami reis, word hy op die lughawe in hegtenis geneem.
Die tweede verhaal handel oor Simone, die dogter van Charles, ’n Afrika-miljardêr. Toe sy ontdek haar beste vriendin het ’n verhouding met hom, bied hy haar aandele (na bewering $20 miljoen werd) in een van sy beleggingsmaatskappye aan om haar stil te hou. Simone aanvaar sy aanbod, maar toe sy na Mossack se kantore in Panamastad reis om die aandele op te eis, blyk dit waardeloos te wees omdat die maatskappy deur ’n ander Mossack-dopmaatskappy besit is (wat self waarskynlik deur Charles besit word) wat onlangs die maatskappy se bankrekening leeggemaak het.
Die derde verhaal is ’n dramatiese uitbeelding van die dood van Neil Heywood, wat deel vorm van die Wang Lijun-voorval. Heywood (“Maywood” in die rolprent) is ’n tussenganger vir welgestelde Chinese wat geld oorsee wil verskuif. Hy besoek ’n hotel in Chongqing om Gu Kailai te ontmoet. Maywood eis en druk haar vir ’n baie hoër prys as sy wil hê dat hy moet voortgaan om geld vir haar familie deur sy dopmaatskappy te was. Gu reageer deur Maywood se drank te vergiftig.
Gu onthul die voorval en rapporteer Maywood aan Chongqing se polisiehoof, Wang Lijun, wat die gesprek in die geheim opneem; hy rapporteer haar daarna aan die Chinese regering. Dit lei tot die inhegtenisneming van Gu en haar man, Bo Xilai, vir Maywood se moord en vir korrupsie.
Die rolprent eindig met die uitlek van die Panama-dokumente en daaropvolgende polisieklopjagte op Mossack Fonseca, hulle kortstondige gevangenisstraf en die sluiting van die maatskappy. Mossack en Fonseca, saam met Meryl Streep as haarself, herinner dan kykers dat baie sulke maatskappye steeds bestaan, en dat die praktyk van geldwassery en korrupsie deur die gebruik van vals trusts en dopmaatskappye wat in belastingparadyse gebaseer is, steeds wydverspreid is. Streep sluit af met ’n verklaring oor die dringende behoefte aan hervorming van veldtogfinansiering in die VSA voordat sy die houding van die Vryheidstandbeeld aanneem.
Ontvangs Op Rotten Tomatoes het die rolprent ’n goedkeuringsyfer van 41% gebaseer op 177 resensies, met ’n gemiddelde punt van 5,4/10. Die webtuiste se konsensus lui: "The Laundromat mors met sy ongelooflike rolverdeling deur ’n teleurstellend stomp benadering te volg om die werklike gebeure wat dit geïnspireer het, te dramatiseer." Op Metacritic het die rolprent ’n gemiddelde punt van 57 uit 100 gebaseer op 37 resensies, wat dui op 'n “gemengde of gemiddelde” ontvangs.
Todd McCarthy van The Hollywood Reporter skryf: "Daar is ’n soort afstootlike vermetelheid in Soderbergh se benadering hier wat die hele ervaring ietwat bederf. Die toon is bros, die houding gekunsteld en die vertolkings deur ’n slim en uiteenlopende rolverdeling is ongelyk." Richard Roeper van die Chicago Sun-Times beskryf dit as ’n "deurmekaar, dwalerige sosiale satire en politieke kommentaar wat te swaar op laasgenoemde kategorie steun en dikwels tekort skiet in eersgenoemde." Alonso Duralde van die nuusorganisasie TheWrap skryf: "The Laundromat spartel rond, met ’n oormaat swak idees wat die verontwaardiging oor die gebeure wat uitgebeeld word, ondermyn."
Owen Gleiberman van die tydskrif Variety gee dit ’n positiewe resensie en skryf: "The Laundromat is Soderbergh op sy speelsste, en ook Soderbergh op sy mees tegnies-analitiese. Verdomp, in hierdie geval, as die twee nie sameklank vind nie."
Omstredenheid Die rolprent is gekritiseer vir sy gebruik van brownface deur Streep in ’n sekondêre rol as ’n Panamese vrou genaamd Elena te plaas. Soderbergh het die omstredenheid erken, maar gevoel die dubbele rol binne die konteks van die verhaal is geregverdig. Hy het dit vergelyk met Oldman se uitbeelding van ’n Duitse persoon en gesê verskillende reëls geld vir komedie.
Op 16 Oktober 2019, weke ná die prent se beperkte teateruitreiking en slegs twee dae voor sy geskeduleerde stroomuitreiking, het die twee Mossack Fonseca-vennote in die prokureursmaatskappy waaroor die prent handel, Netflix gedagvaar in ’n poging om die uitreiking van die rolprent stop te sit. Hulle het aangevoer die rolprent belaster hulle. Netflix het die volgende dag gereageer en die saak “belaglik” genoem. ’n Regter in Connecticut het die saak na Kalifornië verskuif, wat toegelaat het dat die rolprent soos beplan uitgereik word.
Die Panamese regering het ook sterk beswaar teen die uitreiking van die rolprent gemaak. In Desember 2019 het ’n regter van die Amerikaanse distrikshof beslis die rolprent belaster Mossack en Fonseca nie, en dat die Amerikaanse grondwet dit beskerm as vrye spraak."Judge rejects Panama Papers law firm's libel case against Netflix over 'The Laundromat's International Consortium of Investigative Journalists 2021-04-01.
Verwysings
Skakels
Kategorie:Amerikaanse rolprente