Don't Let's Go to the Dogs Tonight is 'n Suid-Afrikaanse dramarolprent van 2024 wat deur Embeth Davidtz geskryf en geregisseer is. Dit was haar debuutrolprent as regisseur. Die prent is geskoei op die memoires met dieselfde naam van 2001 deur Alexandra Fuller oor die ondervinding van haar wit Zimbabwiese gesin ná die Rhodesiese Bosoorlog. Die première was op 30 Augustus 2024 op die Internasionale Telluride-rolprentfees.

Rolverdeling

Lexi Venter as Alexandra "Bobo" Fuller Embeth Davidtz as Nicola Fuller Zikhona Bali as Sarah Fumani Shilubana as Jacob Rob van Vuuren as Tim Fuller Anina Reed as Vanessa Fuller

Storielyn

Lexi Venter is Bobo Fuller, 'n plaasmeisie wat haar gesin se ondervinding waarneem terwyl Rhodesië in 1980 Zimbabwe word en die land ná die Rhodesiese Bosoorlog 'n swart meerderheidsregering onder Robert Mugabe kry. Dit beeld nie net die wit mense se onmag uitstekend uit nie, maar ook hulle onbegrip van die veranderende toestande waarin hulle leef.

Bobo neem alles met onskuldige oë waar; sy verstaan nie die plaaswerkers se negatiewe houding teenoor haar en haar ma se al hoe vreemder optrede namate die spanning toeneem nie. Eindelik het die gesin geen ander keuse as om die plaas te verkoop nie en wyk hulle na Zambië uit.

Ontvangs Op Rotten Tomatoes is 91% van die 65 resensies positief. Die webtuiste se konsensus lui: "Die prent pak moeilike temas by die horings, met wonderlike spel deur Lexi Venter. Dit is 'n treffende rolprentdebuut deur die skrywer-regisseur en medeaktrise Embeth Davidtz."

Verwysings

Skakels

Kategorie:Suid-Afrikaanse rolprente