duimnael|Een VOC-duit (1735). ‘n Duit is ‘n muntjie uit historiese tye. Dit was ‘n klein munt van lae waarde gemaak van koper wat in die 17de en 18de eeu in Nederland en sy kolonies gebruik is.
Geskiedenis In Nederland is duite sedert die 15de eeu in koper van ‘n lae gehalte, maar soms selfs van silwer, gemunt. In 1726 het die VOC toestemming van die Stategeneraal van Nederland verkry om duite te laat slaan vir die uitsluitlike gebruik in die gebiede onder hul beheer. Tussen 1726 en 1794 het verskeie kamers van die VOC hul eie duite laat maak met op die kruiskant die wapen van die betrokke provinsie en op die verso die VOC-monogram. Daar is derduisende van hierdie koperduite gemunt. Tussen 1749 en 1790 is selfs halfduite laat maak. Hulle is tans egter baie skaars. Duite is geslaan tot 1794 en gebruik tot 1816 toe dit vervang is met die sente van die desimale geldstelsel. Tot 1821 was duite nog in Nederland in omloop, maar Nederlands-Indië het dit eers in 1854 as betaalmiddel afgeskaf. Aan die Kaap was kleingeld ‘n aanhoudende probleem.
Waarde Daar was 8 duite in ‘n stuiwer. ‘n Gulden was gelyk aan 20 stuiwers en dus 160 duite. Jan van Riebeeck noem in sy dagboek dat een liter melk 2 stuiwers, dus 16 duite, kos.
Skeepsramp Die VOC-skip Bredenhof (eiendom van die Kamer van Zeeland) was op 6 Junie 1753 op pad na Ceylon. Weens slegte weer vergaan die skip op die Silva-sandbank in die Mosambiekkanaal. In 1986 is die wrak gevind en tussen die vrag was 14 vaatjies met derduisende duite met die wapen van die Kamer van Zeeland. Dit was goed verpak en dus was die muntjies na meer as twee eeue op die seebodem nog in ‘n puik toestand.
Woord Vermoed word dat die woord duit afgelei is van die Franse woord vir 8, naamlik huit. In Afrikaans leef die woord duit nog o.a. voort in enkele uitdrukkings soos “nie ‘n duit vir iets omgee nie”, “’n persoon met baie duite”, “geen duit besit nie”, “nie ‘n bloue duit werd wees nie”. Duit in die sin “my duit vir die aand”, met die betekenis van “my metgestel vir die aand”, word nog nie as korrekte Afrikaans aanvaar nie.
Bronnelys de Wet, Con en Leon Hattingh en Jan Visagie (reds.): Die VOC aan die Kaap, 1652-1795. Pretoria: Protea Boekhuis, 2016.
Kategorie:VOC Kategorie:Geld