Die Suid-Afrikaanse Lugdiens-museumvereniging (SALMV) is in Augustus 1986 gestig. Die eerste werk deur die SALMV is op 29 Junie 1986 verrig. Aan die begin het baie oud-SAL-personeellede geskiedkundige items na die SALMV gebring – oudhede van die SAL se verlede, om aan die museum te skenk. Ou kaartjies, spyskaarte, koerantknipsels, foto’s, uniforms, modelle van vliegtuie en boeke is versamel. Dit is alles vertoon in die museum se tydelike vertoongebied in die loods waar die Junkers Ju 52 by Jan Smuts-lughawe gehuisves is. Daar was ook 'n Historiese Vlug. Die SAL het museumvliegtuie verkry voordat die museumvereniging gestig is en die SAL-museumvereniging het vliegtuie ná sy stigting verkry. Die museum het vir kort tye ook ander vliegtuie besit.
Die Historiese Vlug van die SAL Kaptein Flippie Vermeulen, die eertydse vlootkaptein op Boeing 737’s, is aangestel om die bedryf van die Ju-52 oor te neem. Die Uitvoerende Bestuur van die SAL is versoek om die stigting van die Historiese Vlug van die SAL as ’n winssentrum binne die SAL goed te keur om die veteraanvliegtuigbedryf te behartig. Kaptein Vermeulen het oorspronklik aan die begin van 1989 versoek dat 'n winssentrum binne die SAL daargestel word om die Ju-52-bedryf te behartig, en hierdie goedkeuring is op 23 November 1993 verkry.
Intussen het mnr. Johann Prozesky onderhandelings met die Suid-Afrikaanse Lugmag aangeknoop om ’n Douglas DC-3 en DC-4 te bekom as voorbeelde van die soort vliegtuie wat die SAL voorheen gebruik het en hulle dan vir permanente statiese tentoonstelling te gebruik. Kaptein Vermeulen het egter besluit dat, aangesien die DC-3 en die DC-4 die potensiaal gehad het om vir handelsvlugte gebruik te word, dit ’n goeie idee sou wees om hulle eerder vir vliegdoeleindes in die nuutgestigte entiteit in gebruik te neem. Die Uitvoerende Bestuur van die SAL moes egter nog goedkeuring vir die stigting van die entiteit verleen.
DC-3 ZS-BXF is vroeg in 1993 en DC-4 ZS-BMH is op 5 April 1993 by Jan Smuts-lughawe aan die SAL afgelewer. Albei vliegtuie was in diens van die SAL voordat hulle aan die SALM van die hand gesit is. Die SALM het ingestem om ZS-BMH ná ’n C-versiening deur Hunting Aviation by die Randse Lughawe met ’n lugwaardigheidsertifikaat aan die SAL af te lewer. Dit het Kaptein Vermeulen in staat gestel om die DC-4 vir handelsdoeleindes in gebruik te neem selfs nog voordat die Historiese Vlug van die SAL formeel goedgekeur is en sonder dat daar ’n bedryfsbegroting beskikbaar was.
Danie Brits, die eertydse Uitvoerende Bestuurder van SAL Tegnies, het ’n groot rol gespeel om die DC-4 weer op die Suid-Afrikaanse burgerlike register geregistreer te kry, veral aangesien die Historiese Vlug van die SAL op daardie tydstip nog nie formeel goedgekeur was nie. Kaptein Vermeulen, Kaptein Lorrie Raath en Boordingenieur Alf Mairs het ZS-BMH op 8 April 1993 vanaf Johannesburg vir sy eerste handelsvlug geneem. Kaptein Flippie Vermeulen het gehoop dat dit sal help om die Historiese Vlug van die SAL as ’n algeheel onafhanklike handelsonderneming te vestig.
Die Historiese Vlug van die SAL se besigheid het vinnig uitgebrei en spoedig is versoeke van internasionale maatskappye soos Swiss Air ontvang, wat ’n DC-4 wou gebruik om in 1997 die 50ste verjaarsdag van sy eerste vlug oor die Atlantiese Oseaan te herdenk. Die Historiese Vlug van die SAL is gekontrakteer om dit te doen en sou nog ’n DC-4 benodig – verkieslik een met langafstandtenks, wat ZS-BMH nie gehad het nie. Kaptein Vermeulen het onderhandelings vir die verkryging van die tweede DC-3, ZS-BXJ, asook die tweede DC-4, ZS-AUB, aangeknoop. ZS-AUB is oorspronklik deur die SAL gebruik. Die DC-3, ZS-BXJ, was nooit vir diens deur die SAL gebruik nie. Kaptein Vermeulen, Kaptein Johan Dries en Boordingenieur Alf Mairs het op 16 Desember 1995 die afleweringsvlug van ZS-AUB vanaf Waterkloof na Jan Smuts onderneem. Die vliegtuig was steeds in SALM-kleure.
In 1999 het Coleman Andrews, toe aan die stuur van die SAL, Kaptein Peter Cook, die eertydse Uitvoerende Bestuurder van Vliegbedrywighede, in kennis gestel dat hulle (Coleman en sy adviseurs) besluit het dat die Historiese Vlug van die SAL gesluit moet word en dat die bates daarvan van die hand gesit moet word. Kaptein Vermeulen het toe onderhandelings met die Trusteeraad van die Transnet-erfenisstigting aangeknoop om die bates van die Historiese Vlug van die SAL oor te neem voordat Coleman Andrews dit van die hand kan sit en het sodoende die toekoms van die Historiese Vlug van die SAL verseker. ’n Nuwe tuiste moes vir die nuwe SA Historiese Vlug gevind word.
Die Transnet-erfenisstigting het ingestem dat “SA” eerder as “SAL” in die nuwe naam gebruik word aangesien die SAL nie meer bereid was om die Vlug te ondersteun nie, die naam “SAL” kon dus nie gebruik word nie. Kaptein Vermeulen het weereens tot die redding gekom deur met die eertydse Hoof van die SA Lugmag, Generaal Hechter, oor die verskuiwing van die SA Historiese Vlug na Lugmagbasis Swartkop by Valhalla te onderhandel. Die groot skuif van die SA Historiese Vlug het in April 1999 met die hulp van talle vrywilligers van die SA Historiese Vlug asook van die SAL-museumvereniging plaasgevind. Die vliegtuie van die SA Historiese Vlug is tot aan die einde van 2005 by Swartkop bedryf. Kaptein Vermeulen het in Oktober 2000 die SA Historiese Vlug verlaat en weer voltydse Boeing 747-lynvlugte by die SAL onderneem.
Gedurende die tweede helfte van 2005 het die SA Historiese Vlug veranderings ondergaan en het bedrywighede gestaak. ’n Aankondiging is uiteindelik in September 2006 gedoen dat die SA Historiese Vlug van Johannesburg Internasionale Lughawe na die Randse Lughawe in Germiston sal verskuif en bedrywighede sal hervat. Die Skymaster-vliegtuie, ZS-AUB en ZS-BMH, is op Maandag, 18 September 2006 na die Randse Lughawe gevlieg. Die DC-3 sou kort daarna volg. Die Junkers Ju-52/3m sou in ’n loods by FAJS bly. (Die naam van die lughawe is op 27 Oktober 2006 na "O.R. Tambo Internasionale Lughawe" verander.)
Sedert daardie beskeie begin het die Suid-Afrikaanse Historiese Vlug in ’n veteraanvliegtuigbedryf van wêreldgehalte ontwikkel wat reisigers die ervaring en romantiek van ’n vergete era van stylvolle lugreise met ’n vloot sorgvuldig gerestoureerde historiese vliegtuie bied. Hierdie spesialisveteraanhuurorganisasie neem mens terug na ’n era van stylvolle elegansie en luukse lugreise.
Met dagligvlugte op lae hoogtes en uitstekende diens verskaf die SA Historiese Vlug ’n unieke ervaring op pad na plekke wat nie normaalweg op geskeduleerde vlugte toeganklik is nie. Hierdie entiteit se hoogs ervare en toegewyde vlugbemannings versorg passasiers tydens hulle hele reis.
Al die bates van die Suid-Afrikaanse Historiese Vlug is aan die einde van 2007 aan die Suid-Afrikaanse Lugdiens-museumvereniging geskenk. ZS-BXJ(2) is aan Flippie Vermeulen verkoop. (Toe die skrywer John Austin-Williams om besonderhede rakende ZS-BXJ gevra het, het hy geantwoord dat ZS-BXJ reguit na Flippie is en nooit naby die Museum gekom het nie, buiten as ’n papiertransaksie vir ’n uiters kort tydjie.) Die SAL-museumvereniging het in Desember 2007 ’n bruikhuurooreenkoms met Skyclass Aviation aangegaan om die twee DC-4’s en die DC-3 te bedryf.
Verskuiwing na Lugmagbasis Swartkop Die SAL-museumvereniging het in 1999 na Lugmagbasis Swartkop in Pretoria verskuif en ’n museumuitstallingsaal ingerig vir die indrukwekkende versameling SAL- en burgerlikelugvaart-artefakte en -gedenkwaardighede wat versamel is. Die SAL-museum het die elektroniese era met die internetwebwerf www.saamuseum.co.za betree en dit het die Vereniging wêreldwye blootstelling gegee. duimnael|250px|Die Lockheed L18-08 Lodestar met die konstruksienommer 2026 op 9 Februarie 2003 as ZS-ASN(1) by Lugmagbasis Swartkop.
Die Vereniging was nou in die openbare oog. Die Suid-Afrikaanse Historiese Vlug, wat teen hierdie tyd twee Douglas DC-4-vliegtuie en ’n DC-3 by sy Ju-52 bygevoeg het, het nou ook na Swartkop verskuif en die Lockheed Lodestar en De Havilland Dove saamgeneem. Lede van die Vereniging kon steeds die genot ervaar om die veteraanvliegtuie te hoor en sien wat deur die Historiese Vlug bedryf word. Met vliegtuie soos die Douglas DC-3 en die Douglas DC-4-vliegtuie en natuurlik die geliefde Junkers Ju-52/3m was dit inderdaad die aangewese plek vir ’n lugvaartentoesias. Die Starliner en Viking het by Jan Smuts-lughawe agterbly aangesien die SAL-museumvereniging dit nie kon bekostig om die twee vliegtuie na Swartkop te verskuif nie. duimnael|250px|De Havilland Dove ZS-BCC(1) van die SAL-museum word op 9 Februarie 2003 by Lugmagbasis Swartkop gesien. Die vliegtuig het die konstruksienommer 04079 en is ’n DH-104 Dove 6. Hy is oorspronklik in 1952 verkoop en het ander registrasies gehad maar is in 1979 na Suid-Afrika teruggebring.
Skuif na die Randse Lughawe Die SA Historiese Vlug was teen 2004 vyf jaar in bedryf by Swartkop. Die Lodestar en die Dove het die hele tyd buite in die strawwe Suid-Afrikaanse klimaat verweer sonder dat enige instandhoudingswerk uitgevoer is, buiten die noodherstelwerk wat af en toe deur SALMV-personeel gedoen word. Die SALMV het die SA Historiese Vlug (SAHF) verskeie kere gevra vir ’n klein begroting waarmee die vliegtuie in stand gehou kan word, maar tevergeefs. Die SAHF-bestuur het uiteindelik in die middel van 2004 onder druk van die SALMV geswig en ingestem dat die Lodestar en die Dove na die Randse Lughawe verskuif kan word en daar deur lede van die SALMV versorg kan word.
Die Lodestar en die Dove is uitmekaargehaal in die mate wat nodig is en die Dove is op Sondag, 5 September 2004 en die Lodestar op 17 Oktober 2004 vir openbare tentoonstelling van Lugmagbasis Swartkop na die Randse Lughawe verskuif. Die twee vliegtuie was in ’n baie swak toestand en is binne ’n paar maande ná hulle aankoms tot uitstaltoestand gerestoureer. Die Lodestar het nuwe matte, gordyne en bekleedsel vir sy sitplekke gekry. Die Dove is deeglik skoongemaak en die stuurvlakke het nuwe lapbedekking gekry.
Die Suid-Afrikaanse Lugdiens-museumvereniging se vertoonsaal is in die gebou van die Transvaal Aviation Club (TAC) aan die oostekant van die Randse Lughawe geleë. Historiese items soos foto’s, modelle van vliegtuie, die uniforms van bemannings, vliegtuiginstrumente, tydtafels en klein artefakte van die SAL en algemene burgerlugvaart-gedenkwaardighede word vertoon. Die biblioteek van die SAL-museum het ’n groot verskeidenheid lugvaartverwante boeke en video’s. ’n Aandenkingswinkel is in die vertoonsaal van die SAL-museum geleë.
Die SA Historiese Vlug-bedryf is in November/Desember 2005 van Swartkop na Johannesburg Internasionale Lughawe verskuif. Die onderneming is teen Januarie 2006 gesluit en die vliegtuie is gehok. Dit het baie maande geduur voordat die Transnet-stigting weer die onderneming aan die SAL oorhandig het. Die twee DC-4-vliegtuie is op Maandag, 18 September 2006 na die Randse Lughawe gevlieg. Die SA Historiese Vlug sou uit Loods 4 by die Randse Lughawe met sy bedrywighede begin.