Federico Santiago Valverde Dipetta (Spaanse uitspraak: [feðeˈɾiko βalˈβeɾðe], gebore 22 Julie 1998) is ’n Uruguaanse professionele sokkerspeler wat as ’n sentrale middelveldspeler vir die Spaanse La Liga-klub Real Madrid en die Uruguaanse nasionale span speel. Hy is bekend vir sy veelsydigheid, werktempo, spoed en skootkrag, en word as een van die beste middelveldspelers ter wêreld beskou. Valverde speel hoofsaaklik as ’n sentrale middelveldspeler, maar kan ook as ’n regsagter speel.
Valverde het sy professionele loopbaan in 2015 by Peñarol in Montevideo begin en in sy eerste seisoen die die Uruguaanse Primera División gewen. In 2016 het hy by Real Madrid aangesluit en aanvanklik vir die klub se reserwespan gespeel. Hy het in 2017 sy debuut vir die eerste span gemaak en het sedertdien meer as 300 verskynings vir die klub gemaak, en drie La Liga-titels, twee Klubwêreldbekers, twee Champions League-titels, twee Europese Superbekers en die Copa del Rey gewen.
Valverde het in 2017 sy internasionale debuut vir Uruguay gemaak en het sedertdien sy land by drie Copa América-toernooie (2019, 2021, 2024) en die Wêreldbekertoernooi in 2022 verteenwoordig.
Valverde se bynaam toe hy jonger was, was Pajarito (“voëltjie”), maar hy verwys nou na homself as Halcón (“valk”), ’n verwysing na sy groei as ’n professionele sokkerspeler.
Verwysings
Kategorie:Uruguaanse sokkerspelers Kategorie:Geboortes in 1998 Kategorie:Lewende mense