Twee monumente in Mpumalanga herdenk die verkenningstog van ‘n geselskap onder Frans de Kuiper in 1725 in die Laeveld.

Agtergrond Die VOC het in 1721 Delagoabaai ingeneem en Fort Lijdzaamheid gestig. Uit Kaapstad het die bevelhebber opdrag gekry om ‘n roete na die fabelagtige ryk goudvelde van Monomotapa te soek. Op 9 Augustus 1723 vertrek die eeste verkenningstog deur 19 man gelei deur sekunde Jan Christoffel Steffler en sersant Jan Mulder na die Lebomboberge, maar keer weens die vyandige houding van die inheemse bevolking na die fort terug.

Tweede geselskap In 1725 het Jan van de Capelle, die VOC-bevelhebber van Fort Lijdzaamheid, weer ‘n poging laat aanwend. Op 27 Junie vertrek 31 man onder sekunde Frans de Kuiper en sersant Johannes Monna. Hulle bereik die Incomatirivier en op 4 Julie die huidige Ressano Garcia. Die volgende dag is Monna en 6 verkenners deur die poort in die Komatirivier tot in die Laeveld. Hulle is dus waarskynlik die eerste groep blankes wat tot in daardie gebied deurgedring het. Eers meer as ‘n eeu later het weer ‘n groep blankes daarheen gereis, naamlik die Voortrekkers onder Louis Tregardt.

Krugerwildtuin Direk daarna verken Frans de Kuiper en sy hele geselskap van 30 man die gebied tussen die Krokodilrivier en die Sabierivier. In hierdie omgewing word hulle onverwags op 12 Julie 1725 deur kapt. Dawano se volgelinge aangeval. Die ekspedisie was verplig om oor die Lebomboberge na Fort Lijdzaamheid terug te val.

Monumente In die doeanekantoor in Komatipoort is ‘n bronsplaat wat die deurtog van die geselskap deur ‘n drif in die Krokodilrivier herdenk. Die drif staan bekend as die De Kuipersdrift. By Gomondwane langs die teerpad tussen Krokodilbrug en Laer-Sabie in die Krugerwildtuin staan by 25° 16′ 28.77″ suid en 31° 50′ 54.32″ oos ‘n klein pilaar met ‘n gedenksteen wat die skermutseling van 12 Julie 1725 herdenk.

Bibliografie Oberholster, J.J.: Die historiese monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Kultuurstigting Rembrandt van Rijn vir die Raad vir Nasionale Gedenkwaardighede, 1972

Kategorie:Monumente en gedenkwaardighede in Suid-Afrika Kategorie:Mpumalanga