Panathinaikos Sokkerklub (Grieks: ΠΑΕ Παναθηναϊκός Α.Ο. [panaθinaiˈkos]), internasionaal bekend as Panathinaikos FC, of by sy volle naam en die naam van sy moeder-sportklub, Panathinaikos AO of PAO (Παναθηναϊκός Αθλητικός Όμιλος; Athlitikós Ómilos, letterlik: “Pan-Atheense Atletiekklub”), is ’n Griekse professionele sokkerklub gebaseer in Athene, Griekeland.
Panathinaikos is in 1908 gestig as “Podosfairikos Omilos Athinon” (Sokkerklub van Athene) deur Giorgos Kalafatis. Hulle speel in die Superliga van Griekeland en is een van die suksesvolste klubs in Griekse sokker, en ook een van drie klubs wat nog nooit uit die hoogste afdeling gerelegeer is nie. Onder hulle belangrikste titels is 20 Griekse kampioenskappe, 20 Griekse bekers, en hulle het agt keer die dubbel (liga en beker) en 3 Griekse Superbekers gewen.
Hulle is ook een van drie klubs wat ’n Griekse kampioenskap onoorwonne gewen het, deur die 1963/64-seisoen sonder ’n nederlaag te voltooi. Panathinaikos is die enigste Griekse span wat die UEFA Kampioeneliga-eindstryd bereik het, in 1971 (waar hulle teen Ajax verloor het), en ook twee keer die halfeindrondes, in 1985 en 1996. Hulle is ook die enigste Griekse span wat aan die Interkontinentale Beker deelgeneem het (1971). Verder het hulle twee keer die kwarteindrondes van die Kampioeneliga bereik (in 1992 en 2002), sowel as twee keer die kwarteindrondes van die UEFA-beker (1988 en 2003). Hulle het ook die Balkanbeker in 1977 gewen.
Volgens navorsing en meningspeilings is Panathinaikos die tweede gewildste sokkerspan in Griekeland. Panathinaikos is ook ’n lid van die Europese Klubvereniging.
Hulle het tradisioneel hul tuiswedstryde gespeel by die Leoforos Alexandras-stadion, asook by die Athene Olimpiese Stadion. Panathinaikos het ’n langtermyn-rivaliteit met Olympiacos, en die wedstryd tussen die twee spanne word die Derby van die ewige vyande genoem.
Verwysings
Kategorie:Griekse sokkerklubs