duimnael Pretoriuskop is die oudste toeristekamp met 'n ryk geskiedenis in die suidweste van die Krugerwildtuin. Die kamp, met slaapplek vir 270 in 290 kamers, is gebou op die ou wa-roete tussen Lydenburg en Mosambiek. Die kamp is vernoem na Marthinus Wessel Pretorius, die seun van die Voortrekker Andries Pretorius.
Natuurlewe Die kamp is in 'n area geleë wat taamlik klam en groen is, en word omring deur 'n paar granietkoppies, met Shabenikoppie digby die kamp. Besoekers mag gelukkig wees om swartwitpense en renosters in die area te sien.
Dit is onmiddellik duidelik vir enige besoeker dat Pretoriuskop uniek is, aangesien helderrooi bome die kamp versier, wat dateer lank voor die besluit om uitsluitlik inheemse plante te gebruik in die uitleg van die wildtuin se ruskamptuine. Nostalgie het 'n uitsondering op die reël vir Pretoriuskop, die Krugerwildtuin se oudste ruskamp, gemaak, en eksotiese blomplante is toegelaat om te bly, wat die sterk gevoel beklemtoon van die verlede wat so deurdringend is.
Dagbesoekers Pretoriuskop het 'n aangewese dagbesoekersarea waar dagbesoekers en besoekers van ander kampe kan braai en piekniek hou. Hierdie area is direk links van die kamp se ingangshek. Die Afsaal-piekniekterrein met 'n goeie opelugrestaurant is 33 km weg langs die Voortrekkerpad na Malelane.
Gesondheidsrisiko Die tropiese siekte malaria kom in die laeveld voor, en besoekers moet die nodige voorsorg daarteen tref. 'n Dokter, apteker of reisburo kan vooraf geraadpleeg word.
Bronnelys SANParke se webblad - Pretoriuskop
Kategorie:Krugerwildtuin