Die Malva-agtiges (orde Geraniales) omvat 'n groot verskeidenheid kruide, struike, bome en klimplante; die meeste is egter kruidagtig. Die orde sluit twintig plantfamilies met ongeveer 143 genera en 4000 spesies in. Die groeivorms varieer van klein eenjarige plante tot bome, maar die meeste van hulle is kruidagtig.
Vlasfamilie (Linaceae) Die ongeveer 450 spesies van hierdie familie is almal kruid- of struikagtig, en die meeste van hulle is van die trope afkomstig. Die genus Linum is uit ʼn ekonomiese oogpunt gesien die belangrikste. Veselvlas (Linum usitatissimum) is reeds 5 000 jaar gelede in Mesopotamië verbou.
Van die lande rondom die Middellandse See het die gewas na ander dele van Europa versprei. Deur die stingels in water te lê, kom die basvesels vry, waaruit daar dan na bewerking linne gespin word. Uit die sade van die vlasplant word lynsaadolie, wat onder meer vir die vervaardiging van olieverf gebruik word, gepars. Die residu (oorblyfsels) word saamgepers en in die vorm van lynkoeke as veevoer gebruik. Sommige vlassoorte, soos Linum grandiflorum, word as sierplante gekweek.
Suringfamilie (Oxalidaceae) Die meeste lede van hierdie familie, wat met sy meer as 900 spesies die grootste van die orde is, is kruidagtig, maar 'n paar houtagtige soorte kom ook voor. Die grootste genus is Oxalis (surings), waarvan die meeste soorte in Suid-Afrika en Suid-Amerika voorkom. Die naam suring kom van die suur smaak van die blare en die stingels, wat soms geëet word. Ook die bolle van ʼn paar suringsoorte word veral in Noordwes-Kaapland as voedsel uitgehaal.
Die blare van baie soorte vertoon slaapbewegings deurdat die blare slap hang in die aand. 'n Paar waterliewende suringsoorte is bekend: Oxalis disticha groei byvoorbeeld in die winterreënvalstreek in waterpoele wat in die somer opdroog. Verreweg die meeste Oxalis-spesies in Suid-Afrika groei in die suidwestelike Kaapprovinsie. Die drieledige blaar van Oxalis is steeds die wapen van die Ierse Republiek.
Twee Averrhoa-spesies, Averrhoa bilimbi en Averrhoa carambola, word in baie tropiese wêrelddele aangeplant vanweë hul eetbare vrugte. Die genus is vernoem na ʼn Arabiese geneesheer-filosoof, Averroës.
Malvafamilie (Geraniaceae) Die familie, met sy ongeveer 800 spesies, is een van die bekendstes van die orde vanweë sy tuinboukundige belangrikheid. Kenmerkend vir die familie is die vruggies wat soos voëlbekkies lyk (Geranos ="kraanvoël"). Hulle bestaan uit vyf vergroeide vrugblare wat oopspring as die saadjies ryp is, en dan dikwels die saad uitskiet. Die meeste lede van die familie het verder tipiese handvormig- of veervormig beaarde, gelobde of verdeelde blare, wat dikwels met kliere oortrek is.
Die genus Geranium is kenmerkend vir die gematigde wêrelddele, en 18 spesies daarvan kom in Suid-Afrika voer. Die bekendste is die bergtee (Geranium incanum), wat langs baie Suid-Kaapse paaie gesien kan word. Die grootste verskil ten opsigte van die genus Pelargonium is dat die kroonblare van Geranium-spesies almal ewe groot is, terwyl dit by Pelargonium nie die geval is nie. Pelargonium is die bekendste genus van die familie en is tipies Suid-Afrikaans.
Talle Pelargoniumkruisings word vandag wereldwyd gekweek en in tuine geplant. In Suid-Afrika staan hulle bekend as malvas, of soms verkeerdelik as geraniums. Die Boesmanskerse (genus Sarcocaulon) van die droë Wes-Kaaplandse gebiede behoort ook tot die Geraniaceae. Hulle het hul algemene naam te danke aan hul dik harpuisagtige stamme, wat hoogs ontvlambaar is.
Ander families Slegs een verteenwoordiger, die sogenaamde motvrugboom (Acridocarpus natalitius), word in Suider-Afrika aangetref, en wei in die woude langs die kus van Mosambiek en KwaZulu-Natal. Die Zygophyllaceae is kenmerkend vir die droër wêrelddele, insluitende Suider-Afrika, en is meestal houtagtige meerjarige plante. Die berugte dubbeltjie (genus Tribulus), 'n onkruid in Suid-Afrika, behoort onder meer tot die familie. Die plant kry sy Latynse naam van 'n ou viervurkige Romeinse oorlogsinstrument wat gebruik is om perde mee kruppel te maak.
Die familie Balanitaceae het net een genus (Balanites), met 25 spesies wat in tropiese Afrika en Asië voorkom. Drie daarvan groei in Suider-Afrika, waarvan een, Balanites maughamii, 'n olie soortgelyk aan olyfolie lewer. Die balsemfamilie (Balsaminaceae) word gekenmerk deur twee genera met meer as 450 spesies van sagte, dikwels deurskynende, kruidagtige plante. Die familie was oorspronklik inheems in Afrika en Asië, maar het ook in die gematigde dele van Europa gevestig geraak.
Die bekendste genus is Impatiens, met ongeveer 420 spesies, waarvan 'n paar as potplante gekweek word. Tydens hul ontwikkeling draai die blomme in 'n halfsirkel, sodat hulle eintlik onderstebo aan die stingel vassit. Die vyf meeldrade is vergroei tot 'n kappie wat oor die vrugbeginsel le. Die vrug is 'n vlesige doosvrug wat uitdroog totdat dit oopbars en die saadjies uitskiet. Voorbeelde van die genus is die potplant Impatiens sultani, Impatiens duthieae, wat 'n algemene komponent van die kruidstratum van Suid-Afrikaanse bergwoude is, en Impatiens balsamina, wat in lande soos Indië en Nepal as naelkleursel gebruik word.
Die familie Tropaeolaceae bestaan hoofsaaklik uit kruidagtige klimplante. Die meeste van hulle het groot, skildvormige blare en blomme waarvan drie kelkblare met mekaar vergroei is tot 'n spoor. Die bekende, maklik groeiende kappertjie (Tropaeolus majus), wat baie in tuine geplant word, is ʼn voorbeeld van 'n lid van die familie. Nog elf families word onder die Geraniales geklassifiseer, maar hulle het geen verteenwoordigers in Suider-Afrika nie, en hulle is ook nie om ander redes belangrik nie. Die meeste van hulle is klein families.
Bronnelys Wêreldspektrum, 1982, , volume 18, bl. 24