In die Morewood-gedenktuin op die plaas Compensation by Ballito is die bouval van die eerste suikermeul in Suid-Afrika.

Ligging Hierdie monument vir die vroeë landbouaktiwiteite in kwaZulu-Natal is by 29° 29′ 56.7″ suid, 31° 9′ 59.2″ oos, 8 km van die Dolfynkus, net wes van die Compensation-spoorweghalte, net noord van die Dudley Pringledam (by 29° 31′ 38″ suid, 31° 8′ 27″ oos) en tussen die Tongatiriver en die Mhlalirivier.

Edmund Morewood Edmund Morewood (*Engeland - †Brasilië, 1876) verlaat Engeland in 1833 en besoek Australië, Nieu-Seeland, Madagaskar en Mauritius. In 1835 is hy ‘n sakeman in Kaapstad. Daarna verhuis hy na Natal en in 1840 stel die Voortrekkers hom aan as hawekaptein en doeane-hoof van Port Natal. Later is hy selfs ‘n parlementslid in die jong Britse kolonie Natal. Hy stel voor dat suikerriet uit Madagaskar en Réunion ingevoer word en plant dit aan op die plaas Compensation wat aan hom deur die regering toegeken is as erkenning vir sy dienste. Hier word hy die baanbreker van die suikerbedryf in Suid-Afrika. In 1853 verhuis hy na Brasilië.

Eerste suikermeul Morewood se eerste suikermeul is in 1850 gebou en het bestaan uit vertikale rollers wat deur vier arbeiders met die hand aangedryf is. Met die 12 gellings sap wat per uur verkry is, word in Desember 1851 die eerste suiker geproduseer. Die projek is in 1854 gestaak.

Monument Die bouval van hierdie eerste suikermeul is in 1948 gevind. Met steun van die suikerbedryf en die Hulett-familie is ‘n gedenktuin rondom die ruïne ontwikkel. In 1952 is dit tot gedenkwaardigheid verklaar. Sedert vroeg in die 21ste eeu is toegang weens vandalisme verbode.

Bibliografie Bulpin, T.V.: To the ... Shores of ... Natal. Kaapstad: Howard B. Timmins, ongedateerd https://kznpr.co.za/kzn-photo-record-blog/morewood-memorial-compensation/ Oberholster, J.J.: Die historiese monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Kultuurstigting Rembrandt van Rijn vir die Raad vir Nasionale Gedenkwaardighede, 1972 sa-venues.com/things-to-do/kwazulunatal/visit-the-morewood-memorial-garden/ https://www.smri.org/sugarfacts/Pages/historyofsugar.aspx

Kategorie:Monumente en gedenkwaardighede in Suid-Afrika Kategorie:KwaZulu-Natal