Breaking Bad is ’n Amerikaanse neo-Westerse misdaadtelevisiereeks wat deur Vince Gilligan geskep en vervaardig is. Die reeks speel af en is verfilm in Albuquerque, Nieu-Mexiko, en gaan oor Walter White (Bryan Cranston), ’n oorbekwame, moedverlore hoërskoolonderwyser in chemie wat worstel met ’n onlangse diagnose van stadium-3-longkanker. White wend hom tot ’n lewe van misdaad en span saam met ’n voormalige leerling, Jesse Pinkman (Aaron Paul), om tik te vervaardig en te versprei om sy gesin se finansiële toekoms te verseker voordat hy sterf. Intussen moet hy die gevare van die kriminele onderwêreld navigeer. Ook in die reeks is Anna Gunn, Dean Norris, RJ Mitte, Betsy Brandt, Giancarlo Esposito, Jonathan Banks en Bob Odenkirk.
Breaking Bad se première was op 20 Januarie 2008, en dit het vyf siesoene geduur. Die eerste seisoen het oor die algemeen positiewe resensies ontvang, terwyl die daaropvolgende seisoene (veral die vyfde en laaste seisoen) universele lof ontvang het, veral vir die toneelspel, regie, kinematografie, skryfwerk, storielyn en karakterontwikkeling. Die reeks het in sy eerste drie seisoene redelike kykersgetalle gehad, maar die vierde en vyfde seisoen het ’n matige toename in kykertal beleef toe dit kort voor die vierde seisoen se première op Netflix beskikbaar gestel is. Die kykertal het eksponensieel toegeneem met die première van die tweede helfte van die vyfde seisoen in 2013. Teen die tyd dat die laaste episode van die reeks uitgesaai is, was dit onder die mees gekykte kabelreekse op Amerikaanse televisie.
Sedert die afsluiting daarvan word die reeks deur baie resensente beskou as een van die beste televisiereekse van alle tye. Dit het ook ’n kultusaanhang ontwikkel en het talle toekennings ontvang, insluitend 16 Emmys, twee Golden Globes, twee Critics' Choice-toekennings en een Bafta. Cranston het die Emmy vir uitmuntende hoofakteur in ’n dramareeks vier keer gewen, Paul het die Emmy vir uitmuntende manlike byspeler in ’n dramareeks drie keer gewen en Gunn het die Emmy vir uitmuntende vroulike byspeler in ’n dramareeks twee keer gewen. In 2023 is Breaking Bad in ’n peiling deur Rotten Tomatoes deur resensente as die beste TV-reeks van die afgelope 25 jaar aangewys.
Die reeks het aanleiding gegee tot die groter Breaking Bad-franchise met opvolgreekse. Op 11 Oktober 2019 is El Camino: A Breaking Bad Movie uitgereik met Paul in die hoofrol.
Storielyn Breaking Bad gaan oor Walter White (Cranston) tussen 2008 en 2010. Hy is 'n sukkelende, gefrustreerde hoërskoolonderwyser in chemie in Albuquerque, Nieu-Mexiko, wat 'n misdaadbaas word in die plaaslike tikhandel. Hy doen dit om sy gesin versorg te laat nadat hy met longkanker gediagnoseer is.
Hy en 'n voormalige leerling, Jesse Pinkman (Paul), maak aanvaklik klein hoeveelhede tik in 'n woonwa, maar vorder later tot groter hoeveelhede van 'n suiwer, blou tik waarvoor daar 'n groot aanvraag is. Walter neem die van "Heisenberg" aan om sy identiteit te beskerm. Eindelik begin hy met sy gesin vassit, asook met die dwelmpolisie (DEA), waarvan sy swaer, Hank Schrader (Norris), later die hoof word, en Mexikaanse dwelmkartels. Dit plaas sy lewe en dié van sy gesin in gevaar.
Hoofakteurs
Bryan Cranston as Walter White, wat as dwelmmisdaadbaas 'n reputasie onder die naam "Heisenberg" opbou. Anna Gunn as Skyler White, Walter se vrou, wat aanvanklik swanger met sy tweede kind is en later die ma van sy dogtertjie. Sy begin al hoe meer snuf in die neus kry toe haar man op vreemde maniere begin optree. Aaron Paul as Jesse Pinkman, Walter se assistent en later vennoot. Dean Norris as Hank Schrader, Walter en Skyler se swaer deur sy huwelik met Skyler se suster, Marie. Hank is 'n DEA-agent. Betsy Brandt as Marie Schrader, Hank se kleptomaniese vrou. RJ Mitte as Walter White jr., Walter en Skyler se seun wat serebrale verlamming het. Mitte het self serebrale verlamming, maar 'n ligter vorm daarvan. Giancarlo Esposito as Gustavo "Gus" Fring, 'n Chileense dwelmverspreider wat sy identeit wegsteek agter 'n kitskosketting, Los Pollos Hermanos. Bob Odenkirk as Saul Goodman, 'n twyfelagtige prokureur wat Walt en Jesse verteenwoordig. Laura Fraser as Lydia Rodarte-Quayle, 'n werknemer van Madrigal Electromotive met 'n hoë posisie en 'n voormalige vennoot van Gus. Sy begin Walt later help om sy dwelms oorsee te versprei.
Ontvangs Breaking Bad het algemene lof ontvang en is deur baie resensente geprys as een van die beste televisiereekse van alle tye. Die reeks het ook ’n kultusaanhang ontwikkel. Dit het ’n algehele gradering van 87 uit 100 op Metacritic gekry. Die Amerikaanse Rolprentinstituut het Breaking Bad gelys een van die top-10-televisiereekse van 2008, 2010, 2011, 2012 en 2013. In 2013 het TV Guide dit as die negende beste TV-reeks van alle tye aangewys.
410px|thumb|Van Breaking Bad se akteurs en spanlede (van links): die skepper, Vince Gilligan; RJ Mitte; Aaron Paul; Anna Gunn; Bryan Cranston; Dean Norris; en die vervaardiger Mark Johnson. Teen die einde van die reeks was dit onder die mees gekykte kabelreekse op Amerikaanse televisie, met kykersgetalle wat van die vierde tot die vyfde seisoen verdubbel het. In ’n 2015-opname deur The Hollywood Reporter onder 2 800 akteurs, vervaardigers, regisseurs en ander mense in die bedryf is Breaking Bad as hulle naasgunstelingreeks aangewys. In 2016 en 2022 het Rolling Stone dit derde geplaas op sy lys van die 100 beste TV-reekse van alle tye.
In September 2019 het The Guardian dit vyfde geplaas op sy lys van die 100 beste TV-reekse van die 21ste eeu en dit beskryf as “die reeks wat waarskynlik die antihelddrama tot ’n einde gebring het: Niks sedertdien kon die verdorwe afdraand wat Walter White (’n beter Bryan Cranston as ooit tevore) beleef het – van vaal chemie-onderwyser tot tikmisdaadbaas – oortref nie, en min het dit gewaag om te probeer.” In 2021 het Empire die reeks tweede geplaas op sy lys van die 100 beste TV-reekse van alle tye.
Allen St. John van Forbes het dit “die beste TV-reeks nog” genoem. In 2021 is dit deur die BBC as die derde beste TV-reeks van die 21ste eeu aangewys, en in 2023 het Variety dit as die vyfde beste TV-reeks van alle tye gelys.
Die eerste seisoen van die reeks het oor die algemeen ’n positiewe ontvangs ontvang. Robert Bianco van USA Today het Cranston en Paul geprys en geskryf: “Daar is humor in die reeks, meestal in Walt se pogings om geleerdelogika op die besigheid en op sy idiootleerling toe te pas, ’n rol wat Paul baie goed vertolk. Maar selfs hulle tonele neig tot spanning, aangesien die duo leer dat dit lelik en morsig is om iemand dood te maak, selfs in selfverdediging.”
Die tweede seisoen het ook lof ontvang. Entertainment Weekly se Ken Tucker het verklaar: “Bad is ’n buitengewoon vars metafoor vir ’n middeljarekrisis: Dit het kanker en wetsoortreding geverg om Walt uit sy voorstedelike verdowing te ruk, om weer die lewe te ervaar – om kanse te waag, gevaar te loop, dinge te doen waartoe hy nie gedink het hy in staat is nie. Natuurlik sou niks hiervan werk sonder die Emmy-wenner Cranston se woeste, humoristiese onselfsugtigheid as akteur nie. Ten spyte van al die somberheid en duisternis, is daar ’n gloeiende opwinding aan hierdie reeks: Dit is ’n lekkervoelreeks oor hoe om regtig sleg te voel.” Tim Goodman van die San Francisco Chronicle het beweer: “Dit lyk asof Gilligan se gewaagde visie vir Breaking Bad nou teen alle verwagtinge in ten volle beloon word; almal wat by die projek betrokke is, het vernuwe. Jy kan die volwassenheid en groeiende ambisie daarvan in elke episode aanvoel.” Die gruwelskrywer Stephen King het die reeks geloof en vergelyk met onder meer Twin Peaks en Blue Velvet.
Die derde seisoen het eweneens lof ontvang. Tim Goodman het die skryfwerk, toneelspel en kinematografie geprys en gewys op die “visuele waagmoed” van die reeks. Hy het die visuele styl beskryf as ’n "kombinasie van verstommende skoonheid – die regisseurs maak ruim gebruik van wyehoeklandskapportrette – en meesleurende vreemdheid”.
Ook seisoen vier het algemene lof ontvang. The Boston Globe het na die reeks verwys as ’n "styfgespanne oefening in teruggehoue rampspoed” en dit as “boeiend” bestempel.
Albei helftes van die vyfde seisoen het oorweldigende lof ontvang. Ná die einde van die reeks het die resensent Nick Harley sy lof soos volg opgesom: “Meesterlik geskryf, virtuoos geregisseer en foutloos vertolk – Breaking Bad is alles wat ’n mens in ’n drama kan soek.” In 2013 het Guinness World Records Breaking Bad aangewys as die hoogste gegradeerde TV-reeks van alle tye, met verwysing na sy vyfde seisoen se Metacritic-telling van 99 uit 100.
In 2018 het Paul MacInnes van The Guardian geskryf: “Breaking Bad het om baie redes ’n klassieke drama geword: Sommige het met vakmanskap te doen, ander met kreatiwiteit. Maar bowenal het dit uitgestaan omdat dit, hoe surrealisties die omgewing ook al was, in sy botsende, komplekse karakters getrou aan die werklikheid gebly het.”
Pryse en benoemings thumb|300px|Van die akteurs en ander spanlede van Breaking Bad op die 68ste Peabody-toekenning.
Die reeks het talle pryse en benoemings gewen, insluitend 16 Emmys en 58 benoemings. In 2013 en 2014 het dit die Emmy vir beste dramareeks gewen. Dit het ook in 2008 en 2013 'n Peabody-prys gewen.
Vir sy vertolking van Walter White het Bryan Cranston vier keer die Emmy vir beste hoofakteur in 'n dramareeks gewen: in 2008, 2009, 2010 en 2014. Hy het ook die Critics' Choice Television Award vir die beste TV-akteur en ander pryse gewen.
Aaron Paul het die Emmy vir beste manlike byspeler in 'n dramareeks in 2010, 2012 en 2014 gewen. Anna Gunn het die Emmy vir beste vroulike byspeler in 'n dramareeks in 2013 en 2014 gewen. Vir sy rol in seisoen 4 het Giancarlo Esposito die Critics' Choice Television Award vir beste manlike byspeler in 'n dramareeks gewen.
Breaking Bad het ook verskeie ander pryse gewen, soos in 2013 die TCA-prys vir program van die jaar, in 2009 en 2010 die Satellite Award vir beste TV-drama en in 2012 en 2013 die Writers Guild of America Award vir beste dramareeks. In 2013 is dit gekies as nr. 13 op die lys van 101 bes geskrewe TV-reekse van alle tye. Die reeks het 110 pryse gewen van die 262 waarvoor dit benoem is.
Gehore se reaksie op Skyler Die karakter Skyler White het baie kritiek gekry. Dit het gelei tot talle besprekings, soos die gemeenskap se houding jeens vroue, feminisme, seksisme en dubbele standaarde.
thumb|left|160px|Die skepper en regisseur van Breaking Bad, Vince Gilligan. In Augustus 2013 het de aktrise wat die rol vertolk, Anna Gunn, 'n artikel in The New York Times gepubliseer met die titel "I Have a Character Issue". Daarin bespreek sy haar ondervinding in die vertolking van Skyler, met klem op die venynige opmerkings deur kykers oor haar karakter. Sy het Skyler vergelyk met soortgelyke TV-vroue wat die gehore gif laat spoeg het terwyl hulle mans skotvry daarvan afgekom het, veral Carmela Soprano van The Sopranos en Betty Draper van Mad Men. In Gunn se woorde "wou Vince Gilligan, die skepper van Breaking Bad, hê Skyler moes 'n vrou van staal wees wat alles kon hanteer wat haar getref het en nie net in 'n hoekie sou gaan sit en haar hande wring nie. Die reeks se skrywers het Skyler met vele fasette geskryf, maar sy is nie met dieselfde stel standaarde as Walter beoordeel nie".
Vince Gilligan het beide Skyler en Anna Gunn verdedig en op 'n reünie in 2018 gesê: "Ek het gedink dit sou vir mense moeilik wees om met Walt simpatie te hê. Nou hoor ons van dié vyandigheid teenoor Skyler White. Anna Gunn het so 'n briljante vertolking gegee. Ons het nooit simpataie of 'n gebrek daaraan probeer ontlok nie. Ek sou dit verander het as ek 'n towerstaf gehad het."