Servaas de Kock (1858–1933) was 'n bekende Suid-Afrikaanse landmeter. Nadat hy in Kaapstad die landmetereksamen afgelê het, het hy in die Namakwaland opmetingswerk gedoen. In 1884 het hy in Pretoria 'n praktyk begin, en later in diens getree van die regering. Hy het opgestyg tot die pos van assistent-landmetergeneraal van die Zuid-Afrikaansche Republiek. De Kock was die landmeter wat die Pretoria-Delagoabaai-spoorlyn opgemeet het.

Na die Tweede Vryheidsoorlog het hy weer tot die staatsdiens toegetree, maar in 1903 het hy in vennootskap getree met landmeter Malherbe en het hulle die firma De kock en Malherbe gestig.

Tydens sy amptelike diens het De Kock waardevolle werk gelewer, onder andere met die opmeting van die Babertonse goudvelde, die Lebomboberge en die Witrivier-nedersetting. In baie opsigte het hy baanbrekerswerk gedoen.

Vroeë lewe De Kock is op 26 Maart 1858 op Moddergat in die distrik Stellenbosch gebore, en is op 30 Januarie 1933 in Pretoria oorlede.

Op 7 April 1885 het hy in die huwelik getree met Hendrika B. van de Wall, 'n dogter van ds. Gillie van de Wall van Paarl. Uit die huwelik is drie seuns gebore, onder wie dr. Gilles de Kock van Onderstepoort.

Verwysings

Kategorie:Geboortes in 1858 Kategorie:Sterftes in 1933