Octavius is ’n boek uit omstreeks 197 n.C. wat in dialoogvorm geskryf is deur Marcus Minucius Felix. Hierin is ’n woordestryd opgeteken tussen sy twee vriende, naamlik Caecilius, ‘n Romeinse heiden, en Octavius, ’n Christen. Dit volg nadat Octavius vir Caecilius aangevat het oor sy heidense vormgodsdiens. Na die debatvoering bekeer Caecilius hom tot die Christendom.

Hoofpersone Marcus Minucius Felix (skrywer) is ’n prokureur en toegewyde Christen. Te oordeel aan sy voornaam, stamnaam en bynaam, kan daar afgelei word dat hy uit die hoër stande is. Felix tree as tussenganger op. Octavius Ianuarius is ’n Christen; hy is egter nie van adele afkoms nie, maar het deur harde werk gekom waar hy is. Op handearbeid is neergesien; maar die Christene se liefde ken geen standverskil nie. Quintus Caecilius Natalis is ’n heiden wat nog blindelings aan sy gebruike vasklou. Hy stam uit ’n baie ou en ryk Romeinse familie, wat goeie opvoeding geniet het.

Oorsig Aanloop Felix dink terug aan sy afgestorwe en vrome vriend, Octavius Ianuarius – ’n onuitspreeklike gemis het hierdie vriend in hom agtergelaat. Hy herinner hom veral aan die woordewisseling tussen Octavius en Caecilius.

Sy vriend, Octavius, het eendag by Felix onverwags opgedaag, wie tog te bly was om hom te sien. Nadat hulle twee ’n paar dae lank nou elkeen beurtelings oor hul doen en late uitgewei en met die jongste nuus ingehaal het, besluit hulle om na Ostia af te reis vir ’n seevakansie. Dit was herfs, die wynoes was buitendien klaar en die regspraktyk het so te sê tot stilstand gekom; die temperatuur sou ook, ná die somer, meer gematig wees. Hierdie druiweoes-vakansie staan bekend as die vindemia.

Op pad strand toe merk Caecilius ’n beeld van Serapis [Egiptiese god wat ingang by Rome gevind het] op en volgens gebruik druk hy sy hand teen sy mond in ’n soengebaar (“manum ori admovens, oculum labiis pressit” – terwyl hy sy hand na sy mond toe beweeg/bring, het hy ’n soen op die lippe gedruk). Met ander woorde, die adoratio: ’n mens bring jou regterhand na die mond, soen jou eie vingers of handpalm en strek die hand dan as teken van eerbied na die standbeeld toe uit.

Wie swyg, stem toe; Octavius kan die stilbly nie. Dit is vir Octavius net ongehoord dat sy geleerde Christenvriend Felix toelaat dat sy eweknie in sulke volkse verblindheid (Caecilius beteken toevallig “die blinde”) versonke bly. Deur sy nalatigheid maak dit Felix aan sulke dwaling ewe aandadig. Terwyl hy dit sê, het die mans reeds die laaste huise van die stad langs verbygeloop en trek nou by die vrye oop strand, wat dus nie aan die staat of privaatpersoon behoort het nie, maar die natuur.

Die strand self is so te sê windstil, met sagte golfies wat op die strand aanspoel. Terwyl hulle aanstap, voer hulle gesprekke oor die onlangse seereis van Octavius. Toe hulle nou ’n lang ent al pratend gestap het en besluit om op hul spore terug te draai – verkyk Octavius en Felix hulle aan die seuns wat uitgelate klippies op die see gooi wat netjies oor die water skeer. Te midde van al die kalm en sorgelose strandvermaak wat voor hulle afspeel, broei daar ’n storm in die gemoed van dikbek Caecilius; sodanig dat Felix moet vra wat pla.

Caecilius het Octavius se betigtiging baie persoonlik geneem. Dit raak nou ’n beginselsaak. Hulle kan sommer by die een hawehoof gaan sit en die saak daar uitklaar, terwyl hul rus na die lang wandeling.

Felix gaan sit tussen die twee teenstanders as arbiter, ook omdat hy albei sy vriende se lewenswyses goed ken. Caecilius spreek Felix dus toe.

Caecilius se redevoering  Caecilius voel die wetenskap ly geweldig aan tekortkominge; dit is nou as Octavius die wetenskap as teenvoeter sou byhaal om sy heidense gebruike aan te val. Caecilius kan nie die atomistiese stroming sommerso aanvaar dat alles uit materie bestaan wat net lukraak iewers heenvloei of in welke vorm dan ook vergestalt of manifesteer nie. Daar is net te veel vreemde lotgevalle. Waarom kom goeie en slegte mense tydens ’n onstuimige storm in ’n skipbreuk om, ongeag hul verdienste? Of in ’n brand, waarin sowel die onskuldiges as skuldiges oor een kam geskeer word en almal doodbrand? Waarom, tydens ’n epidemie, sterf almal sonder onderskeid? Waarom sterf die dapperste manne op die slagveld? As daar ’n énkele Voorsienigheid was, dan sou daar nooit ’n Phalaris of Dionysies die troon bestyg het nie. Sokrates sou ook nie die gifbeker gedrink het nie. Ook die mooiste oeste word deur haelstorms verniel. Die waarheid bly vir die mens verborge – of, meer nog – daar moet iets bo ’n vaste wet of formule wees wat hierdie wisselvallige en onsekere lotgevalle beheer. Caecilius glo dus nie in die determinisme [behalwe dat die Romeinse gode moes regeer, sien onder] of wetmatigheid nie. Hy wil egter ook nie die monoteïsme van die Christene aanvaar nie. Omdat die mens nooit die waarheid sal weet nie, daarom is dit beter om by die ou gebruike en tradisie te bly, soos dit nog altyd was.

Daar kan nie ’n enkele Voorsienigheid wees as so baie volke hulle eie volks- en huisgode het nie. Alle volke het ’n vaste eenstemmigheid in die geloof van hul bestaan – ongeag hul onsekere oorsprong.

In die naam van die gode het die Romeine die wêreld oorwin, maar anders as die Christene was die Romeine van ouds baie verdraagsaam. Hulle het die gode van die oorwonne volke nie vernietig of beledig nie, maar aangeneem! Juis omdat Rome so vroom was, het alle gode dwarsoor die wêreld sommer daar en dan besluit Rome moet die mag oor die wêreld gegee word. Die Christene behoort dankbaar te wees.

 Dié wat nie na die orakels geluister het nie, het hul suur bekom – kyk maar wat met Crassus gebeur het.

 Die Christene vergader op geheimsinnige plekke – hulle verafsku die tempels soos begraafplase, hoon die gode, bespot die offerplegtighede, sien neer op die priesters en beskimp die ereamptenare se purper streep op hul klere, terwyl die Christene self halfnaak rondloop.

 Die Christene trotseer martelinge, terwyl hulle hul kwel oor toekomstige gebeure – waar hulle in die hiernamaals nogmaals sal sterwe. Tog jaag die dood hulle nie die skrik op die lyf nie; die lewe in die hiernamaals is hul bedrieglike hoop in hul huidige ellendige bestaan.

duimnael|Die Alexamenos-graffiti beeld die aanbidding van 'n eselskop aan 'n kruis uit Soos onkruid vermeerder die sedebederf, soos die gerugte die rondte doen: hulle herken mekaar deur geheime tekens; hulle noem mekaar “broeder” en “suster” – sulke geheiligde benamings is ’n dekmantel vir al die bloedskande wat agter geslote deure plaasvind; hulle aanbid die kop van ’n esel; ander sê die Christene vereer die geslagsdele van hul voorgangers en priesters – in aanbidding sink hulle voor die skeppingskrag van hul sogenaamde vader neer. Al kan hierdie verdenking ook vals wees – dit rym darem met hul geheimsinnige nagtelike bedrywighede.

Hoe kan ’n Christen iemand vereer wat vir ’n misdaad gedood is? Die kruis – die instrument van teregstelling – is hul voorwerp van verering, net soos die heidene hul godsbeeldjies het – waarom die heidene dan aanval?

 Daar word vertel die nuweling ondergaan by sy inwyding ’n walglike rite: ’n baba word geheel en al met meel bedek. Die nuweling slaan dan onwetend die kind dood deur blinde wonde toe te dien. Daarna slurp die ander gelowiges gretig die bloed van die kind op en verdeel die ledemate.

Volgens die stadsgenoot Fronto kom al die kinders, moeders en mans (van alle geslagte) byeen en sodra die dop begin trek, gee hulle hulself oor aan hulle luste: hulle sal ’n hond vasmaak aan ’n lamp. Hulle gooi dan ’n been voor die hond, maar net ver genoeg dat dit net-net buite die hond se bereik is. Sodra die hond vorentoe spring en die lugter omval, dan volg ’n bacchanalia in die donker.

 Waarom word alles so geheim en geslote gehou? Waarom het die Christene geen altare, geen tempels en geen godebeelde nie? Waarom praat hulle nooit in die openbaar nie? Waarom vergader hulle nie in die openbaar nie? Want donkerwerk is konkelwerk.

Waar kom hierdie goddelike wese [Jesus] uit die niet vandaan wat geen volk, geen koninkryk en selfs nie eens die bygeloof van die Romeine ken of van gehoor het nie? Kyk maar: selfs die Jode ken slegs een Opperwese, maar Hy word openlik in die tempels, deur altare/offers/seremonies vereer. Nie dat dit veel beteken het nie, want sy mag is so min dat sy verbondsvolk vandag gevangenes van die Romeinse sterwelinge is. [Jerusalem is omstreeks 70 n.C. deur die Romeine ingeneem en met die aarde gelykgemaak – soos Christus gewaarsku het in Mattheus 24:2, Markus 13:2 en veral Lukas 19:41-44.]

Daar word vertel die God van die Christene is heen-en-weer-lopend en alomteenwoordig. Wat ’n onbeskaamde en bemoeisieke wese, wat oral ronddwaal! Dit is onmoontlik dat so ’n wese met elkeen afsonderlik kan besig wees.

 Die hele wêreld dreig om deur vuur verbrand te word en dat die hemele sal skeur. Maar alles wat tot as en stof vergaan, sal weer opstaan. Om daardie rede verfoei die Christene die brandstapel [verassing – die norm onder die Romeine]. Die liggaam gaan tog tot niet – of wilde diere dit nou verskeur, en of die see dit verswelg, en of die grond dit bedek, en of die vuur die liggaam verteer – waarom is die liggaam na die dood so kieskeurig? ’n Mens sou dink, as daar geen gevoel is nie, dan is die vinnige manier van vernietiging ’n weldaad. As daar na die dood wel nog gevoel in die liggaam is, dan is enige ander vorm (soos ontbinding) ’n helse uitgerekte straf.

 Die Romeine geniet hul lewens. Die Christene weerhou hul van en ontsê hul hierdie genietinge, en belowe hulself deur hul deugsaamheid ’n gelukkige lewe na die dood, terwyl die res (die onregverdiges in hul oë) ’n ewigdurende straf sal beleef.

 Tog word daar met twee verskillende mate gemeet. Die heiden skryf sy handelinge aan die noodlot toe, net soos die Christen alles aan God toeskryf. Dus – jy sal nie uit eie beweging by die Christendom aansluit nie, maar omdat jy deur God uitverkies is. Dit is daarom ’n onregverdige Regter, wat die lot in die mens self bestry en beskik en jou uiteinde beklink – daar is geen sprake van ’n vrye wil nie.

 Caecilius wil weet: gaan die Christene opstaan met die ou liggaam, ’n nuwe liggaam, of sonder ’n liggaam? Of is daar sprake van reïnkarnasie? Hoe dan ook – Caecilius is nie bewus van enigiemand wat ná al die eeue uit die onderwêreld teruggekeer het nie.

Die meeste Christene is behoeftig, brandarm, sloof hulle af en ly aan koue en honger – en hul God laat dit toe, asof Hy dit nie sien nie. So onmagtig en so onregverdig is Hy. En as jy aan die hiernamaals dink terwyl jy in gevaar verkeer, koors of pyn ervaar – erken jy as mens nie jou eie broosheid nie? Jy word van jou eie swakheid oortuig en tog wil jy dit nie beken nie.

 Die Christene verduur dreigemente, martelinge, pynigings, foltering, kruisigings, om aan ’n teerpaal verband te word – selfs die dood deur die vlamme wat hul so vrees: waar is jou God, wat jou by die opstanding sal help opwek, maar nie in die lewe wil help nie?

 Leef die Romeine en die heersers nie ook maar onder die Christengod nie? Het hulle nie die hele wêreld tot hul beskikking, en is hulle nie die Christene se meesters nie? En tog leef die Christene in angs, hulle bly weg van die skouspele en neem nie aan die feestelike optogte deel nie; onder die openbare maaltye is hulle nooit onder die deelnemers nie, ook nie by al die plengoffers en gevegte uit godsdienstige gronde nie. En dit, terwyl hul die bestaan van die gode verloën!

 Die Christene dra nie blomme in die hare nie, en dra ook geen reukwerk nie. Die parfuum word slegs vir die begrafnisse gehou, en hulle weier selfs om die grafte met kranse te versier. Ten minste het die Romeinse gode darem daardie bietjie deernis.