Die Chaco-oorlog (Spaans: Guerra del Chaco; Guaraní: Cháko Ñorairõ ) was 'n Suid-Amerikaanse oorlog wat van 1932 tot 1935 gewoed het. In dié gewapende stryd het die buurlande Bolivië en Paraguay om beheer oor die Gran Chaco-streek (Spaans: Chaco Boreal) geveg, wat glo ryk aan ruolie was. Na die oorlog word in Spaans ook verwys as La Guerra de la Sed ("Die oorlog van dors"), aangesien dit in die halfwoestynagtige Chaco gewoed het, en in Bolivië soms La guerra estúpida ("die dom oorlog"), vanweë sy rampspoedige verloop. Dit was die eerste Suid-Amerikaanse oorlog waartydens moderne wapens soos masjiengewere, gepantserde gevegsvoertuie en vegvliegtuie gebruik is en die bloedigste Suid-Amerikaanse oorlog in die 20ste eeu — sowat 2% van die Boliviaanse en 3% van die Paraguaanse bevolking is in die oorlog dood.

duimnael|links|Gebiedsveranderinge ná die Chaco-oorlog Tydens die oorlog het albei landingeslote lande moeilikhede ondervind om wapens en voorrade deur buurlande te vervoer. Ondanks sy inkomste uit mynbou, asook sy groter en beter toegeruste weermag het probleme met internasionale handel en swak interne kommunikasie die situasie uiteindelik teen Bolivië gedraai. Die Chaco-oorlog is in Julie 1938 met die Chaco-vredeskonferensie in Buenos Aires beëindig, waartydens albei lande 'n vredesverdrag onderteken het waarin driekwart van die Gran Chaco aan Paraguay oorhandig is. Ná die Paraguaanse Oorlog (1864–1870) was dit die tweede oorlog waarna Paraguay se grense vasgelê is, dié keer ten gunste van Paraguay. Die Gran Chaco beslaan nou 60% van Paraguay se grondgebied, maar slegs 2% van sy bevolking.

Sien ook Salpeteroorlog (1879–1883), 'n ander oorlog waarin Bolivië grondgebied verloor het

Verwysings

Bronnelys

Eksterne skakels

Kategorie:Geskiedenis van Bolivië Kategorie:Geskiedenis van Paraguay Kategorie:Oorloë