Julen Lopetegui Argote (gebore 28 Augustus 1966) is ’n Spaanse professionele sokkerafrigter en voormalige sokkerspeler. Hy is tans die hoofafrigter van die Katarse nasionale span.

As speler was hy ’n doelwagter en het hy oor nege seisoene 149 La Liga-wedstryde gespeel, waarin hy Real Madrid, Logroñés, Barcelona en Rayo Vallecano verteenwoordig het. Hy het ook 168 wedstryde in die Segunda División vir drie klubs gespeel. Hy het een keer vir die Spaanse nasionale span uitgedraf en was deel van die groep by die 1994-Wêreldbeker. Daarbenewens het hy drie wedstryde vir die nie-erkende Baskiese nasionale span gespeel.

Lopetegui het in 2003 sy afrigtingsloopbaan begin en het verskeie jare aan die roer van Spanje se jeugspanne gestaan, waar hy die o/19- en o/21-spanne na Europese titels gelei het. Hy was ook vir twee jaar hoofafrigter van die senior nasionale span, maar is kort voor die aanvang van die 2018-Wêreldbeker ontslaan nadat sy ooreenkoms om ná die toernooi by Real Madrid aan te sluit aangekondig is. In klubvoetbal het hy Rayo Vallecano, Castilla, Porto, Real Madrid, Sevilla, Wolverhampton Wanderers en West Ham United afgerig.

Sy grootste prestasies as afrigter is die wen van die Europa League in 2020 met Sevilla en om die Katarse nasionale span na hul tweede Wêreldbeker-toernooi ooit te lei.

Verwysings

Kategorie:Spaanse sokkerspelers Kategorie:Sokkerafrigters Kategorie:Geboortes in 1966 Kategorie:Lewende mense