Die Taiwannese nasionale rugbyspan (Chinees: 中華台北國家美式足球代表隊, pinyin: Zhōnghuá táiběi guójiā měishì zúqiú dàibiǎo duì), deur Wêreldrugby erken as Chinees Taipei, is die nasionale rugbyspan wat die Republiek China op die eiland Taiwan in internasionale wedstryde (toetswedstryde) verteenwoordig. In sy eerste toetswedstryde het die nasionale span as die nasionale rugbyspan van die Republiek China (中華民國國家橄欖球代表隊, Zhōnghuá Mínguó Guójiā Gǎnlǎnqiú Dàibiǎoduì) verskyn, maar vanweë die internationale druk deur die Volksrepubliek China neem dit aan internasionale toernooie deel as die nasionale rugbyspan van Chinese Taipei (中華台北男子橄欖球代表隊, Zhōnghuá táiběi nánzǐ gǎnlǎnqiú dàibiǎo duì). Rugby word in die Republiek China geadministreer deur die Chinese Taipei Rugbyvoetbalunie (Engels: Chinese Taipei Rugby Football Union, CTRFU; Chinees: 中華民國橄欖球協會) wat in 1946 gestig is. Die Republiek China word deur Wêreldrugby as ’n vlak drie-span erken. Die Taiwannese rugbyspan is tans (Augustus 2026) 61ste op Wêreldrugby se wêreldranglys gelys. Die Republiek China is tradisioneel een van die sterker Asiatiese nasionale rugbyspanne ná Japan, Hongkong en Korea.
Rugby in die Republiek China dateer uit die Japannese besetting en word sedertdien sterk deur die voormalige koloniale mag beïnvloed. In 1969 het die Republiek China sy eerste toetswedstryd tydens die eerste Asiatiese Kampioenskap teen Suid-Korea gespeel. Hulle het tydens die Asiatiese Rugbykampioenskap nog geen titel ingepalm nie en drie keer in die derde plek geëindig. Die Republiek China kon tot dusver nog nie vir ’n rugbywêreldbekertoernooi kwalifiseer nie. Die Taiwannese span speel tradisioneel in donkerblou truie met rooi-wit kleuraksente, donkerblou broeke en donkerblou sokkies – wat aan die kleure van die Vlag van die Republiek China ontleen is.
Beheerliggaam
Die beheerliggaam vir rugby in die Republiek China is die Chinese Taipei Rugbyvoetbalunie (Engels: Chinese Taipei Rugby Football Union, CTRFU; Chinees: 中華民國橄欖球協會). Die Taiwannese beheerliggaam is in 1946 onder die naam Rugbyvoetbalunie van die Republiek China (Rugby Football Union of the Republic of China, RFUROC; 中华民国橄榄球协会) in die Republiek China gestig en het ná die einde van die Chinese Burgeroorlog in 1949 na die eiland Taiwan ontwyk. In 1988 het dit ’n volle lid van die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) geword. Daarbenewens was die CTRFU in 1968 ’n stigterslid van die Asiatiese Rugbyvoetbalunie (Engels: Asian Rugby Football Union, ARFU; nou Asië Rugby, AR). Aangesien die wêreldbeheerliggaam volgens die “Een-China-beleid” slegs een verteenwoordiger van China erken, het die beheerliggaam in die 1990’s weggedoen met die naamdeel “Republiek China” en sy huidige naam aangeneem om die politieke aartsvyand se aansluiting by die Internasionale Rugbyvoetbalraad moontlik te maak.
Die hoogste rugbyliga in die Republiek China is die in 2022 gestigte Taiwannese Rugbyliga, waaraan vier spanne deelneem. Die meeste spelers van die Taiwannese nasionale span is uit dié liga afkomstig. Van die ander spelers is veral op professionele vlak in Japan aktief.
Naas die amptelike nasionale span roep die CTRFU ook ander keurspanne byeen. Net soos ander rugbylande beskik die Republiek China oor ’n o/20-nasionale span wat aan die Wêreldrugby o/20-trofee deelneem. Die Taiwan Sevens is die Taiwannese sewesrugbyspan. Kinders en jongmense word reeds op skool aan rugby bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hulle met hul afrigting.
Geskiedenis Invoering en vestiging van rugby duimnael|’n Standbeeld in Nieu-Taipei wat die invoering van rugby in Taiwan herdenk duimnael|upright|Ke Zhi-zhang het in vier toetswedstryde vir Japan uitgedraf en word as pionier van Taiwannese rugby beskou Dit is onbekend wanneer rugby vir die eerste keer in Taiwan – destyds Formosa genoem – gespeel is. Gedurende die middel-19de eeu het Europese seemanne van die vroegste rugbywedstryde in Noordoos-Asiatiese hawestede soos Shanghai en Jokohama in die buurlande China en Japan gespeel, maar dit is onbekend wanneer dit in Taiwan begin het. In 1895 is Taiwan deur Japan beset en geannekseer, die vernaamste rugbyland in Asië, en rugby is glo daarna deur Japanners na Taiwan gebring.
Die in 1910 in Taipei gebore Ke Zhi-zhang word as een van die pioniers van Taiwannese rugby beskou. In 1930 is hy vir die eerste Japannese keurspan opgeroep, wat in September ’n aantal wedstryde teen klubs en keurspanne in die Kanadese provinsie Brits-Columbië gespeel het. Van 1930 tot 1934 het hy in altesaam vier toetswedstryde vir Japan uitgedraf en een drie gedruk. Ná die oorhandiging van Taiwan aan die Republiek China en die ontwyking van die Kuomintang na Taiwan aan die einde van die Chinese Burgeroorlog het Ke Zhi-zhang na sy tuisland teruggekeer en daar rugby help vestig. In 1946 was hy, met ondersteuning deur die Japannese Rugbyvoetbalunie, betrokke by die stigting van die Rugbyvoetbalunie van die Republiek China (Rugby Football Union of the Republic of China, RFUROC; 中华民国橄榄球协会; nou Chinese Taipei Rugbyvoetbalunie (Chinese Taipei Rugby Football Union, CTRFU; 中華民國橄欖球協會). Daarna het hy verskeie wedstryde teen spanne van buurlande soos Japan, Suid-Korea en Thailand help reël om dié spel op Taiwan gewild te maak.
Eerste Asiatiese Rugbykampioenskappe In sy eerste jare het die span as die nasionale rugbyspan van die Republiek China (中華民國國家橄欖球代表隊, Zhōnghuá Mínguó Guójiā Gǎnlǎnqiú Dàibiǎoduì) verskyn. Teenoor die Volksrepubliek China kan die Republiek China op Taiwan met ’n ononderbroke rugbygeskiedenis spog, aangesien die stigting van die Volksrepubliek China in 1949 ’n uitbreiding van rugby na die Chinese vasteland vir eers gekniehalter het. In dié tyd het die Taiwannese rugby ’n tweede hupstoot gekry. Die sterk groei van dié land se ekonomie sedert die 1950’s as een van die Vier Asiatiese Tiere het tot ’n sterk samewerking tussen Japannese en Taiwannese maatskappye gelei. Aan die begin het die eilandstaat ’n tekort aan rugbyvelde gehad, maar oor genoegsaam hulpmiddels beskik en betrokkenes soos Lin Chang Tang het gehelp om die spel by skole te vestig. In Desember 1968 was die Republiek China in Bangkok een van die Asiatiese Rugbyvoetbalunie (Engels: Asian Rugby Football Union, ARFU; nou Asië Rugby, AR) se stigterslede; die ander was Hongkong, Japan, Maleisië, Singapoer, Sri Lanka, Suid-Korea en Thailand. Van dié vastelandse beheerliggaam se stigtingsdoelwitte was om die spel deur ’n jaarlikse Asiatiese Rugbykampioenskap te bevorder en sodoende vriendskaplike bande tussen die lidlande te versterk. Gevolglik is reeds in Maart die volgende jaar die eerste Asiatiese Rugbykampioenskap in Japan beslis, waartydens die Taiwannese in hulle eerste toetswedstryd ooit Suid-Korea geklop het, maar teen Hongkong, Thailand en die gasheer verloor het.
Die Volksrepubliek se opname in die Verenigde Nasies pleks van die Republiek in 1971 ingevolge Resolusie 2758 van die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies en hul toenemende internasionale erkenning pleks van die demokraties regeerderde eilandstaat het die nasionale span se internasionale deelname egter nie beïnvloed nie, aangesien die rugbyspel op Taiwan aansienlik meer gevorderd was as dié op die vasteland en die Volksrepubliek nie op dieselfde vlak soos die Republiek gespeel het nie. Die Taiwannese het in 1976 weer aan die Asiatiese Rugbykampioenskap deelgeneem, waar hulle Maleisië verslaan het, maar deur Japan, Thailand en Suid-Korea geklop is. Nogtans het hulle vanweë hul beter punteverskil met die derde plek hul beste prestasie in dié tyd behaal.
Van die 1980’s af het Taiwan gereeld aan die Asiatiese Rugbykampioenskap deelgeneem en teen die meeste Asiatiese buurlande met ’n rugbytradisie begin speel, insluitende Hongkong, Japan, Maleisië, Singapoer, Sri Lanka, Suid-Korea en Thailand. Beide Japan en Suid-Korea was onoorwinbare teenstanders en Hongkong was mededingend, waardeur Taiwan gemengde resultate teen sy bure aangeteken het. Só het die span in 1980 die uitspeelwedstryd om die derde plek gehaal, maar teen Hongkong vasgeval. Ingevolge die Ooreenkoms van Lausanne in 1981 met die Internasionale Olimpiese Komitee gebruik die nasionale span voorts die amptelike naam nasionale rugbyspan van Chinese Taipei (中華台北男子橄欖球代表隊, Zhōnghuá táiběi nánzǐ gǎnlǎnqiú dàibiǎo duì). In 1982 is hulle in die groepfase uitgeskakel, terwyl hulle in 1984 die uitspeelwedstryd om die derde plek teen Thailand beklink het. By die Asiatiese Rugbykampioenskappe in 1986 en 1988 is die Taiwannese telkens in die uitspeelwedstryd om die derde plek verslaan. In die groepfase van die 1988-toernooi het die span teen Singapoer met 86–3 sy hoogste oorwinning in dié tyd aangeteken. In dié tyd het Japan en Suid-Korea hulleself as vername rugbylande in Asië gevestig en teen mekaar om die kroon meegeding. In vergelyking met hul Asiatiese teenstanders was Taiwannese spelers volgens hulle grote en gewig benadeel, maar spoed en deursettingsvermoë van spelers soos Chae Wei Che, Chang Chyi-Ming en Tseng Chi Ming het bygedra om die Republiek China in dié tyd as die vierde beste span in Asië te vestig (ná Japan, Suid-Korea en Hongkong).
In 1985 het die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby), wat destyds baie eksklusief was en slegs agt lede gehad het, op die invoering van die rugbywêreldbekertoernooi besluit. Vir die eerste Rugbywêreldbeker 1987 het die IRVR nege spanne vir deelname genooi, maar die Republiek China het geen uitnodiging ontvang nie. In 1988 het Taiwan ’n volle lid van die IRVR geword, maar hulle het nie aan die Rugbywêreldbeker 1991-kwalifisering deelgeneem nie.
In 1990 is die span in die groepfase uitgeskakel, waarna hulle tydens die Asiatiese Rugbykampioenskappe in 1992, 1994 en 1996 telkens in die uitspeelwedstryd om die derde plek vasgeval het. Die Asiatiese Rugbykampioenskap 1994 was deel van die Rugbywêreldbeker 1995-kwalifisering, waardeur die span die hooftoernooi in Suid-Afrika misgeloop het.
Nadat die kroonkolonie Hongkong deur die Britte in 1997 aan die Volksrepubliek China oorhandig is, het die belangstelling in die spel ook op die vasteland begin groei. Aangesien die wêreldbeheerliggaam volgens die “Een-China-beleid” slegs een verteenwoordiger van China erken, het die Taiwannese beheerliggaam op versoek van die destydse Hongkongse hoofafrigter, George Simpkin, in die 1990’s die naamdeel “Republiek China” laat vaar om die politieke aartsvyand se aansluiting moontlik te maak en sy huidige naam Chinese Taipei Rugbyvoetbalunie (Engels: Chinese Taipei Rugby Football Union, CTRFU; Chinees: 中華民國橄欖球協會) aangeneem. Sedertdien is drie beheerliggame uit die Chinese taal- en kultuurgebied volle lede van die wêreldbeheerliggaam. Taiwan het die Rugbywêreldbeker 1999-kwalifisering in 1997 in rondte 2 afgeskop, waar hulle Maleisië en Sri Lanka verslaan het. Tydens die Asiatiese Rugbykampioenskap 1998 is Taiwan in die groepfase uitgeskakel, aangesien dit gelyktydig gedien het as die kwalifisering se derde rondte, het hulle versuim om vir die hooftoernooi te kwalifiseer. Daarteenoor het die Taiwannese tydens beide die Asiatiese Spele in 1998 in Bangkok en in 2002 in Busan die bronsmedalje gewen, telkens ná Suid-Korea en Japan.
In die nuwe millennium