Die doodstraf is 'n wettige straf in Saoedi-Arabië. Die meeste teregstellings in hierdie land word deur middel van onthoofding uitgevoer. Saoedi-Arabië is die enigste land wat hierdie metode gebruik. Die doodstraf word vir beide dodelike en nie-dodelike misdade (insluitende dwelmoortredings, "towery" en "heksery"), sowel as vir minderjarige oortreders opgelê. Onder diegene wat tereggestel is, is indiwidue wat van nie-dodelike terrorisme aangekla is, 'n aanklag wat teen indiwidue gebruik is wat aan proteste teen die outoritêre bedeling in Saoedi-Arabië deelgeneem het.

Doodsvonnisse word byna heeltemal op die stelsel van geregtelike vonnisdiskresie (tazir) gebaseer, in lyn met die klassieke beginsel van die vermyding van strawwe wat deur Sjaria voorgeskryf word (hoedoed) waar moontlik. Hierdie vonnisse het in die 1970's toegeneem in reaksie op 'n toename in geweldmisdaad. Soortgelyke veranderinge het in die laat 20ste eeu in die Verenigde State en op die Chinese vasteland plaasgevind. 'n Sentrale plein in die koninkryk se hoofstad, Riaad, het in die Weste as "tjop-tjop-plein" bekend geraak as gevolg van openbare teregstellings daar.

Die koninkryk het in 2015 ten minste 158, in 2016 ten minste 154, in 2017 ten minste 146, in 2018 ten minste 149, in 2019 184, in 2020 69, in 2022 196 in 2023 172 en in 2024 345 mense tereggestel.

Saoedi-Arabië het in 2022 meer mense as in enige jaar in die vorige drie dekades tereggestel. Die grootste bekende massateregstelling in die land se geskiedenis is op 12 Maart 2022 uitgevoer toe 81 mense tereggestel is, insluitende sewe Jemeniete en een Siriër. In 2024 bereik teregstellings 'n nuwe hoogte van 338 of 345, amper presies dubbel die 172 teregstellings wat in 2023 uitgevoer is.

In die eerste helfte van 2025 is 180 teregstellings uitgevoer. In 2025 was altesaam 356 mense tereggestel, waarvan 243 mense vir dwelmverwante oortredings. 2025 was die tweede opeenvolgende jaar waarin Saoedi-Arabië 'n nuwe rekord stel vir die aantel mense wat tereggestel is.

Metode Saoedi-Arabië se strafregstelsel is op Sjaria gebaseer. Teregstellings word gewoonlik deur middel van onthoofding met 'n swaard uitgevoer, maar soms word dit deur middel van 'n vuurwapen of vuurpeloton uitgevoer.

Vonnisse word hoofsaaklik ná skulderkenning opgelê. Volgens Human Rights Watch (Menseregtewag) word die meeste skulderkennings deur middel van marteling verkry. Sedert April 2020 word minderjariges wat misdaad pleeg nie meer tereggestel wanneer hulle 18 jaar oud word nie, maar word hulle eerder tot 'n maksimum van 10 jaar tronkstraf in 'n gevangenis vir jeugdiges gevonnis.

Volgens 'n verslag van 2018 deur die Europese Saoedi-organisasie vir Menseregte het die aantal onthoofdings in die koninkryk gedurende die eerste kwartaal van 2018 met meer as 70 persent toegeneem in vergelyking met dieselfde periode in 2017. 2024 was die jaar met die meeste onthoofdings in etlike dekades (330).

Openbare teregstellings Saoedi-Arabië het tot onlangs teregstellings in die openbaar uitgevoer, maar dit is onbekend of hierdie praktyk voortduur. Daar is geen rekord van openbare teregstellings in 2022 nie. Reuters het in 2024 berig dat Deera-plein - die voormalige plek vir openbare onthoofdings - ten spyte van die toenemende aantal teregstellings "deur kafees en restaurante gedomineer geraak het met byna geen teken van sy bloedige verlede nie".

Openbare onthoofdings het gewoonlik omstreeks 9:00 plaasgevind. Die veroordeelde persoon loop na 'n binnehof naby die hof en kniel voor die beul. 'n Polisiebeampte kondig die misdade wat deur die persoon gepleeg is aan en die onthoofding vind plaas. Die beul gebruik 'n swaard bekend as 'n sulthan om die veroordeelde persone se kop van sy of haar lyf by die nek te verwyder. 'n Lykskouer ondersoek die lyk en verklaar die veroordeelde dood, waarna 'n polisiebeampte weer die misdade wat deur die onthoofde veroordeelde gepleeg is, aankondig, en die proses is voltooi. Professionele beule het al soveel as 10 mense in een dag onthoof.

Kruisiging van die onthoofde lyk word soms in gevalle waar die persoon 'n kindermolesteerder of verkragter is, beveel. In 2009 het die Saoedi-koerant byvoorbeeld berig dat "'n hof in Abha die leier van 'n gewapende bende ter dood en tot kruisiging vir drie dae (openbare vertoning van die onthoofde lyk) en ses ander bendelede tot onthoofding veroordeel het vir hul rol in rooftogte by juwelierswinkels in Asir."

In 2003 het Mohammed Saad al-Besji, wat die BBC as "Saoedi-Arabië se voorste beul" beskryf het, 'n skaars onderhoud aan Arabiese Nuus gegee. Hy het sy eerste teregstelling in 1998 beskryf: "Die misdadiger was vasgebind en geblinddoek. Met een slag het ek sy kop afgekap. Dit het meters ver gerol... Mense was verstom hoe vinnig [die swaard] 'n kop van 'n lyf kan skei." Hy het ook gesê dat hy voor 'n teregstelling die familie van die slagoffer van die misdaad besoek om vergifnis vir die misdadiger te vra, wat daartoe kan lei dat die misdadiger se lewe gespaar word. Wanneer die teregstelling voortgaan, is sy enigste gesprek met die gevangene om hom of haar te beveel om die Moslem-geloofsbelydenis bekend as die Sjahada af te lê. "Wanneer hulle by die teregstellingsarea aankom, verdwyn hul krag. Dan lees ek die teregstellingsbevel, en op 'n sein kap ek die gevangene se kop af," het hy gesê.

Verwysings

Kategorie:Doodstraf Kategorie:Saoedi-Arabië