Antoinette Steyn (gebore op 27 Februarie 1975) is 'n Suid-Afrikaanse politikus wat sedert 2013 as die uitvoerende burgemeester van die Breedevallei Plaaslike Munisipaliteit in die Kaapse Wynlande dien. Sy is 'n lid van die Demokratiese Alliansie. Lewensloop Steyn is op 27 Februarie 1975 in Riversdal in die destydse Kaapprovinsie, nou die Wes-Kaapprovinsie, gebore. Haar pa het vir die Suid-Afrikaanse Spoorweë in die dorp gewerk. Haar familie het later na Touwsrivier verhuis waar sy haar laerskoolopvoeding voltooi het. In 1993 het sy aan Worcester Gimnasium gematrikuleer. Na skool het sy vir haar pa se besigheid vir 'n paar jaar gewerk.
Steyn het in 2000 by die DA se kantoor in Worcester as 'n administratiewe assistent begin werk. Steyn is daarna tydens die munisipale verkiesings van 2006 as 'n DA-raadslid in die Breedevallei Plaaslike Munisipaliteit verkies. Na die 2011-verkiesing is sy as speaker van die raad verkies. Sy het twee jaar daarna vir Basil Kivedo as burgemeester van die munisipaliteit opgevolg nadat Kivedo tot die provinsiale parlement aangewys is. Steyn is tot 'n volle termyn as burgemeester na die 2016-verkiesing verkies. Sy is in 2021 tot 'n tweede volle termyn herkies.
Op 5 Februarie 2026 is Steyn as die DA se burgemeesterskandidaat vir die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit in die komende munisipale verkiesings aangewys. Persoonlike lewe Steyn is met Koos Steyn getroud. Hy is tans 'n raadslid in die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit asook die DA se streeksvoorsitter in die Kaapse Wynlande. Steyn het een dogter wat tans 'n derdejaarstudent is. Verwysings
Eksterne skakels The Mayor at Breedevallei Plaaslike Munisipaliteit
Kategorie:Lewende mense Kategorie:Afrikaners Kategorie:Politici van die Demokratiese Alliansie Kategorie:Suid-Afrikaanse burgemeesters