Bongmusa Mthembu (gebore 27 Junie 1983) is 'n Suid-Afrikaanse ultramaraton-atleet.
Hy is in Bulwer, 'n landelike dorp naby Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal, Suid-Afrika gebore.
Na matrikulasie het hy Bulwer verlaat en na Pietermaritzburg verhuis. Hy is as 'n messelaar aangestel. In daardie tyd het hy slegs vir fiksheid gehardloop. In 2004 het hy begin om aan lang wedlope deel te neem en in 2005 het hy die Maritzburg-maraton gewen.
Hy is bekend vir sy prestasies by die Comrades-maraton, wat jaarliks tussen Durban en Pietermaritzburg in Suid-Afrika gehardloop word, waar hy 'n driemalige wenner (2014, 2017 en 2018) en 'n agtmalige goue medaljewenner is, en tussen 2009 en 2019 in die top 10 geëindig het. In 2019 het hy sy wedren-eerbewyse uitgebrei deur die 56 km Twee Oseane-maraton rondom Kaapstad te wen.
Hy het Suid-Afrika ook op die wêreldverhoog verteenwoordig. Mthembu het onderskeidelik 2de en 3de geëindig by die IAU 100 km Wêreldkampioenskappe in 2016 en 2018. In 2019 het Mthembu Suid-Afrika verteenwoordig by die IAU 50 km Wêreldkampioenskappe in Brasov, Roemenië, waar hy 7de individueel geëindig het. Die Suid-Afrikaanse span het die goue medalje in spanpunte verower.
Verwysings
Kategorie:Geboortes in 1983 Kategorie:Lewende mense Kategorie:Suid-Afrikaanse atlete Kategorie:Comrades-marathon-manswenners