Lungisani True-man Ngidi (gebore 29 Maart 1996) is 'n Suid-Afrikaanse professionele krieketspeler wat onder andere vir die Suid-Afrikaanse nasionale krieketspan speel. Tydens die Jaarlikse Suid-Afrikaanse Kriekettoekennings in 2018 is hy aangewys as een van die vyf "Krieketspelers van die Jaar". In Julie 2020 is Ngidi aangewys as beide EDI- en T20I-krieketspeler van die jaar tydens Krieket Suid-Afrika se jaarlikse toekenningseremonie. Hy het onder meer tydens die Kampioenetrofee 2025, die krieketwêreldbekertoernooie in 2019 en 2023, asook die T20I-wêreldbekertoernooie in 2021, 2022 en 2026 vir Suid-Afrika gespeel. Hy was ook deel van Suid-Afrika se seëvierende span wat tydens die Wêreldtoetskampioenskap 2023–2025-eindstryd Australië geklop het, gelyk aan die Proteas se tweede internasionale kriekettitel ná die Kampioenetrofee 1998.
Vroeë lewe Ngidi het in Kloof, Durban grootgeword en 'n beurs ontvang om by Highbury Preparatory School skool te gaan. Ngidi se ma was 'n huiswerker en sy pa 'n onderhoudswerker by 'n plaaslike skool. Ngidi het hierna 'n beurs ontvang om die Hilton College by te woon. Gedurende sy eerste drie jaar het Ngidi Hilton in rugby verteenwoordig voordat hy op krieket begin fokus het. By Hilton is Ngidi deur die voormalige Zimbabwiese veelsydige speler Neil Johnson afgerig.
Nadat hy aan Hilton gematrikuleer het, het Ngidi vir 'n Baccalaureusgraad in Sosiale Wetenskappe met Bedryfsosiologie aan die Universiteit van Pretoria ingeskryf.
T20-franchiseloopbaan Ngidi is ingesluit in die Northerns-krieketspan vir die 2015 Afrika T20-beker. In Julie 2016 het Krieket Suid-Afrika hom as die Afrika T20-beker-speler van die jaar aangewys. In Augustus 2017 is hy in Benoni Zalmi se groep vir die eerste seisoen van die T20 Global League ingesluit. In Oktober 2017 het Krieket Suid-Afrika die toernooi egter aanvanklik tot November 2018 uitgestel, maar dit is kort daarna gekanselleer.
In Januarie 2018 is Ngidi deur die Chennai Super Kings in die 2018 IPL-veiling gekoop. In Oktober 2018 is hy in die Tshwane Spartans se groep vir die eerste uitgawe van die Mzansi Super League T20-toernooi ingesluit. In Maart 2019 is hy deur die Internasionale Krieketraad (IKR) aangewys as een van agt spelers om dop te hou voor die 2019 Indiese Premierligatoernooi.
In September 2019 is Ngidi in die groep vir die Tshwane Spartans-span vir die 2019 Mzansi Superliga-toernooi ingesluit. In April 2021 is hy in die Northerns se groep ingesluit voor die 2021–22 krieketseisoen in Suid-Afrika.
Internasionale loopbaan duimnael|links|upright|Ngidi in 2022 tydens 'n toetswedstryd teen Australië op die Melbourne-krieketveld In Januarie 2017 is Ngidi ingesluit in Suid-Afrika se Twintig20-internasionale (T20I) groep vir hul reeks teen Sri Lanka. Hy het sy T20I-debuut vir Suid-Afrika teen Sri Lanka op 20 Januarie 2017 gemaak en is as speler van die wedstryd aangewys. Tydens die T20I-reeks is Ngidi in Suid-Afrika se groep vir hul Internasionale eendagwedstryde teen Sri Lanka ingesluit. Hy is egter weens 'n abdominale besering uit die EDI-reeks uitgesluit.
In Januarie 2018 is Ngidi by Suid-Afrika se Toetsgroep gevoeg voor die tweede Toets teen Indië. Hy het sy Toetsdebuut vir Suid-Afrika teen Indië op 13 Januarie 2018 gemaak. Hy het syfers van 7/87 in die wedstryd behaal, insluitend 6/39 in die tweede beurt, toe Suid-Afrika met 135 lopies gewen het. Later in dieselfde maand is hy by Suid-Afrika se Internasionale eendagspan (EDI) vir hul reeks teen Indië ingesluit. Hy het sy EDI-debuut teen Indië op 7 Februarie 2018 gemaak.
In Maart 2018 het Krieket Suid-Afrika 'n nasionale kontrak aan Ngidi toegeken voor die 2018–19-seisoen. In April 2019 is hy in Suid-Afrika se groep vir die Krieketwêreldbeker 2019 aangewys. Op 4 Maart 2020, in die tweede eendagwedstryd teen Australië, het Ngidi sy eerste vyf-paaltjie-oes in eendagkrieket geneem. In dieselfde wedstryd het hy die vinnigste bouler vir Suid-Afrika geword, in terme van wedstryde, om 50 paaltjies in eendagwedstryde te neem, en dit in sy 26ste wedstryd behaal.
In September 2021 is Ngidi in Suid-Afrika se groep vir die T20I-wêreldbeker 2021 aangewys. In Julie 2022, in die eerste wedstryd van die reeks teen Engeland, het Ngidi sy eerste vyf-paaltjie-oes in T20I-krieket geneem.
In Mei 2024 is hy as 'n reserwespeler in Suid-Afrika se groep vir die T20I-wêreldbeker 2024 aangewys.
In Junie 2025 het Ngidi met die Proteas in die Wêreldtoetskampioenskap 2023–2025-eindstryd teen Australië gespeel, wat Suid-Afrika se eerste Wêreldtoetskampioenskap-eindstrydverskyning was. Hy het boulsyfers van 0/45 tydens Australië se eerste kolfbeurt en 3/38 tydens die tweede Australiese kolfbeurt behaal. Sy boulsyfer in die tweede kolfbeurt het aansienlik tot Suid-Afrika se oorwinning met vyf paaltjies bygedra.
Swart aktivisme In Julie 2020 het Ngidi die nasionale span versoek om 'n bespreking te voer oor die Black Lives Matter-beweging in Suid-Afrikaanse krieket, en dat die span die beweging moet ondersteun. Hy het ook geïnstitusionaliseerde rassisme in krieket aangespreek. Ngidi het gesê hy sal nie omgee om die leiding in die span se pogings te neem nie, en het onder andere gesê: "Ons is almal weer persoonlik bymekaar. Ons het natuurlik daaroor gepraat en almal is bewus van wat aangaan. Maar dit is tans ook 'n moeilike (kwessie) omdat ons nie bymekaar is nie. Ek dink dit is iets wat moeilik is om te bespreek wanneer ons almal nog geskei is, maar sodra ons weer kan speel, sal ons dit aanspreek". Sy kommentaar het teenstrydige sienings en kritiek van voormalige Proteas soos Rudi Steyn, Pat Symcox en Boeta Dippenaar uitgelok. Ten minste 30 voormalige Proteas, almal spelers van kleur, saam met vyf afrigters, het 'n kollektiewe verklaring uitgereik waarin hulle steun vir Ngidi en die BLM-beweging toon, terwyl hulle Krieket Suid-Afrika aangespoor het om "ondubbelsinnig te wees oor hul standpunt en seker te maak dat die probleem aangespreek word".
Verwysings
Eksterne skakels Lungi Ngidi by ESPNcricinfo
Kategorie:Geboortes in 1996 Kategorie:Lewende mense Kategorie:Suid-Afrikaanse krieketspelers