Op die historiese plaas Klippe Rivier (Kliprivier) by Swellendam is een van die mooiste huise in die Kaaps-Hollandse styl in die Overberg.
Ligging Die plaas “de Klippe Rivier gelegen aan de Bruintjes Rivier” grens aan sy oostekant aan die dorpsgebied van Swellendam. Die huis by 34° 01′ 50″ suid en 20° 26′ 16″ oos het ‘n uitsig oor die vallei van die Bruintjiesrivier.
Geskiedenis Reeds in 1725 is die plaas toegeken aan Jan Loots. Johannes Steyn word in 1776 die eerste van ‘n hele aantal eienaars met die van Steyn. Hierdie plaas aan die ou “Kaapse wapad” van Kaapstad na die oostelike dele van die kolonie was baie sentraal geleë en is daarom gereeld besoek deur vername mense van die tyd en het hier belangrike vergaderings plaasgevind. Van 1833 tot 1837 was dit die eiendom van Marthinus Steyn, die oupagrootjie van pres. M.T. Steyn en van 1869 tot 1899 van pres. F.W. Reitz.
Huis Die huidige huis met sy besondere voorgewel is waarskynlik in die 1830’s deur Marthinus Steyn gebou. Onwaarskynlik was Louis Thibault betrokke by die beplanning van die huis, maar dat sy invloed gegeld het, is bes moontlik. Hierdie besonder groot H-vormige huis met ‘n voor- en agterkamer het nog twee kamers in elk van sy vier vleuels. Op die gewel is ryk versierde pleisterwerk aangebring. Die houtwerk van die fasade sowel as die deure is nog die oorspronklike. Opvallend is dat die vensterluike aan die binnekant is. Besonder breë planke is gebruik vir die plafonne. Op die stoep staan stewige vierkante pilare. Hierdie huis word as een van die mooiste geskiedkundige plaaswonings oos van die Hottentots-Hollandberge beskou en is daarom op 4 Augustus 1978 tot kultuurmonument verklaar.
Bibliografie Burrows, Edmund H.: Overberg Outspan. A chronicle of people and places in the south western districts of the Cape. Kaapstad: Swellendam Trust, 1988. Fransen, Hans: A guide to the old buildings of the Cape. A survey of extant architecture from before c1910 in the area of Cape Town, Calvinia, Colesberg, Uitenhage. Kaapstad: Jonathan Ball, 2004. Mouton, Annalize: Grand dame of the Overberg – Klippe Rivier. In: Village Life. Journal of People, Nature, History and Arts. Nr. 12, Junie-Julie 2005. ISSN 1810-5580
Kategorie:Monumente en gedenkwaardighede in Suid-Afrika