Ludwig Heinrich Otto Landsberg, alombekend as slegs Otto Landsberg (*Harlingerode, net suid van Brunswyk, 7 Mei 1803 - †Rosebank, 28 Februarie 1905) was ‘n veelsydige Suid-Afrikaanse kunstenaar gedurende die grootste deel van die 19de eeu.

Afkoms Landsberg was die jongste seun in die Duits-Joodse gesin van Cornelius von Landsberg. Die gesin arriveer laat in 1818 in Kaapstad en Cornelius vestig hom as horlosiemaker in Burgstraat.

Sakeman Kort na sy aankoms neem die jong Landsberg deel aan ‘n aantal handelstogte in die destyds redelik onbekende binneland van die Kaapkolonie. Vroeg in die 1820’s werk hy as fabrikant van snuif. In 1831 vestig hy hom as sakeman in Kortmarkstraat aan die Groentemarkplein. Afgesien van sy beroemde "Landsbergsnuif" verkoop hy metteryd tabak, sigare en sigarette, sterk drank en selfs patente medisyne. Sy handelsreisigers versprei sy produkte oor die hele land, dus tot in die verre Oos-Kaap. In die 1880’s was die firma se sigarette die "Cape Favourites" alombekend. Tussen 1881 en 1914 word die familiebedryf beheer deur sy kleinseun Julius Otto Jeppe.

Kunstenaar Landsberg maak egter veral naam as skilder, tekenaar, beeldhouer en musikant. Vanaf 1847 tot 1851 gee hy teken- en musieklesse en was ‘n tyd as kunsonderwyser verbonde aan die Tot Nut van ’t Algemeen. In die jaar 1870 het hy nog ‘n ateljee gehad by Roelandstraat 17. Saam met J.G. Steytler het hy in 1864 die Kaapse Musiekvereniging opgerig en hy speel eerste viool.

Kunswerke Van sy nagenoeg 200 bekende kunswerke (dit is olie- en waterverfskilderye, pen-en-ink-sketse en beeldhouwerke) is ±75 deur 'n kleinseun van hom aan 'n museum in Potchefstroom geskenk. Sy onderwerpe was meesal Kaapse, maar ook Europese tonele. Daar is ook verskeie Bybelse en historiese prente. Bekende skilderye wat Kaapse tonele wat uitbeeld, is "Opstal by Worcester, 1847" "Storm aan die Kaap, 1865" "Wasvrou in Platteklip, 1882" "’n Rygbywedstryd op die Camp Ground, 1883". ‘n Skildery getiteld "Moses met die Tien Gebooie" hang in die parlementsgebou in Kaapstad. In die Africana Museum in Johannesburg is ‘n groot skildery getiteld "Slag van Amajuba". 'n Groot skildery met die naam "The Magi" het onverklaarbaar weg geraak uit die stadsaal van Mowbray.

Later jare Op sy honderste verjaardag is hy as een van die bekendste inwoners van Kaapstad vereer met die uitstalling van ‘n groot portret van hom met sy golwende wit baard op die Kaapse stasie. Sy afsterwe kort voor sy 102de verjaardag het die grootse begrafnis tot op daardie tydstip in die stad tot gevolg gehad. Waarskynlik was hy met sy oorlyde die oudste blanke inwoner van die stad. Hy lê begrawe in die St. Peter’s-kerkhof in Mowbray.

Bronnelys de Kock, W.J. en D.W. Krüger: Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek, deel 2. Kaapstad: Tafelberg-Uitgewers, vir die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing, 1972.  de Villiers, Simon A.: Otto Landsberg 1803 – 1905 - 19th century South African Artist. Kaapstad: Struik, 1974. https://www.geni.com/people/Ludwig-von-Landsberg/4048607128820029003 https://www.snufftabak.com/resources/articles/otto-landsberg-the-cape-colony-snuff-maker.html

Eksterne skakels

Kategorie:Suid-Afrikaanse skilders Kategorie:Geboortes in 1803 Kategorie:Sterftes in 1905