Newton Adams (4 Augustus 1804, East Bloomfield, Ontario, VSA - 16 September 1851, Adams Mission, naby Amanzimtoti), was ‘n Amerikaanse sendeling in Natal en stigter van Adams College.

Geskiedenis Adams kwalifiseer as geneesheer in New York en 2 jaar later vertrek hy en sy vrou Sarah Vantine, 'n opgeleide onderwyseres, maar as onopgeleide sendelinge vir die American Board of Commissioners for Foreign Missions na Suid-Afrika. Hulle arriveer op 6 Februarie 1835 vanuit Boston in Kaapstad en kom in aanraking met John Philip met wie hulle nie goed oor die weg kom nie. In die tyd onderneem Adams verskeie reise na die binneland van die Wes- en Oos-Kaap om 'n geskikte werkterrein vir hulle te soek. In 1836 reis hy oor land na die Zoeloekoning Dingaan waar hy vriendelik ontvang word. Hy gee ook hier aandag aan die koning se kwale. Met die gevolg dat Dingaan hom in Desember 1835 toestemming gee om die eerste sendingstasie in Natal by Umlazi te stig. Dit is gou gevolg deur ‘n skool en 'n drukpers om pamflette in Zoeloe te druk.

Hy en sy vrou spits hul werk toe op godsdiens en onderwys, maar omdat hy ook na baie siekes moes omsien, staan die skool al meer onder beheer van sy vrou. Die geletterdheid van sy Zoeloe-volgelinge neem nie net vinnig in hul moedertaal toe nie, maar ook in Engels. Later is daar selfs 'n skool vir volwassenes.

Adams was baie musikaal en lê veral klem op sang by die godsdiensoefeninge. Na die moord op Piet Retief verlaat Adams sy sendingpos by Umlazi. Toe alles weer vreedsaam in die streek is, keer Adams saam met Daniel Lindley en hul gesinne na Umlazi terug en hervat sy werk. In 1844 word Adams uiteindelik in Kaapstad tot predikant ingehuldig. Drie jaar later verskuif hy sy sendingstasie na 'n gebied net noordwes van Amanzimtoti. Daar stig hy 'n skool met homself as die eerste hoof. Teenswoordig staan dit bekend as Adams College.

Trivia Adams was die eerste persoon wat dele van die Bybel (stukke uit Genesis) in Zoeloe vertaal het en in 1846 laat druk het. die eerste gekwalifiseerde dokter in Natal. die eerste persoon wat katoensaad in Natal ingevoer het. onder sy volgelinge bekend as “die man met die drie baadjies”, omdat hy 'n swart pak gedra het as hy as priester gewerk het, 'n wit oorjas as hy na pasiënte omgesien het en 'n oorpak as hy gehelp het met die oprigting van geboue.

Sien ook Adams Mission

Bron Bulpin, T.V.: Natal and the Zulu Country. Kaapstad: Books of Africa, 1966 sahistory.org.za/place/adams-college-amanzimtoti

Kategorie:Sendelinge Kategorie:Geneeskundiges Kategorie:Geboortes in 1804 Kategorie:Sterftes in 1851