S/2025 U 1 is een van die kleinste bekende mane van Uranus, met 'n geraamde deursnee van tussen 8 en 10 km. Die ontdekking is op 19 Augustus 2025 deur 'n span sterrekundiges onder leiding van Maryame El Moutamid aangekondig. Hulle het die maan ontdek op foto's wat op 2 Februarie 2025 deur die James Webb-ruimteteleskoop geneem is.
Die maan is sowat 56 250 km van die middel van Uranus geleë (tussen die wentelbane van Ophelia en Bianca) en het 'n wentelperiode van 0,402 dae (9,6 uur). Nes die ander binnemane van Uranus, het dit 'n feitlik sirkelvormige wentelbaan om die ewenaar. Omdat dit so klein is, is dit besonder dof. Dit het 'n naby-infrarooi skynbare magnitude (in die H-band) van 25,5, te dof om deur die Hubble-ruimteteleskoop en die Voyager 2-ruimtetuig gesien te kon word.
Naam S/2025 U 1 is die maan se voorlopige naam. Die konvensie is dat mane van Uranus genoem word na karakters uit die toneelstukke van William Shakespeare en Alexander Pope. 'n Permanente naam sal aan die maan gegee word sodra die IAU dit goedgekeur het. Die medeontdekker Mark R. Showalter het volgens NewScientist gesê daar was al besprekings oor 'n naam, maar dat daar nog nie 'n kortlys is nie.
Wentelbaan S/2025 U 1 is die 14de bekende lid van Uranus se binnemane, wat klein mane is wat binne die planeet se vyf groot mane (Miranda, Ariel, Umbriel, Titania en Oberon) wentel. Dit volg 'n byna ronde wentelbaan om Uranus se ewenaar, op 'n afstand van 56 250 km van die planeet se middel af en met 'n wentelperiode van 9,6 uur.
S/2025 U 1 lê net buite Uranus se binnste ringstelsel, tussen die wentelbane van Ophelia en Bianca. Sy byna sirkelvormige wentelbaan dui daarop dat dit naby sy huidige posisie gevorm het, sê El Moutamid.
Verwysings
Skakels
Kategorie:Mane van Uranus