Marie-Henri Beyle (23 Januarie 1783 – 23 Maart 1842), allerweë bekend onder die skuilnaam Stendhal (), was 'n Franse skrywer. Hy is veral bekend vir die romans Le Rouge et le Noir (Die Rooi en die Swart) en La Chartreuse de Parme. As skrywer word hy veral waardeer vir die diepgaande ontleding van sy karakters se psigologie. Hy word beskou as een van die vroegste en voorste beoefenaars van die literêre realisme. Hy was 'n selfverklaarde egoïs; die neologisme vir dieselfde karakteristiek in sy karakters is "Beylisme".
Lewe Marie-Henri Beyle is op 23 Januarie 1783 in Grenoble, Isère, gebore as die kind van die advokaat en grondeienaar Chérubin Beyle en sy vrou Henriette Gagnon. Hy was 'n ongelukkige kind, en het 'n afkeer gehad in sy "verbeeldinglose" vader. Hy het getreur oor sy moeder, vir wie hy innig lief was. Sy het in 1790 gesterf terwyl sy geboorte geskenk het. Hy was op daardie stadium sewe. Hy het sy kinderjare deurgebring by die Beyle-landgoed in Claix naby Grenoble. Sy beste vriendin was sy jonger suster, Pauline, met wie hy 'n bestendige korrespondensie gehandhaaf het deur die eerste dekade van die 19de eeu. Sy familie was deel van die burgerlike klas van die Ancien Régime, wat sy dubbelsinnige houding teenoor Napoleon, die Bourbon-restourasie en later die monargie verklaar.
duimnael|upright|'n Gedenkplaat op 'n huis in Vilnius waar Stendhal gewoon het in Desember 1812 gedurende Napoleon se terugtog uit Rusland. Die militêre en teaterwêrelde van die Eerste Franse Ryk was 'n openbaring vir Beyle. As assistent-oorlogskommissaris het hy in die administrasie van die Koninkryk Wesfale, een van Napoleon se kliëntstate in Duitsland, gedien. Van 1807 tot 1808 het Beyle in Braunschweig gewoon, waar hy verlief geraak het op Wilhelmine von Griesheim, wat hy Minette genoem het, en ter wille van wie hy in die stad gebly het. "Ek het nou geen voorliefde meer nie, behalwe vir Minette, vir hierdie blonde en sjarmante Minette, hierdie siel van die noorde, soos ek nog nooit in Frankryk of Italië gesien het nie."
Hy is op 3 Augustus 1810 as ouditeur by die Conseil d'État aangestel en was daarna deel van die Franse administrasie en die Napoleontiese oorloë in Italië. Hy het uitgebreid in Duitsland gereis en was deel van Napoleon se leër tydens die inval in Rusland in 1812. Met sy aankoms het Stendhal die vernietiging van Moskou van buite die stad sowel as die leër se winteraftog aanskou. Hy is aangestel as kommissaris van oorlogsvoorrade en na Smolensk gestuur om voorraad vir die terugkerende leër voor te berei. Hy het die Berezina-rivier oorgesteek deur 'n bruikbare drif te vind eerder as die oorweldigde pontbrug, wat waarskynlik sy lewe en dié van sy metgeselle gered het. Hy het in 1813 in Parys aangekom, grootliks onbewus van die fiasko van die terugtog. Stendhal het tydens die Russiese veldtog bekendheid verwerf vir sy helder verstand en oordeel en sy "helderheid van gees". Hy het ook sy daaglikse roetine gehandhaaf en elke dag geskeer tydens die terugtog uit Moskou.
Na die Verdrag van Fontainebleau in 1814 en Napoleon se ondergang, het hy na Italië gereis waar hy hom in Milaan gevestig het, waar hy tot 1821 gewoon het; "...only leaving after these, the happiest, years of his life, through fear of being implicated in the Carbonari troubles." In 1830 is hy aangestel as Franse konsul in Trieste en Civitavecchia. Hy het 'n besondere band met Italië ontwikkel, waar hy 'n groot deel van die res van sy loopbaan deurgebring het. Sy roman, La Chartreuse de Parme, geskryf in 52 dae, speel af in Italië, wat hy as 'n meer opregte en passievolle land as Frankryk beskou het. 'n Terloopse boodskap in daardie roman, wat verwys na 'n karakter wat selfmoord oorweeg nadat hy verstoot is, vertel oor sy houding teenoor sy tuisland: "Om hierdie handelswyse duidelik te maak aan my Franse lesers, moet ek verduidelik dat mense in Italië, 'n land baie ver van ons af, steeds deur liefde tot wanhoop gedryf word."
Stendhal het hom met die ontluikende liberalisme geïdentifiseer en sy verblyf in Italië het hom oortuig dat die Romantiek in wese die literêre eweknie van liberalisme in die politiek was. Toe Stendhal in 1830 in 'n konsulêre pos in Triëst aangestel is, het Metternich sy exequatur geweier weens Stendhal se liberalisme en antiklerikalisme.
duimnael|links|Lys van die vroue op wie hy verlief was, ingevoeg in Vie de Henry Brulard, in 1835: "Ek het diep gedroom oor hierdie name, en van die verstommende dwaashede en domhede wat hulle my aangedoen het." (Van links na regs: Virginie Kubly, Angela Pietragrua, Adèle Rebuffel, Mina de Griesheim, Mélanie Guilbert, Angelina Bereyter, Alexandrine Daru, Angela Pietragrua, Matilde Dembowski, Clémentine Curial, Giulia Rinieri, Madame Azur-Alberthe de Rubempré)
Stendhal was 'n laventelhaan en grapmaker in Parys, sowel as 'n obsessiewe rokjagter. Sy opregte meegevoel met vroue blyk duidelik uit sy boeke; Simone de Beauvoir het hom sterk aangeprys in The Second Sex. Sy het hom daarmee gekrediteer dat hy 'n vrou as gewoon 'n vrou, en bloot 'n mens beskou het. Sy het volgehou dat hy 'n feministiese skrywer was, met verwysing na Stendhal se rebelse heldinne. Een van sy vroeë werke is Oor Liefde, 'n rasionele ontleding van romantiese passie, gebaseer op sy onbeantwoorde liefde vir Mathilde, Gravin Dembowska, wat hy ontmoet het terwyl hy in Milaan gewoon het. Later sou hy ook "rusteloosheid van gees" ervaar toe een van sy jeugvriende, Victorine, getroud is. In 'n brief aan Pauline het hy haar as die vrou van sy drome beskryf en geskryf dat hy geluk sou ontdek indien hy haar man kon word. Hierdie samesmelting van, en spanning tussen, nugtere analise en romantiese gevoelens is tipies van Stendhal se groot romans; hy kan as 'n Romantiese realis beskou word.
Stendhal het in sy laaste jare aan ellendige fisiese gestremdhede gely, terwyl hy voortgegaan het om van sy beroemdste werke te skryf. Hy het in Desember 1808 sifilis opgedoen. Soos hy in sy dagboek opgemerk het, het hy jodied van kalium en kwik geneem om sy seksuele siekte te behandel, wat gelei het tot geswolle oksels, probleme met sluk, pyne in sy gekrimpte testikels, slapeloosheid, duiseligheid, 'n geraas in sy ore, 'n kloppende pols en "bewinge wat so erg was dat hy skaars 'n vurk of 'n pen kon vashou". Moderne geneesmiddels het getoon dat sy gesondheidsprobleme eerder aan sy behandeling as aan sy siekte toegeskryf kon word. Na bewering het hy die beste behandeling in Parys, Wene en Rome ontvang.
Stendhal is op 23 Maart 1842 oorlede, 'n paar uur nadat hy in die Paryse strate na 'n aanval ineengestort het. Hy is begrawe in die Cimetière de Montmartre.
Skuilname Voordat hy op die skuilnaam Stendhal besluit het, het hy onder baie skuilname gepubliseer, insluitend "Louis Alexandre Bombet" en "Anastasius Serpière". Die enigste boek wat Stendhal onder sy eie naam gepubliseer het, was "Die Geskiedenis van die Skilderkuns" (1817). Vanaf die publikasie van "Rome, Napels, Florence" (September 1817) het hy sy werke onder die skuilnaam "M. de Stendhal, officier de cavalerie" gepubliseer. Hy het hierdie skuilnaam geleen van die Duitse stad Stendal, geboorteplek van Johann Joachim Winckelmann, 'n kunshistorikus en argeoloog wat destyds beroemd was. Dit is egter nie duidelik of hy die naam ter ere van Winckelmann gekies het, of bloot die plek as 'n kommunikasiesentrum tussen Berlyn en Hannover geken het nie. Stendhal het 'n bykomende "H" bygevoeg om die Duitse uitspraak duideliker te maak.
Stendhal het baie skuilname in sy outobiografiese geskrifte en korrespondensie gebruik, en dikwels skuilname aan vriende toegeken, waarvan sommige die name vir hulself aangeneem het. Stendhal het meer as 'n honderd skuilname gebruik, wat verbasend uiteenlopend was. Sommige het hy nie meer as een keer gebruik nie, terwyl hy dwarsdeur sy lewe na ander teruggekeer het. "Dominique" en "Salviati" het as intieme troetelname gedien. Hy het ook komiese name geskep "wat hom selfs meer bourgeois maak as wat hy werklik is: Cotonnet, Bombet, Chamier." Hy het van baie belaglike skuilname gebruik gemaak, soos "Don flegma", "Giorgio Vasari", "Willem Krokodil", "Poverino", "Baron de Cutendre". Volgens een van sy korrespondente, Prosper Mérimée, "Het hy nooit 'n brief onderteken sonder 'n valse naam nie."
Stendhal se Dagboek en outobiografiese skrywes bevat baie kommentaar oor maskers en die plesiere om "lewendig te voel in baie weergawes". "Beskou die lewe as 'n gemaskerde bal," is die raad wat Stendhal homself in sy dagboek vir 1814 gee. In Memoirs van 'n Egoïs skryf hy: "Sal ek geglo word indien ek sê dat ek 'n masker met plesier sal dra en verheug sal wees om my naam te verander?...vir my sou die hoogste geluk wees om in 'n lenige, blonde Duitser te verander en in die hoedanigheid in Parys rond te loop."
Werke duimnael|upright=.8|Die tweede volume van die 1831-uitgawe van Die Rooi en die Swart, wat beskou word as een van Stendhal se belangrikste en bekendste werke. Eietydse lesers het Stendhal se realistiese styl nie ten volle waardeer gedurende die Romantiese tydperk waarin hy geleef het nie. Hy is eers aan die begin van die 20ste eeu ten volle waardeer. Hy het sy skryfwerk aan "the Happy Few" (in Engels in die oorspronklike) opgedra. Dit kan vertolk word as 'n verwysing na Canto 11 van Lord Byron se gedig, Don Juan, wat verwys na "the thousand happy few" wat die hogere samelewing geniet, of na die "we few, we happy few, we band of brothers"-reël van William Shakespeare se toneelstuk, Henry V. Stendhal se gebruik verwys egter meer waarskynlik na The Vicar of Wakefield deur Oliver Goldsmith, waarvan hy dele gememoriseer het terwyl hy homself Engels geleer het.
In The Vicar of Wakefield verwys "die gelukkige min" ironies genoeg na die klein aantal mense wat die titelkarakter se obskure en pedantiese verhandeling oor monogamie gelees het. As 'n literêre kritikus, soos byvoorbeeld in "Racine en Shakespeare", het Stendhal die Romantiese estetika ondersteun deur die reëls en beperkings van Jean Racine se klassisisme ongunstig te vergelyk met die vryer verse en toonsettings van Shakespeare, en deur die skryf van toneelstukke in prosa te ondersteun. Die literêre teoretikus Kornelije Kvas skryf as volg: "In sy roman Die Rooi en die Swart verwys Stendhal na 'n roman as 'n spieël wat in 'n mandjie gedra word. Die metafoor van die realistiese roman as 'n spieël van die hedendaagse werklikheid, toeganklik vir die verteller, het sekere beperkings, waarvan die kunstenaar bewus is. 'n Waardevolle realistiese werk oorskry die Platoniese betekenis van kuns as 'n kopie van die werklikheid. 'n Spieël weerspieël nie die werklikheid in sy geheel nie, en die kunstenaar se doel is ook nie om dit volledig te dokumenteer nie. In Die Rooi en die Swart beklemtoon die skrywer die belangrikheid van seleksie wanneer dit kom by die beskrywing van die werklikheid, met die oog op die verwesenliking van die kognitiewe funksie van 'n werk van kuns, bereik deur die kategorieë van eenheid, samehang en tipiesheid".. Stendhal was 'n bewonderaar van Napoleon en sy roman Le Rouge et le Noir word beskou as sy literêre huldeblyk aan die Franse keiser.
Vandag trek Stendhal se werke veral aandag vir hul ironie en sielkundige en historiese eienskappe. Stendhal was 'n ywerige aanhanger van musiek, veral die werke van die komponiste Domenico Cimarosa, Joseph Haydn, Wolfgang Amadeus Mozart en Gioacchino Rossini. Hy het 'n biografie van Rossini geskryf, Vie de Rossini (1824), wat vandag veral waardeer word vir sy wydlopende musikale kritiek, eerder as vir sy historiese inhoud. Hy het ook die aristokrasie geïdealiseer en die anti-egalitarisme daarvan opgemerk, maar terselfdertyd die liberale eienskappe daarvan waardeur, soos bv. die liefde vir vryheid.