duimnael|Die Oog Die Oog van Kuruman (ook eenvoudig bekend as Die Oog), die sterkste natuurlike fontein in die suidelike halfrond, is een van die natuurwonders van Suid-Afrika.
Ligging Hierdie bron is op die hoek van Fonteinstraat en Hoofstraat in Kuruman, by die koördinate 27° 27′ 47.5″ suid, 23° 26′ 11.57″ oos en aan die voet van ‘n reeks lae heuwels. Die gat in die dolomietrots is in die halfwoestyn doringveld en op 1350 m bo seespieël.
Bron Die fontein lewer ‘n 20 miljoen liter helder drinkbare water per dag teen ‘n temperatuur van 21ºC aan die dorp. Tydens groot droogtes verswak die stroom maar effens en het dus permanente menslike bewoning hier moontlik gemaak. Robert Moffat het op elke oewer ‘n besproeiingskanaal van 7 km laat graaf en kon sodoende 253 ha besproei. Dit is een van die vroegste besproeiingstelsels in die land. Oortollige water vorm die oorsprong van die Kurumanrivier wat aansluit by die Moloporivier, ‘n boloop van die Oranjerivier. Hierdie klein meer is in een van die 8 grotte in die dolomietiese Ghaapse plato. Soos soms vermoed word, bestaan daar gaan bewys dat hierdie bron in verbinding staan met ander grotte in die omgewing, soos byvoorbeeld Daniëlskuil.
Ontdekking Samuel Daniell was waarskynlik die eerste blanke wat die bron besoek het. Hy was einde 1801 in die omgewing met die Truter-Somerville-ekspedisie in die geselskap van P.J. Truter, W. Somerville, John Barrow en die sendelinge Jan Matthys Kok en William Edwards.
Naam Die fontein staan in Afrikaans bekend as “Die Oog” en in Tswana as Gasegonyane of Segonyana, met die betekenis van “kalbassie”. Ook word na die bron verwys as die “Fontein van Christelikheid” en die “Oase van die Kalahari”.
Toerisme Rondom die poel is ‘n omheinde tuin met wilgerbome, palms en waterlelies. In die watergat kom duisende goudvisse, karp, kurper, krappe en die skaars pseudocrenilabrus voor. By die bron begin ‘n wandelpad wat weswaarts lei na oorblyfsels van twee Britse forte uit die Tweede Vryheidsoorlog, genaamd Fort Denison en Fort Brown. Op 17 September 1992 is die bron tot natuurmonument verklaar.
Persone William Edwards, sendeling en boer, aktief rondom die jaar 1803 William Somerville (*1771 - †25 Junie 1860), Skotse geneesheer en reisiger Petrus Johannes Truter (*Kaapstad, 17 Desember 1747 - †Swellendam, 31 Januarie 1825), reisiger, VOC-amptenaar, ekspedisieleier
Lees ook Albionbron Gerhardminnebron Kogelbeengrot Schoonspruitoog Warmwaterbronne van Suid-Afrika Wonderwerkgrot Zuurbekom
Bibliografie Bredenkamp, D.B. en L.J. Botha en C. Esterhuyse: The geohydrology of the Kuruman eye and quantitative estimation of the recharge and storativity of the aquifer system. dws.gov.za/ghreport/reports/GH3790.pdf https://evendo.com/locations/south-africa/northern-cape/landmark/eye-of-kuruman https://experiencenortherncape.com/product/the-eye-of-kuruman/ https://polity.org.za/article/municipality-shrugs-off-deadly-pollution-of-kuruman-eye-irrigation-canal-2021-10-13 https://sa-venues.com/attractionsnc/eye-of-kuruman.php https://visitkuruman.co.za/eye-of-kuruman/
Kategorie:Monumente en gedenkwaardighede in Suid-Afrika Kategorie:Noord-Kaap