regs|duimnael|’n Radarbeeld van die asteroïed 2014 JO25 tydens sy verbyvlug in 2017.

’n Asteroïed of asteroïde is ’n soort kleinplaneet wat om die Son wentel, veral in die binnenste Sonnestelsel. Toe kleinplanete in die buitenste Sonnestelsel ontdek is, is gevind hul oppervlakke bestaan gewoonlik uit vlugtige elemente of samestellings, nes dié van komete. Dié voorwerpe is dus dikwels onderskei van dié in die asteroïedgordel. In hierdie artikel verwys die term "asteroïed" na die kleinplanete van die binneste Sonnestelsel, insluitende dié wat ’n wentelbaan met Jupiter deel.

duimnael|270px|links|253 Mathilde is 'n asteroïed met ’n deursnee van sowat 50 km. duimnael|’n Diagram van die Sonnestelsel se asteroïedgordel. Daar is miljoene asteroïede, waarvan baie vermoedelik die oorblyfsels is van planetesimale, liggame in die jong Son se sonnewel wat nooit groot genoeg geword het om planete te vorm nie. Die oorgrote meerderheid van bekende asteroïede kom voor in die hoofasteroïedgordel tussen die wentelbane van Mars en Jupiter, of deel ’n wentelbaan met Jupiter (die Jupiter-trojane). Daar is egter taamlik groot families asteroïede met ander wentelbane, insluitende die nabyaardevoorwerpe. Individuele asteroïede word geklassifiseer volgens hul kenmerkende spektra. Die meeste val in drie hoofgroepe: C-, M- en S-tipe asteroïede. Hulle is genoem na en word gewoonlik verbind met onderskeidelik koolstof, metaal en silikaat (klipagtig). Asteroïede se groottes wissel aansienlik; die grootste een, Ceres, se deursnee is amper 1 000 km.

Asteroïede verskil van komete en meteoroïdes. Die verskil tussen asteroïede en komete is hul samestelling: Komete bestaan hoofsaaklik uit stof en ys en asteroïede uit rots en minerale. Laasgenoemde het nader aan die Son ontstaan en bevat dus nie ys nie. Die verskil tussen asteroïede en meteoroïdes is hul grootte: Meteoroïdes het ’n deursnee van ’n meter of kleiner, terwyl asteroïede se deursnee groter as ’n meter is. Meteoroïdes kan dieselfde samestelling as óf asteroïede óf komete hê.

Net een asteroïed, 4 Vesta, het ’n taamlik weerkaatsende oppervlak. Dit is gewoonlik met die blote oog sigbaar, maar net as dit baie donker is en Vesta se posisie gunstig is. Net soms kan asteroïede wat naby die Aarde verbybeweeg, vir ’n kort rukkie met die blote oog sigbaar wees. In 2017 het die Kleinplaneetsentrum data oor byna 745 000 voorwerpe in die binneste en buitenste Sonnestelsel gehad, met genoeg inligting oor amper 504 000 om ’n nommernaam te kry.

Die Verenigde Nasies het 30 Junie as Internasionale asteroïeddag verklaar om die publiek oor asteroïede op te voed. Dié datum herdenk die Toengoeska-asteroïed-impak op 30 Junie 1908 in Siberië, Rusland.

In April 2018 het die B612 Foundation, wat hom onder meer toespits op verdediging teen asteroïede, berig "die kans is 100 persent dat ons deur ’n verwoestende asteroïed getref sal word, maar ons is nie 100 persent seker wanneer nie". Ook die fisikus Stephen Hawking het in 2018 in sy laaste boek, Brief Answers to the Big Questions, gemeen ’n asteroïedbotsing is die grootste bedreiging wat ons planeet in die gesig staar.

In Junie 2018 het die VSA se nasionale wetenskap-en-tegnologieraad gewaarsku dat Amerika onvoorbereid op ’n asteroïedimpak is. Die raad het die "National Near-Earth Object Preparedness Strategy Action Plan " ontwikkel en uitgereik om beter daarop voor te berei. Volgens kennersgetuienis in 2013 in die Amerikaanse kongres het Nasa minstens vyf jaar van voorbereiding nodig voordat ’n sending van stapel gestuur kan word om ’n asteroïed te onderskep.

Ontdekking duimnael|Die grootte van die eerste 10 asteroïede wat ontdek is in vergelyking met dié van die Maan. duimnael|243 Ida en sy maan, Dactyl, die eerste natuurlike satelliet van ’n asteroïed wat ontdek is.

Die eerste asteroïed wat ontdek is, was Ceres, wat aanvanklik as ’n planeet beskou is. Ceres is die grootste asteroïed en word nou as ’n dwergplaneet geklassifiseer. Alle ander asteroïede word as klein Sonnestelselliggame geklassifiseer, saam met komete, sentoure en trans-Neptunus-voorwerpe.

Ander, soortgelyke liggame is ná Ceres ontdek. Hulle het, nes sterre, soos ligpunte gelyk deur die ou instrumente van destyds. Hulle het geen protoplanetêre skywe gehad nie en is verder van sterre onderskei deur hul skynbare beweging. Dit het die sterrekundige William Herschel aangespoor om hulle "asteroïede" te noem. Volgens Clifford Cunningham is die term uitgedink deur Charles Burney jr., die seun van ’n vriend van Herschel. In Grieks is dit ἀστεροειδής, of asteroeidēs, wat beteken "steragtig" of "stervorming". Dit is afgelei van die Antieke Griekse woord ἀστήρ astēr, "ster" of "planeet". In die vroeë tweede helfte van die 19de eeu is die terme "asteroïed" en "planeet" (nie altyd as "kleinplaneet" uitgesonder nie) afwisselend gebruik.

Hier is ’n oorsig van die ontdekkingsgeskiedenis van asteroïede: 10 teen 1849 1 Ceres 1801 2 Pallas 1802 3 Juno 1804 4 Vesta 1807 5 Astraia 1845 (In 1846 is die planeet Neptunus ontdek.) 6 Hebe – Julie 1847 7 Iris – Augustus 1847 8 Flora – Oktober 1847 9 Metis – 25 April 1848 10 Hugiëia 12 April 1849 100 teen 1868 1 000 teen 1921 10 000 teen 1989 100 000 teen 2005 ~700 000 teen 2015

Historiese metodes duimnael|’n Kunstenaar se voorstelling van hoe ’n asteroïed uitmekaargeruk word deur die sterk swaartekrag van ’n witdwerg. duimnael|Die eerste foto van asteroïede: Ceres en Vesta, soos gesien van Mars af (Curiosity, 20 April 2014). Die metodes om asteroïede te ontdek het die afgelope twee eeue aansienlik verbeter.

In die laaste jare van die 18de eeu het die Hongaarse sterrekundige baron Franz Xaver von Zach ’n groep van 24 sterrekundiges op die been gebring om die lug te deursoek vir nog ’n planeet wat volgens voorspellings deur die Wet van Titius-Bode sowat 2,8 AE van die Son af sou gelê het. Hulle is deels aangespoor deur die ontdekking in 1781 van die planeet Uranus deur Herschel op ’n afstand wat deur die wet voorspel is. Dié taak het vereis dat kaarte van die lug met die hand getrek word, met alle sterre in die diereriem tot op ’n sekere ligsterkte daarop aangedui. Op daaropvolgende aande is weer kaarte opgestel en enige bewegende voorwerp sou dan hopelik bespeur kon word. Die verwagte beweging van die gesoekte planeet was sowat 30 boogsekondes per uur, wat maklik deur die waarnemers gesien sou kon word.

Die eerste voorwerp, Ceres, is nie deur ’n lid van die groep ontdek nie, maar eerder per ongeluk in 1801 deur Giuseppe Piazzi, direkteur van die Palermo-sterrewag in Sisilië. Hy het ’n nuwe steragtige voorwerp in die Bul ontdek en die beweging daarvan oor ’n paar aande dopgehou. Later daardie jaar het Carl Friedrich Gauss hierdie waarnemings gebruik om die wentelbaan van die onbekende voorwerp te bereken – daar is bevind dit lê tussen Mars en Jupiter. Piazzi het dit na Ceres, die Romeinse godin van die landbou, genoem.

Nog drie asteroïede (2 Pallas, 3 Juno en 4 Vesta) is die volgende paar jaar ontdek (Vesta in 1807). Ná nog agt jaar van vrugtelose soektogte het die meeste sterrekundiges aangeneem daar is nie nog nie en het hulle ophou soek.

Karl Ludwig Hencke het egter in 1830 na nog asteroïede begin soek. Vyftien jaar later het hy 5 Astraea, die eerste nuwe asteroïed in 38 jaar, ontdek. Hy het ook 6 Hebe minder as twee jaar later gevind. Daarna het ander sterrekundiges aan die soektog begin deelneem en minstens een nuwe asteroïed is toe elke jaar ontdek (behalwe in die oorlogsjare 1944 en 1945). Noemenswaardige asteroïedjagters van hierdie vroeë tydperk was J.R. Hind, Annibale de Gasparis, Robert Luther, H.M.S. Goldschmidt, Jean Chacornac, James Ferguson, Norman Robert Pogson, E.W. Tempel, J.C. Watson, C.H.F. Peters, A. Borrelly, J. Palisa, die Henry-broers Paul en Prosper, en Auguste Charlois.

In 1891 het Max Wolf astrofotografie begin inspan om na asteroïede te soek: Hulle het kort strepe op foto's met ’n lang beligtingstyd gevorm. Dit het die opsporingstempo van asteroïede drasties verhoog: Wolf alleen het 248 ontdek (die eerste een was 323 Brucia), terwyl voorheen maar net meer as 300 ontdek is. Sterrekundiges het geweet daar is nog vele, maar baie van hulle het nie eintlik belanggestel nie. Hulle het dit "goggas van die lug" genoem.Selfs ’n eeu later was net ’n paar duisend geïdentifiseer en genommer.

Vierstapmetode Tot in 1998 is asteroïede in ’n proses met vier stappe ontdek. Eers is ’n deel van die lug met ’n teleskoop met ’n wye veld, of astrograaf, gefotografeer. Twee-twee foto's is geneem, gewoonlik ’n uur uitmekaar. Verskeie sulke pare foto's kon oor ’n paar dae geneem word. Daarna is die twee films of plate van dieselfde deel van die lug onder ’n stereoskoop besigtig. Die posisie van enige voorwerp wat om die Son beweeg, sou effens verskil op die twee films. Onder die stereoskoop sou die beeld van die voorwerp lyk of dit effens bo die agtergrond van sterre sweef. Sodra ’n bewegende voorwerp opgespoor is, sou sy ligging relatief tot bekende sterliggings presies met ’n digitaliseringsmikroskoop gemeet word.

Met hierdie drie stappe is nog nie ’n asteroïed ontdek nie: Die waarnemer het bloot ’n verskynsel waargeneem wat ’n voorlopige naam gekry het – dié het bestaan uit die ontdekkingsjaar, ’n letter wat die halfmaand van die ontdekking aandui en nog ’n letter en nommer wat die volgorde van die ontdekking aandui (voorbeeld: ).

Die laaste stap was om die ligging en waarnemingstye na die Kleinplaneetsentrum te stuur waar rekenaarprogramme bepaal het of die verskynsel se wentelbaan ooreenstem met dié van vroeëre verskynsels. Indien wel, het die voorwerp ’n katalogusnommer gekry en die waarnemer van die eerste verskynsel met ’n berekende wentelbaan sou as die ontdekker aangewys word. Hy sou die eer kry om ’n naam vir die voorwerp te kies, onderworpe aan die goedkeuring van die Internasionale Astronomiese Unie (IAU).

Rekenaarmetodes omraam|regs|2004 FH is die middelste kol wat lyk of dit na regs beweeg; die voorwerp wat tydens die greep verbyflits, is ’n kunsmatige satelliet. duimnael|Kumulatiewe ontdekkings van net die nabyaardeasteroïede waarvan die grootte bekend is, 1980–2017.

Daar is ’n toenemende belangstelling in asteroïede waarvan die wentelbane die Aarde s’n kruis en wat enige tyd teen die Aarde kan bots. Die drie belangrikste groepe nabyaardeasteroïede is die Apollo's, Amors en Atens. Verskeie maniere om asteroïede van die Aarde weg te keer word al sedert die 1960's voorgestel.

Die nabyaardeasteroïed 433 Eros is al in 1898 ontdek en verskeie ander in die 1930's. In die volgorde van hul ontdekking is hulle: 1221 Amor, 1862 Apollo, 2101 Adonis en 69230 Hermes, wat in 1937 minder as 0,005 AE van die Aarde af verbygetrek het. Sterrekundiges het toe begin besef hoe groot die moontlikheid van ’n botsing met die Aarde is.

Twee gebeure in latere dekades het die kommer laat toeneem: die algemene aanvaarding dat ’n impak die Kryt-Paleogeen-uitwissing veroorsaak het, en die waarneming in 1994 van die komeet Shoemaker-Levy 9 wat teen Jupiter bots. Die Amerikaanse weermag het ook inligting gedeklassifiseer dat sy militêre satelliete, wat gebou is om kernontploffings op te spoor, honderde botsings in die boonste atmosfeer waargeneem het deur voorwerpe met ’n deursnee wat wissel van een tot 10 meter.

Al hierdie oorwegings het help lei tot hoogs doeltreffende opnames wat bestaan uit kameras en rekenaars wat die beweging van elektriese ladings kan waarneem en direk aan teleskope verbind is. In 2011 is geraam dat 89% tot 96% van die nabyaardeasteroïede met ’n deursnee van ’n kilometer of meer al ontdek is. Instrumente wat sulke stelsels gebruik, sluit in:

Lincoln Near-Earth Asteroid Research (LINEAR) Near-Earth Asteroid Tracking (NEAT) Spacewatch Lowell Observatory Near-Earth-Object Search (LONEOS) Catalina Sky Survey (CSS) Pan-STARRS NEOWISE Asteroid Terrestrial-impact Last Alert System (ATLAS) Campo Imperatore Near-Earth Object Survey (CINEOS) Japanese Spaceguard Association