Reynhard Tambos Maruli Tua Sinaga (gebore 19 Februarie 1983) is ’n Indonesiese reeksverkragter wat skuldig bevind is aan altesaam 159 seksuele misdrywe, insluitend 136 verkragtings van jong mans. Die misdade is tussen 2015 en 2017 in Manchester, Engeland, gepleeg, waar hy destyds gestudeer het.

Hy is skuldig bevind daaraan dat hy 48 mans gedurende hierdie tydperk gedwelm en seksueel aangerand het – waarvan hy 44 verkrag het, sommige herhaaldelik. Die polisie vermoed dat hy reeds jare tevore met die oortredings begin het. Hy is deur die polisie beskryf as “die homoseksuele verkragter”.

Sinaga is in vier afsonderlike verhore tussen 2018 en 2020 vervolg en is tot lewenslange tronkstraf gevonnis, met ’n minimum vonnis van 30 jaar, wat in Desember 2020 tot 40 jaar verhoog is. Die Britse vervolgingsgesag, die Crown Prosecution Service, het hom beskryf as die mees produktiewe verkragter in die geskiedenis van die Britse regstelsel.

Volgens die polisie het hy sedert 2005 – twee jaar voordat hy na die Verenigde Koninkryk gekom het – moontlik minstens 206 mans verkrag of seksueel aangerand. In Manchester het hy saans buite nagklubs, kroeë en soortgelyke plekke op potensiële slagoffers gewag en hulle genooi om saam met hom na sy woonstel te gaan. Daar het hy hulle gedwelm en verkrag. In sommige gevalle het hy selfs op WhatsApp gespog oor wat hy gedoen het.

Verwysings

Kategorie:Verkragters Kategorie:Geboortes in 1983 Kategorie:Lewende mense