Transgender swangerskap is die dra van een of meer embrio’s of fetusse deur trans mense. Dit is moontlik vir mense wat met 'n vroulike voortplantingstelsel gebore is. Behandelings wat met geslagsaanpassing verband hou, kan egter vrugbaarheid beïnvloed. Sosiale, mediese, regs- en sielkundige uitdagings staar ook trans mans en niebinêre persone wat swanger is of graag swanger wil word, in die gesig. Omdat die oorplanting van baarmoeders tans eksperimenteel is en nog nie suksesvol op trans vroue uitgevoer is nie, kan hulle nie swanger word nie.

Trans mans 160px|thumb|240px|Die swanger trans man Zack Elías en sy trans vrou, Diane Rodríguez.

Swangerskap is moontlik vir trans mans wat funksionerende eierstokke en ’n baarmoeder behou het, soos in die geval van Thomas Beatie Ongeag vorige hormoonvervangingsterapie (HVT), verloop swangerskap en geboorteprosedures gewoonlik dieselfde as dié van cisgender vroue. Geboorte-opsies sluit in konvensionele metodes soos vaginale geboorte en 'n keisersnee, en pasiëntvoorkeur moet in ag geneem word om gevoelens van genderdisforie, wat met sekere fisieke veranderings en sensasies verbind word, te verminder. Daar is getoon dat vorige HVT-gebruik nie 'n negatiewe uitwerking op ovariële stimulasie het nie.

Onder die wye verskeidenheid behandelings vir trans mans, insluitend chirurgiese en mediese ingrypings, bied sommige die moontlikheid om vrugbaarheid te bewaar, terwyl ander ’n mens se vermoë om swanger te word kan benadeel, soos 'n algehele histerektomie.

Uitwerking van hormoonvervanging Die aanhoudende gebruik van manlike hormoonterapie (testosteroon) word nie aanbeveel vir wanneer 'n trans man probeer swanger raak, swanger is of borsvoed nie. Dit is omdat 'n fetus, veral die urogenitale stelsel van 'n vroulike fetus, geskaad kan word deur hoë vlakke van eksogene testosteroon. Dit is veral belangrik in die eerste trimester, wanneer baie swangerskappe nog nie ontdek is nie.

Daarbenewens maak die afwesigheid van 'n menstruasiesiklus, 'n algemene newe-effek van hoormoonvervangingsterapie (HVT), dit moeilik om 'n vroeë swangerskap te identifiseer. Baie trans mans wat beplan het om swanger te word, verwag ses maande nadat testosteroonbehandeling gestaak is.

HVT vir trans mans laat uiteindelik vrugbaarheid afneem. Die voortdurende gebruik van testosteroon onderdruk die ovariële siklus. Dit veroorsaak ook die wegkwyning van die vagina en baarmoeder. Verder tas dit die eierstokke aan en lei dit tot 'n toenemende getal siste, fillikelatresie, oorgroeiing van die vrugbed en die vervanging van eierstokweefsel met kollageen. Die eierleiers van baie trans mans wat ondersoek is, was ook toe of gedeeltelik toe. Testosteroonbehandeling beïnvloed egter nie die getal beskikbare gamete (eierselle) nie.

Ondanks die uitwerking van testosteroon, is dit nie 'n doeltreffende voorbehoedmiddel nie. Trans mans en niebinêre mense wat die hormoon neem, kan steeds swanger word al menstrueer hulle nie meer nie. Trans mans kan teen hulle wil swanger word, veral as hulle dosisse misloop.

Geestesgesondheid Spesiale aandag aan die geestesgesondheid van trans mans tydens swangerskap is belangrik. Daar is voorheen aangetoon dat trans individue dikwels hoër vlakke van selfdoodneigings ervaar as cisgender persone en dat hulle minder sosiale ondersteuning uit hulle omgewing en familieverhoudings ontvang.

Volgens sommige trans mans het hulle genderdisforie en gevoelens van isolasie ervaar weens die publiek se reaksie op hulle geslagsidentiteit en drastiese veranderinge in hulle voorkoms tydens swangerskap, soos vergrote borste. Sommige het gesê hulle voel vervreem van hulle swanger liggame. Beide sosiale genderdisforie (wat verband hou met ander se persepsie) en fisieke genderdisforie (die persepsie van ’n mens se eie liggaam) kan voorkom terwyl ’n trans man swanger is.

Aborsie Die voorkoms van aborsie en die ervarings daarmee onder transgender en niebinêre mense is nie goed bestudeer nie. Onbeplande swangerskappe kan daartoe lei dat sulke mense selftoegepaste aborsies oorweeg of probeer uitvoer. Baie trans mans rapporteer dat hulle ’n selftoegepaste aborsie probeer doen het weens ’n gebrek aan veilige, doeltreffende aborsiemetodes.

Studies verskil oor die aborsiekoers onder trans mans. Verskillende studies toon dat tussen 12% en 21% van trans mans se swangerskappe in aborsies eindig. Sommige van hulle rapporteer dat hulle moes kies tussen 'n aborsie en selfmoord omdat swangerskap ondraaglike genderdisforie veroorsaak het.

Verwysings

Skakels

Kategorie:Voortplanting