thumb|200px|'n Dragtige manlike seeperdjie.
Manlike swangerskap is die ontwikkeling van een of meer embrio’s of fetusse deur organismes van die manlike geslag in sommige spesies. Die meeste spesies wat deur seksuele voortplanting voortplant, is heterogamies – vroulike organismes produseer groter gamete (ova) en manlike organismes kleineres (sperma). In byna alle dierespesies wat aan lewende kleintjies die lewe skenk, word die kleintjies deur die vroulike individu gedra tot by geboorte, maar in visse van die familie Syngnathidae (soos seeperdjies) verrig mannetjies dié funksie.
In diere Die visfamilie Syngnathidae het die unieke kenmerk van ’n hoogs ontwikkelde vorm van manlike broeisorg wat as "manlike swangerskap" bekend staan. Die familie is baie uiteenlopend en bevat sowat 300 verskillende spesies, soos die pypvis en verskeie soorte seeperdjies. Die mannetjies van sommige van dié spesies het ’n broeisak aan die bolyf of stert; by ander spesies word die eiers bloot aan die mannetjie se bolyf of stert geheg wanneer die wyfie dit lê. Alhoewel bioloë se definisies van swangerskap ietwat verskil, word alle lede van die familie deur kenners beskou as spesies wat manlike swangerskap toon – selfs dié sonder ’n eksterne broeisak.
Bevrugting kan in die broeisak of in die water voor inplanting plaasvind, maar in albei gevalle verseker manlike swangerskap volle vaderskapsekerheid. Ná inplanting in of op die broeisak of broeiplek, inkubeer die mannetjie die eiers. Baie spesies reguleer die vloeistof in die broeisak om ’n geskikte pH-vlak vir die ontwikkelende embrio’s te handhaaf. In minstens sommige spesies voorsien die mannetjie ook sy nageslag van voedingstowwe soos glukose en aminosure deur aanhegtingspunte in of aan sy liggaam.
Hierdie omkering van die gewone geslagsrolle is tot dusver slegs by pypvisse aangeteken, terwyl seeperdjies grotendeels as monogaam beskou word. Syngnathidae is die enigste familie in die diereryk waarop die term "manlike swangerskap" toegepas word.
In mense Ektopiese inplanting Die manlike geslag by soogdierspesies het nie 'n baarmoeder om kleintjies te dra nie. Die teoretiese saak van manlike ektopiese swangerskap (buite die baarmoederholte) deur chirurgiese inplanting is nog nie beproef nie, alhoewel dit teoreties moontlik is. Dit sou moeilik wees om te regverdig – selfs vir 'n vou wat sonder 'n baarmoeder gebore is – weens die geweldige gesondheidsrisiko's vir die kind én die ouer.
Robert Winston], 'n pionier van in vitro-bevrugting, het aan Londen se Sunday Times gesê: "Manlike swangerskap sal vir seker moontlik wees deur 'n embrio in 'n man se maag in te plant – met die plasenta geheg aan iets soos die ingewande – en dit later chirurgies te verlos." Dit sal egter baie gevaarlik en potensieel dodelik vir die man wees, en daarom is die kans skraal dat dit in die mens ondersoek sal word.
Swangerskap in transgender mans
Sommige trans mans verkies om swanger te word of hulle vrugbaarheid te behou. Dié met 'n werkende baarmoeder en eierstokke kan swanger word. Manlikehormoonterapie (MHT) laat vrugbaarheid afneem en sit die menstruasiesiklus stop, maar dit word nie beskou as 'n doeltrefende voorbehoedmiddel nie. Trans mans wat testosteroon neem, kan steeds swanger word al menstrueer hulle nie meer nie. Dié wat rekonstruktiewe chirurgie ondergaan, soos die verwydering van die baarmoeder of albei eierstokke, is onvrugbaar.
Verwysings
Skakels
Kategorie:Voortplanting