Satara is 'n groot en sentraal geleë ruskamp van die Krugerwildtuin. Dit is op die noordoewer van die Shitsikanaspruitjie aangeleë, en dus nie soos meeste ruskampe aan 'n aansienlike rivier of dam nie. Die omgewing is by wildtuingangers as leeuwêreld bekend, met 'n groot verskeidenheid wildsoorte. Weens die oop en plat basaltvlaktes om die kamp, is dit ideaal vir wildbesigtiging.
Ontstaan Satara was aanvanklik G.R. Healy se Wanetzi-veldwagterspos, en dié is sedert 1928 in 'n ruskamp van die suidsentrale Nasionale Krugerwildtuin omskep. Die naam Satara is van “satrah” afgelei wat “sewentien” beteken. Dit was naamlik die 17de terrein ("Satara 305") wat deur landmeter W.H. Gilfillian en sy Hindoe-assistent tydens hul werksaamhede suidwaarts van die Olifantsrivier afgemeet is.T.V. Bulpin (1975). The Transvaal
Gewone roetes Die kamp is naby die aansluiting van vier gewilde toeristeroetes naamlik die H7-roete weswaarts na Orpen, die H1-3 suidwaarts na Tshokwane, die H1-4 noordwaarts na Olifantskamp, en die S100, 'n grondpad, wat ooswaarts loop na die N'wanetsirivier. Na die noordweste is ook die S39-roete wat die loop van die Timbavatirivier volg, en by die Piet Groblerdam aandoen. Dit is die grootste betondam in die wildtuin en is in 1988 voltooi. Die Muzandzeni-piekniekplek is naby die sameloop van die Swenipad en S36-roete.
Stap- en viertrekroetes Die kamp bied begeleide staptogte, wildbesigtiging met oop voertuie asook 'n braai-in-die-bos.
Deelnemers aan die Mathikiti-wildernisstaproete word in die namiddag by Satarakamp deur hul stapgidse afgehaal. Drie nagte word dan by die Mathikiti-kamp aan die Mthakitispruit deurgebring.Mathikithi Wilderness Trail, Kruger National Park, Tripadvisor Slegs 6 viertrekvoertuie word daagliks op die Mananga-avontuurroete toegelaat. Dit begin 11 km oos van Satara en verken die knoppiesdoring- en maroelasavanne.Kruger 4x4 trails, SANPARKE webtuiste Dit is die hougebied van bontkwaggas, blouwildebeeste, buffels en verskillende roofdiere, insluitend jagluiperds.
Akkommodasie Satara bied oornagplek vir 980 persone in altesaam 298 kamers. Volop oornagplek is beskikbaar op 'n selfsorg-basis, in meer as 150 "bungalows", 10 kothuise met 6 beddens elk, of drie groot gastehuise vir 6, 9 of 10 persone.
Kampeerders wat die buitelewe verkies, het 'n keuse van staanplek vir 103 woonwaens of tente, 88 daarvan toegerus met 220V elektriese kragpunte en 15 sonder krag.SANPARKE se Kruger-webtuiste Kampeerders deel die ablusie- en kookgeriewe wat verskaf word in verskeie blokke.
Verder het Satara 'n aparte area vir dagbesoekers, indien hulle wil braai of piekniek hou by die kamp.
Geriewe 'n Puik restaurant met 'n dameskroeg op 'n vergrote stoepsitarea, asook wegneemetes soos hamburgers en pizza's. Kampwinkel met aandenkings, geskenke, self-medikasie, naslaanboeke en padkaarte, klerasie en alle basiese voedsel en dranke Outomatiese wasmasjiene Selfoonontvangs Vulstasie met ligte werkswinkel
Gesondheidsrisiko Die tropiese siekte malaria kom in die Laeveld voor, en besoekers moet die nodige voorsorg daarteen tref. 'n Dokter, apteker of reisburo kan geraadpleeg word.
Verwysings
Kategorie:Krugerwildtuin